R115000 se prysgeld vir nuwe radiodramas


RSG en Sanlam bederf radioskrywers vanjaar met prysgeld van meer as R100 000. Die gewilde RSG en Sanlam radiodrama-skryfkompetisie word vanjaar vir die 24ste keer aangebied en sluit ook weer gratis slypskole in.

Die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie se prysgeld is vanjaar verhoog tot R115 000 wat beteken dat die wendrama R50 000 sal ontvang. Dié jaarlikse kompetisie kan bestempel word as die oudste dramakompetisie in Suid-Afrika wat vir bykans ‘n kwarteeu Afrikaanse radiodrama bevorder en beloon. Die kompetisie ontvang elke jaar tussen 120 en 130 nuwe radiodramas.

Nog ‘n nuutjie is ‘n bykomende merieteprys van R10 000 wat deur die beoordelaars gekies word uit die finaliste wat nie die vier toppryse ingepalm het nie.

Die wendrama kry dus R50 000, terwyl die tweede en derde plek met prysgeld van onderskeidelik R25 000 en R15 000 bekroon sal word. Die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal ook R15 000 ontvang. Buiten die prysgeld word die wendramas ook op RSG uitgesaai.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Vrydag 31 Julie 2020.

Daar is geen voorgeskrewe tema nie, solank dit net ‘n nuwe en oorspronklike radiodrama is. Geen verwerkings van bestaande materiaal of verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

Die volle spektrum van Afrikaans kan gebruik word, maar die inskrywings word beperk tot slegs een radiodrama per persoon.

Die duur van die dramas moet tussen 40 en 50 minute wees – sowat 40 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is.

‘n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Daar is ook ‘n spesiale blad met skryfwenke vir nuweling-skrywers, asook diegene wat graag hul skryftalent wil skaaf.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen tien en agttien tekste gekies wat dan met die hulp van ‘n mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan dan hul tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Daar sal weer gratis radiodrama-skryfskole in samewerking met Sanlam in Kaapstad én Johannesburg aangebied word en meer besonderhede sal op RSG (100 tot 104 FM) aangekondig word.

Volgens Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur: drama, voed die kompetisie terselfdertyd die Afrikaanse kunstebedryf en selfs gevestigde skrywers en dramaturge getuig van die “lewensveranderende ervaring” wat hul deelname en die leiding aan hulle gebied het. “Die gratis slypskole, in samewerking met Sanlam, is ook van onskatbare waarde. Een van die finaliste van 2019 het ‘n kort, uurlange slypskool bygewoon en met die nodige ywer ‘n radioteks geskryf wat die beoordelaars verstom het.”

Verlede jaar se wen-dramas word van Donderdag 2 April in Radioteater op Donderdae om 20:00 op RSG uitgesaai. Die eerste drama aan die beurt is Wilmi Wheeler se Die huisbesoek, gevolg deur Lee Doubell se Koue kaiings.

Besoek RSG se webblad by www.rsg.co.za om op hoogte te bly.

Klik hier om die RSG-RADIODRAMA-HANDLEIDING-2020 af te laai. 

Klik hier vir ‘n reeks skryfwenke vir voornemende radiodrama-skrywers of luister na ‘n oudio-slypskool.

Vir meer navrae stuur ‘n e-pos aan margaret@rsg.co.za