Wild en Woeker begin Vrydag


Ons  nuwe middagvervolgverhaal, Wild en woeker, het op Vrydag 6 Maart om 14:45 begin.

Lee Doubell

Wild en woeker deur Lee Doubell, RSG se nuwe middag-vervolgverhaal, is ‘n gesinsdrama wat afspeel teen die agtergrond van transito-rooftogte en die bendegeweld op die Kaapse Vlakte. Twee gesinne – een in Bellville en die ander in Belhar – se paaie kruis en die ma’s probeer begryp waarom hul seuns by hierdie soort misdaad betrokke geraak het.

Die skrywer Lee Doubell is ‘n veelbekroonde radiodramaturg, bekend om Rommel, rommel wat die gesamentlike wenner was van RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2017. Later het gevolg Grootpad na Kleinkop asook Koue kaiings, wat later vanjaar op RSG uitgesaai word. Laasgenoemde het die derde plek gewen in verlede jaar se radiodrama-kompetisie.

Die rolverdeling sluit in June van Merch, Juanita Swanepoel, Leon Kruger, Charlton George, Jacques Bessenger, Cintaine Schutte, Dean Balie, Daneel van der Walt, Lee Roodt en Conradie van Heerden. Die regisseur is Frieda van den Heever met Cassi Lowers as die tegniese regisseur.

Luister van Vrydag 6 Maart, elke weeksmiddag om 14:45 na hierdie nuwe middag-storie.

Hier is die eerste drie episodes:

WILD EN WOEKER deur Lee Doubell – Episode 3
Dinsdag 10 Maart 2020

Terwyl dokters werk om Pieter te stabiliseer, sukkel die Steenberg-familie om te verstaan wat gebeur het. Jakes bel vir Johan op Ben se foon, en lê sy planne uit vir die volgende transitorooftog. Chanel kom haal die manne om te help want Ma het inmekaar gesak.

Die storie

Binne-in die Kaapse Vlakte

Johan Steenberg is weer op vrye voet na die uitdiening van sy vonnis, en moet sy plek vind in die famille wat vir ʼn dekade sonder hom klaargekom het. Sy vrou, Chanel, het intussen as haarkapper gekwalifiseer. Haar werk by ʼn salon laat haar finansieel en emosioneel onafhanklik van haar man staan.

Johan se seun Pieter, het oor die afgelope tien jaar in ʼn hardkoppige tienerseun verander. Hy ken sy pa glad nie en stel op die oog af nie belang om hom te leer ken nie.

Ben Steenberg, Johan se jonger broer, werk by Cash Move, die transito-maatskappy wat Johan en die Vinnige Boys-bende, ʼn dekade vroeër beroof het. Die broers sukkel om weer oor die weg te kom, al was hulle voor die mislukte transitorooftog baie na aan mekaar gewees.

Ma, in wie se gedagtes Johan ʼn gevalle engel is, probeer steeds soos die matriargale heerser van die familie optree.


Voor Johan se vrylating maak die Vinnige Boys-bende seker dat hy goed verstaan dat hy sy lewe aan hulle te danke het. Johan weet dat hy die tien jaar in die tronk slegs oorleef het omdat hy die bende se beskerming geniet het.

Jakes, die leier van die Vinnige Boys-bende, verwag dat Johan by Ben informasie oor sy werk by Cash Move moet inwin. Die bende beplan ʼn groot transitorooftog.

Jakes Apollis se moeder, Bettie, voer ʼn sukkelbestaan en moet op haar pensioen en die barmhartigheid van haar bure steun om te kan oorleef. Haar sterk geloof maak van haar ʼn opregte en diep eerlike mens.

Die storie speel af teen die agtergrond van twee families wat probeer verstaan waarom van hulle kinders by transitorooftogte betrokke is.

Bettie en Johan se ma ontmoet, en vorm saam ʼn formidabele front teen die beplande rooftog. Hulle slimste planne kan egter nie die transitorooftog keer nie.

En so woeker almal voort. 

Rolverdeling

Leon Kruger

Johan Steenberg – Leon Kruger
In sy laat dertigs, ‘n oudgevangene wat teen sy sin ‘n transitorower geword het en daarvoor ‘n vonnis uitgedien het. Hy is desperaat om weer sy familie terug te wen.

Jacques Bessinger

Ben Steenberg – Jacques Bessenger
In sy vroeë dertigs, selfversekerd. Hy werk hard om die Steenberg-familie bymekaar te hou en hy is eerlik in sy interaksie met almal.

Daneel van der Walt

Chanel Steenberg – Daneel van der Walt
In haar laat dertigs, Johan se vrou, ‘n haarkapper, skepties oor Johan se terugkeer en sy motiewe.

Maria Steenberg – Juanita Swanepoel
In haar sestigs. Johan en Ben se ma, die matriarg van die familie. Haar seuns en familie is alles in haar lewe.

Conradie van Heerden

Pieter Steenberg – Conradie van Heerden
Hy is ‘n tipiese tienerseun. Hy is baie hardkoppig en teësinnig om sy pa te leer ken nadat hy hom tien jaar laas gesien het.

Charlton George

Jakes Apollis – Charlton George
In sy laat dertigs, die bendeleier van die Vinnige Boys. ‘n Berugte misdadiger wat steeds bendebedrywighede vanuit die tronk bestuur.

June van Merch

Bettie Apollis – June van Merch
In haar laat sestigs, Jakes se ma. Sy is diep gelowig en hardwerkend maar brandarm. Sy is teleurgesteld in die pad wat haar seun gekies het, alhoewel haar man en sy pa ook bendeleiers was.

Cintaine Schutte

Adri – Cintaine Schutte
In haar vroeë dertigs, ontvangsdame by Cash Move. Sy en Ben is al ‘n paar jaar saam, sy het wees grootgeword en die standvastigheid van ‘n familie is vir haar belangrik.

Dean Balie

Johnny – Dean Balie
In sy vroeë twintigs, gretig om naam vir homself te maak as lid van die Vinnige Boys.

Lee Roodt

Steve – Lee Roodt
In sy vroeë dertigs, Jakes se tweede-in-bevel binne en buite die tronk, gevaarlik en strydlustig.

Die regisseur Frieda van den Heever

Agter van links na regs: Frieda van den Heever (regisseur), Leon Kruger, Daneel van der Walt en Jacques Bessenger. Voor is Juanita Swanepoel, Charlton George en June van Merch.

Agter van links na regs: Juanita Swanepoel, Frieda van den Heever (regisseur), Leon Kruger, Daneel van der Walt en Jacques Bessenger. Voor is Dean Balie, Conradie van Heerden en Charlton George.

June van Merch en Juantia Swanpoel in aksie