Begeertes borrel na bo in nuwe familiesage


‘n Familiesage wat in die Jakarandastad afspeel en propvol liefde en hoop is… Dit is RSG se nuwe middagstorie, van Maandag 1 Junie, elke weeksmiddag om 14:45.

Die Lingerfelders volg op Wild en Woeker en word geskryf en in Johannesburg opgevoer deur Mari Snyman, ook bekend om die radioreeks Bure.

Die storie en karakters

Die Lingerfelders bly in Pretoria: Jakarandastad (al het Jozi meer jakarandabome): Afrikaner-bakermat.

Heidi Mollentze

Anton Schmidt

Die gesin is bevoorreg, danksy die die feit dat die patriarg, Chris (Anton Schmidt), ‘n ‘self-made man’ is, wat goed vir sy gesin sorg. Hy en sy vrou Bets (Heidi Mollentze) is getroud toe hulle baie jonk was. Hulle het oor die jare van mekaar verwyder geraak, maar beide hou ‘n front voor.

Pietie Beyers

Hulle enigste biologiese kind, Danny (Pietie Beyers), is die appel van sy ma se oog, maar die doring in sy pa se vlees. Hy is ‘n kunstenaar. Danny is ‘n pasifis, maar het onderliggende wroegings.

Eloise Cupido

Hulle aangenome dogter, Pearl (Eloïse Cupido), het nooit haar biologiese ma geken nie, en sy wil, onvermydelik, uitvind wie en wat sy is. Sy draai nie doekies om nie, en sy sê net wat sy wil. Volgens Bets maak sy nie altyd die regte keuses nie, maar in Chris se oë kan sy min verkeerd doen.

Donovan Pietersen

Haar aan/af kêrel, Shaun (Donovan Pietersen), lok gemengde gevoelens by haar gesin uit.

Rina Nienaber

Dan is daar Aletta (Rina Nienaber), Bets se aktrise-ma. Sy is onkonvensioneel en onbevange – heeltemal anders as Bets – en met haar is daar, soos die Engelsman sê, ‘never a dull moment’.

Riana Wilken

Chris se ma, Janet (Riana Wilkens), het hom alleen grootgemaak. Sy bly in ‘n versorgingseenheid vir bejaardes. Hy sien haar nie gereeld nie, maar sorg goed vir haar. Wanneer Aletta met haar bevriend raak, is die gort gaar.

Elma Potgieter

Elvera (Elma Potgieter) is Chris se persoonlike assistent – vir baie jare al – asook sy vertroueling. Sy is die een mens wat weet hoe sy kop werk. Daar is geen sprake van ‘n affair nie – nie fisies nie. Maar daar is natuurlik iets soos emosionele ontrouheid.

Anton Dekker

Elvera is in ‘n verhouding met Dieter (Anton Dekker). Hy is ‘n bombastiese man, ‘n chauvinis en hy ly haar ‘n lewe. Hoekom sy by hom bly, gaan Chris te bowe. Elvera kan dit self nie regtig verduidelik nie.

Paul Luckoff

Ander karakters is Roelf (Paul Lückhoff). Hy is ook ‘n akteur en Aletta se goeie vriend. Hy is al jare lank verlief op haar, maar Aletta stel nie belang nie.

Ilse Klink

Dan is daar Alice (Ilsé Klink), Pearl se biologiese ma. Wanneer Pearl haar uiteindelik ontmoet (sy is ‘n oud-vriendin van Aletta), vind Pearl uit hoekom haar ma haar deur die Lingerfelders laat aanneem het.

Die verhaal spreek mense se behoeftes, begeertes, teleurstellings, hoop en liefde aan. Die karakters is uiteenlopend, maar hulle lewens is almal vervleg.