Paar weke van wenners op RSG


Die room van die oes! Dit is wat RSG se luisteraars vanaf Donderdag 21 Mei kan verwag wanneer die jaarlikse “seisoen van die wenners” afskop.

Ja, Radioteater gaan die volgende paar weke aan die wendramas van 2019 se RSG en Sanlam radiodrama-skryfkompetisie gewy word. Daar is ‘n huisbesoek, ‘n handvol troepies bo-op ‘n trein se dak, ‘n kind wat ongevraag kom kuier en ‘n lyk wat vir dae lank konsternasie veroorsaak.

Daar was verlede jaar altesame agttien finaliste en die beoordelaars wat die tekste anoniem beoordeel het, het laat weet dat al die finaliste potensiële wenners kon wees. Al word die vier wenners eersdaags gehoor gaan word, gaan RSG steeds poog om al die finaliste se stories uit te saai.

Luisteraars wat dan ook aan vanjaar se kompetisie wil deelneem, sal nou die kans kry om ‘n hele paar wenstories te hoor. Al is dit tans nie toelaatbaar om slypskole (in groepe) aan te bied nie, kan voornemende skrywers deur die luister na wendramas hoor hoe klink ‘n storie wat bekroon is.

Donderdag 21 Mei om 20:00

Jong Skrywer (prys vir skrywer jonger as 30 jaar)

Wilmi Wheeler

Die Huisbesoek deur Wilmi Wheeler

Celia is ‘n middeljarige vrou wat huweliksprobleme ondervind. Sy ontbied dan die hulp van ‘n jong, onervare vroue-predikant van ‘n klein landelike gemeente. Die gesprek verloop egter nie enduit soos wat die jong leraar gehoop het dit sal nie. Selfs die luisteraar sal nie seker wees waar hierdie storie gaan eindig nie.

Dit is Wheeler se debuut-radiodrama en sy is ’n predikantsvrou van Bellville in die Wes-Kaap.

Dit is ‘n slim, sielkundige drama met spelleiding deur Christelle Webb-Joubert. Die spelers is Rika Sennett, Cindy Swanepoel, Dawid Minnaar en Ria Smit.

Donderdag 28 Mei om 20:00

Derde Plek

Lee Doubell

Koue Kaiings deur Lee Doubell

Hier is ‘n spookstorie met ’n verskil… Vyf jong mans is in 1975 per trein onderweg na Upington om diensplig te gaan verrig. Hulle ontmoeting en belewenis op die trein word aangebied in die vorm van ’n terugflits waar Sakkie as sestigjarige in gesprek is met twee van sy makkers, Soutie en Simson, wat op die grens dood is in ’n landmynontploffing.

Johan Rademan is die regisseur en reken die stuk is ‘n tydige storie wat as ‘n soort drieluik by flieks soos Kanarie en Moffie kan aansluit. Die spelers sluit in die veteraanakteur Chris van Niekerk, De Klerk Oelofse, Wilhelm van der Walt, Martin Venter, Jacques Bessenger, Leon Kruger en Conradie van Heerden.

Lee Doubell is ook bekend om sy middag-vervolgverhaal Wild en Woeker, tans op RSG, asook die wendrama Rommel rommel.

Donderdag 4 Junie

Tweede Plek

Zelda Bezuidenhout

As ‘n kind kom kuier deur Zelda Bezuidenhout

Elna is ’n weduwee en besig om weens kanker te sterf. Sy is alleen in ’n woonstel in Northcliff, Johannesburg. Een aand saam met haar versorger, Vanessa, word hulle deur ’n inbreker “besoek.” Dollar, oftewel Stefan van Zyl, is haweloos en kruip dadelik in Elna se hart. Dit word ’n besoek wat hulle al drie se lewens ingrypend verander…

Joanie Combrink is die regisseur met Antoinette Kellerman in die rol van Elna. June van Merch kan as Vanessa gehoor word. Die ander spelers is Daneel van der Walt, De Klerk Oelofse en Pierre Nelson.

Zelda Bezuidenhout was ‘n kopieskrywer en het in die middel van 2017 haar eerste boek, As mens geluk kon eet, geskryf. Dit is as naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie bekroon. Later het gevolg Die 6 weke van Thomas en Ella asook haar volwasse roman, Die dekonstruksie van Retta Blom.

Donderdag 11 Junie

Eerste Plek

Karin du Toit

Die lyk deur Karin du Toit

Die drama handel oor Trudie wat vir jare lank fisies en emosioneel deur haar man aangerand is. Een aand, tydens ‘n hewige argument, steek sy hom met ‘n mes in die rug. Sy en haar volwasse seun, Francois, moet planne beraam om van die lyk ontslae te raak, maar sit met die bemoeisieke buurvrou Charmaine wat alles raaksien én –luister. Dit is ‘n gitswart komedie wat enduit boei met humoristiese en natuurlike radiodialoog.

Du Toit is ‘n oogkundige (39) van Vanderbijlpark en dit is haar debuutdrama.

Renske Jacobs is die regisseur met die aktrise en kabaretsangeres Elzabé Zietsman in die rol van Trudie. Die ander spelers is Cobus Venter, Eloise Cupido, Hannes Muller, David Louw, Mari Molefe van Heerden en Ria Smit.