Brulsand tot dusver


RSG se middagvervolgverhaal BRULSAND deur Charles J Fourie is nou net so oor die halfpadmerk.

Met twee van die karakters is reeds dood en een vermis, is daar hope intrige en spanning in dié vervolgverhaal wat elke Maandag- tot Vrydagmiddag, 14:45 (net voor SPITSTYD) uitgesaai word. (HERHALING: Maandag 01:00 – Deurnag op RSG.)

Hier is wat tot dusver gebeur het:

Agtergrond opgesom

Die storie speel af teen die agtergrond van ’n fiktiewe dorpie iewers diep in die Noord-kaap duskant die Witsand Natuurreservaat, waar die wêreldbekende Kalahari brulsand voorkom.

Vandaar die Noord-Kaapse aksent van sommige van die karakters soos kaptein Dalene Jafta en haar dogter, Jolene, speur-sersant Herbert Jantjies en Dirk Dippenaar. Hulle is almal in daardie deel van die wêreld gebore en getoë. Die res van die karakters bly al lank op die dorp, maar hulle is almal ‘inkommers’ wat jare gelede soontoe getrek het.

Op die oppervlak is dit ‘n vreedsame dorp en is daar selfs planne om ’n nuwe nedersetting te ontwikkel om inwoners uit die stad te lok. Dan word die skynbare plattelandse rustigheid verbreek wanneer een van die inwoners deur ‘n swart mamba doodgepik word. En nog ‘n week later word die hoof van sekuriteit na bewering deur ‘n klomp veediewe doodgekiet. Die gebeurtenisse laat die vernis-laag vinnig kwyn en bring die dorp se inwoners in rep en roer.

Die Rolverdeling – opgesom:

Belinda Leroux – Henrietta Gryffenberg
50 jaar oud en getroud met Basjan. Sy besit die gastehuis op die dorp. Haar dogter is Ansie Leroux.

Basjan Leroux – Lochner de Kock
55 jaar oud. Sakeman op die dorp met heelwat belange en ook politieke aspirasie. Getroud met Belinda Leroux.

Ansie Leroux – Carmin Coetzer
25 jaar oud. Dogter van Belinda en Basjan. Sy help haar ma uit by die gastehuis. Sy is in ‘n verhouding met Francois Conje.

Christa Cronje – Heidi Mollentze
45 jaar oud. Plaaslike eiendomsagent wat in die geheim ’n verhouding met Basjan Leroux het. Vroeer het sy en Jakob Maritz ‘n affair gehad en lank terug was Fanie Louw haar romantiese afleiding. Sy is die ma van die joernalis, Francois Cronje.

Francois Cronje – Pietie Beyers
25 jaar oud. Die pas-aangestelde plaaslike distriks-koerantjoernalis. Sy ma is Christa Cronje. Hy en sy ma het ’n noue verhouding, en hy sleep vlerk by Ansie le Roux.

Dalene Jafta – Eloise Cupido
50 jaar oud. Hoof by die plaaslike polisiestasie. Sy is geskei van haar man Chris Jafta wat tans iewers in Kaapstad woon. Sy ken die inwoners se talle geheime maar hou meesal die stories vir haarself. Haar dogter is Jolene Jafta.

Jolene Jafta – Sue Pyler
25 jaar oud. Haar ma is die polisiehoof op die dorp. Sy werk ook by die gastehuis in die kombuis en is ’n talentvolle sjef wat graag haar eie restaurant eendag wil besit.

Herbert Jantjies – Johny Klein
30 jaar oud. Jong speurder van Upington wat die eerste moordsaak op die dorp kom ondersoek. Hy is jare gelede deur kaptein Dalene Jafta opgelei as speur-sersant.

Fanie Louw – Anton Dekker
60 jaar oud. Verkoopsman van die lang pad. Fanie moet twee keer ’n maand in die distrik kom bestellings neem. As hy die distrik besoek slaap hy oor by die gastehuis.

OORLEDE Jakob Maritz – Martin Jansen
60 jaar oud. ’n Afgetrede wynboer.

OORLEDE Dirk Dippenaar – David Louw
40 jaar oud. Plaaslike sekuriteitsfirma-eienaar en hy werk ook vir Basjan Leroux en is baie lojaal teenoor sy baas. Hy is ’n man van min woorde en baie geheime.

Karakters en storielyn:

Die sentrale lokaliteit is ’n gastehuis met ’n restaurant. Die gastehuis behoort aan Belinda Leroux (Henrietta Gryffenberg) – vrou van die hoof sakeman op die dorp, Basjan Leroux (Lochner de Kock). Hulle dogter is Ansie Leroux (Carmin Coetzer) – sy werk by die gastehuis. Die aantreklike enkel-ma, Christa Cronje (Heidi Mollentze), is die plaaslike eiendomsagent wat ook vir Basjan bystaan met planne om ’n moderne woonkompleks buite die dorp op te rig.

Christa en Basjan het al vir ‘n ruk lank ‘n buite-egtelike verhouding. Wanneer Belinda – ‘n rehabiliteerde alkoholis – dit vermoed begin sy weer drink, kondig aan dat sy van Basjan wil skei en probeer dan selfmoord pleeg in ‘n winkelsentrum in Upington. Sy word na ‘n rehabilitasiesentrum gestuur vir ‘n ruk, en wanneer sy uitkom, het sy skynbaar vrede gemaak met die situasie… of het sy?

Christa se seun, Francois Cronje (Pietie Beyers) en Ansie is in ‘n verhouding. Francois is pas aangestel as distriks-joernalis en is ywerig om te begin werk. Hy beplan om te skryf oor Basjan se ontwikkeling, maar wanneer vreemde dinge op die dorp begin gebeur, gee hy gretig en veel eerder aandag aan hierdie sappige stories… Intussen raak Ansie en Francois verloof, maar as gevolg van hulle ouers (Basjan, Belinda en Christa) se skandes en bakleiery en al die spanning wat dit veroorsaak, verbreek Francois die verlowing na ‘n paar weke.

Maar dit doen hy eers na een van die inwoners, Jakob Maritz (Martin Jansen) – ‘n afgetrede boer wat vir ‘n paar jaar al op die dorp bly – ‘n swart mamba in sy kweekhuis ontdek. Die slang pik hom, hy sterf en dit veroorsaak dadelik ‘n groot onrustigheid onder die dorp se mense, omdat swart mambas nie eintlik in hierdie deel van die wêreld voorkom nie. Niemand kan ook verklaar hoe die mamba by Jakob se kweekhuis ingekom het nie, aangesien die kweekhuis se deur dig sluit wanneer mens dit toemaak.

Die distrik se polisie-hoof, Dalene Jafta (Eloise Cupido) moet dan ook bontstaan om die situasie te hanteer, en sy laat vir speur-sersant Herbert Jantjies (Johny Klein) van Upington kom om te help met die ondersoek. Herbert en Dalene ken mekaar al lank – sy het hom destyds as speur-sersant opgelei.

Dalene se dogter, Jolene Jafta (Sue Pyler) werk ook by die gastehuis vir Ansie se ma. Jolene het egter drome om eendag haar eie restaurant op die dorp te vestig en ’n meester veldkos-sjef te word. Omdat Herbert destyds Dalene se ‘student’ was, ken hy vir Jolene ook goed. Hy het haar egter laas gesien toe sy nog op skool was, dus is hy aangenaam verras om te sien dat sy nou ‘n pragtige jong dame is.

‘n Paar dae voor Herbert arriveer, word Dirk Dippenaar (David Louw) – die plaaslike sekuriteitsfirma-eienaar wat ook vir Basjan Leroux werk – as vermis aangemeld. Dit nadat hy op sy eie gaan soek na veediewe wat in die omgewing bedrywig is. Sy lyk, met ‘n aantal skietwonde, word ‘n dag later op Basjan se grond ontdek – die deel wat Basjan kort voor Jakob se dood uiteindelik by Jakob gekoop gekry het.

Jakob het vir lank aan daardie stukkie grond geklou en was traag om die koopkontrak te teken. En die rede vir die traagheid? Christa Cronje. Sy het in ‘n stadium ‘n verhouding met Jakob gehad, en omdat Basjan en Christa nou ‘n paartjie is, was hy jaloers want hy was al die jare steeds dolverlief op Christa.

Die ander mens waarmee Christa ook, vlugtig, ‘n fling gehad het, is Fanie Louw (Anton Dekker) – verkoopsman van die lang pad. Mens kan maar sê Fanie is ‘n semi-inwoner van, nie net die dorp nie, maar ook die gastehuis. Fanie moet twee keer ’n maand in die distrik kom bestellings neem. As hy die distrik besoek, slaap hy oor by die gastehuis. Altyd in dieselfde kamer.

Fanie dink egter nou aan aftree, en hy oorweeg dit om ‘n eenheid in Basjan se ontwikkeling te koop. Maar om seker te maak hy maak die regte besluit, kom hou hy eers vir agt weke vakansie… in die gastehuis. Hy begin nou egter stadig maar seker op almal se senuwees werk, en daar is nog n hele paar weke se ‘vakansie’ oor…

Anton Dekker (Fanie Louw) en Heidi Mollentze (Christa Cronje)

Dis ‘n goeie ding speur-sersant Jantjies is hier op die dorp, want sedert Francois en Ansie hulle verlowing verbreek het, het Francois soos ‘n groot speld verdwyn. So nou is daar twee dooies en een vermiste – en dit alles het oor die bestek van ‘n maand en ‘n half in hierdie klein dorpie gebeur… iewers diep in die Noord-kaap, duskant die Witsand Natuurreservaat, waar die wêreldbekende Kalahari brulsand voorkom.

Pietie Beyers (Francois Cronje) en Anton Dekker (Fanie Louw)

Sue Pyler (Jolene Jafta), David Louw (Dirk Dippenaar), Johny Klein (sper-sersant Herbert Jantjies)

Renske Jacobs (Regisseur) is regs voor, met Henrietta Greyffenberg en Lochner de Kock.

VERMIS: Pietie Beyers (Francois Cronje)

Kloksgewys van links na regs: Johny Klein, Anton Dekker, Carmin Coetzer, Eloise Cupido en Henrietta Gryffenberg

Lees ook:

Nuwe middag vervolgverhaal = Brulsand