Vers en Klank op Kersdag oor geboorte, hoop, menswees…


Vers en Klank 25 Desember 2020

Ingeperk vir ons

“… a thrill of HOPE, the WEARY world REJOICES …” só lui die woorde uit die bekende “O Holy Night”. En hoe vuisvoos is ons wêreld nie na hierdie jaar nie! Hoe desperaat vir ‘n sprankie hoop.

God – die Een wat onbegrensd is, wat sonder perke is – het gekies om ingeperk te word vir ons. Om ingeperk te word binne ‘n liggaam. Met ‘n hart en ‘n siel en verstand en beperkinge … Hy kén van inperking, Hy het dit beleef en bemeester. Hy trek Hom dit toe aan, soos Petra Müller geskryf het … in al Sy breekbare broosheid. In sagte Almag. In die mees weerlose van gedaantes, dié van ‘n mens.  ‘n Babamens.  Seun van die mens.  Daar’s niks meer hulpeloos, meer nederig, meer kwesbaar as om gebore te word nie:  kaal, nie veel groter as ‘n gebakte brood nie, spartelend, soekend na asem, blootgestel aan lig en donker soos jy dit nog nooit vantevore ervaar het nie. Hy het, in soveel woorde (maar veel meer met sy dade) vir ons kom sê: Dit is, alles in aggenome, goed om mens te wees. Dit is allerverskriklik, maar dis ook ontsagwekkend.

 En dít is ons hoop! Dit is hoekom hierdie moeë mensdom, selfs na ‘n jaar soos hierdie, steeds kan sê: God is mét ons.

Kom luister 25 Desember 14:00 saam na verse en klanke wat hierdie boodskap betuig, uit alle oorde van ons land.

Chris van Niekerk, Simoné Benjamin, Dean Balie en Juanita Swanepoel gaan die gedigte voorlees, Frieda van den Heever is die samesteller en Herman Steyn die musiekregisseur.