Luister weer: Huisbesoek


DIE HUISBESOEK is op Donderdag 21 Mei uitgesaai.

Wilmi Wheeler is die wenner van die prys vir jong skrywers in die RSG/Sanlam radiodrama kompetisie van 2019.

DIE STORIE

Celia roep in die vroeë oggendure die hulp van hulle jong dominee op die dorp in. Sy het pas ontdek dat haar man, Paul ‘n verhouding het. Terwyl die dominee vir Celia probeer oorreed om nie haar man om die lewe te bring nie, dink sy terug aan gebeure uit hulle verlede.

DIE SKRYWER – Wilmi Wheeler

Wilmi Wheeler

Sy vertel: “Ek het grootgeword en skoolgegaan in die platteland, in ‘n klein Vrystaatse dorpie, Bultfontein. Na skool het ek joernalistiek studeer by Kovsies en begin werk as ‘n vryskut skrywer. Ek doen tans nog vryskut skryfwerk in die Kaap vir plaaslike publikasies en Livingston Research, ‘n Amerikaanse gebaseerde maatskappy. Verder, het ek my passie vir skryf op ‘n jong ouderdom al ontdek, en dit is wat ek vir die res van my lewe wil doen.

Die Huisbesoek is my eerste radiodrama. Ek het die slypskool in Kaapstad, in 2019 bygewoon. Die slypskool is ‘n briljante inisiatief, veral vir onervare skrywers, om hulle voor te berei vir die veld van radiodrama.

Die mentorskap wat ek ontvang het, het net soveel vir my beteken. Aangesien ek nog nie veel ervaring as ‘n radiodrama-skrywer besit nie, het my mentor, Eben Crywagen, moontlikhede vir verbetering raakgesien, en verder advies gegee oor hoe ek my drama kan skaaf om my kanse in die kompetisie te verbeter.”

DIE REGISSEUR – Christelle Webb-Joubert

Christelle Webb-Joubert

Die storie speel in ‘n kwessie van ‘n paar uur af. Dis eenvoudig tog kompleks. Groot dele van die teks is ‘n gesprek tussen Celia en die dominee. Die grootste uitdaging bly maar om die luisteraar se aandag te behou.

Gewoonlik kan ek dadelik hoor as musiek net eenvoudig pas by ‘n stuk, maar in Die Huisbesoek se geval wou niks pas nie. Ek het dus doelbewus besluit om geen musiek te gebruik nie, behalwe met die uitsondering van een toneel. Met die dag van opname, en na dit wat die akteurs my gegee het, het ek net geweet die stuk WIL nie musiek hê nie.

DIE AKTEURS

Rika Sennett

RIKA SENNETT – Celia

Rika het al ‘n paar keer vir my gespeel, maar dit was gewoonlik die rustige ma of ouma karakters. Die sagmoedige en liefdevolle vrou. Celia is heeltemal die teenoorgestelde.

 

CINDY SWANEPOEL – Dominee

Cindy Swanepoel

Cindy word weekliks gehoor as Beverly in Hartebrekers op RSG en is weeksaande op die kassie as Dr. Annelize Roux-Koster. Ek wou hê sy moet iets heel anders doen as die rolle waarvoor sy bekend is. As stemkunstenaar is dit ‘n kuns, want jy het net jou stem.

 

Dawid Minnaar

PAUL – Dawid Minnaar

Ek is so bly hy kon weer speel vir die radio. Ons het hom vir ‘n wyle nie gehoor nie. Dawid is altyd professioneel en uiters goed voorberei.

LIDA – Ria Smit

Ria Smit

Ria maak ‘n blitsverskyning in die stuk, maar gelukkig is daar nie iets soos klein rolletjies in ons bedryf nie.

Die akteurs en die regisseur