10e Oppiwater Kunstefees van 12–17 Feb op groot MSC Splendida


RSG en Lefra Produksies se tiende Oppiwater Kunstefees word van 12 – 17 Februarie 2024 op die MSC Splendida aangebied, wat die grootste skip is wat nog in Suid-Afrikaanse waters gevaar het.

  • Die Oppiwater Kunstefees vaar vanaf Durban na Mosambiek se mooie Pomene en Portugese eilande.
  • Kajuitbesprekings kan gedoen word by www.oppiwater.co.za of 011 844 6073.
  • Feeskaartjiebesprekings kan gedoen word by www.LTickets.co.za
  • Vir meer inligting, skakel Monica Booysen by 011 815 3000 of epos aan admin@lefra.com.
  • Meer inligting ook beskikbaar by www.oppiwater.co.za

MSC Splendida

Die Feesdirekteur van die Oppiwater Kunstefees, Frans Swart, sê hy is baie opgewonde oor die kunste-aanbod van vanjaar se Kunstefees.  “Dit is ons tiende jaar en daarom het ons groot gegaan met meer as 47 verskillende teaterproduksies en aanbiedings wat wissel van drama, komedie, musiek, sang, wynproe en selfs ‘n kunsaanbieding.

“Omdat dit ons tiende jaar is, het ons ook besluit om die vaart bietjie langer as gewoonlik te maak – 6 dae en 5 nagte, want ons gaste het deur die jare versoek dat ons die Oppiwater Kunstefees ‘n bietjie langer maak, want daar is soveel om te doen en te sien dat die tyd net te min is,” sê Swart.

Daar is twee feesproduksies wat spesiaal vir die Oppiwater Kunstefees geskep is.

“Ons het eerstens daarin geslaag om vir Koos Kombuis en Valiant Swart in ‘n eksklusiewe teatervertoning op een een verhoog aan te bied, KOOS EN VALIANT.  Dan is daar ook die opwindende produksie waarin ons hulde bring aan die legendariese Gé Korsten, GĖ SING – HOOR MY LIED,” se Swart.  “Ek is ook baie opgewonde oor twee unieke musiekproduksies wat slegs op die Oppiwater te sien sal wees naamlik KITAARKONINGS met Heinrich Pelser, Illimar Neitsz en JC Myburgh.  Pianiste Coenraad Rall en Toni Bentel span ook kragte saam in ‘n nuwe produksie, 20 VINGERS, 176 NOTE EXTRAVAGANZA.”

Die Oppiwater Kunstefees bied ook heelwat spesialiteitsproduksies aan.  DIE WYN, DIE VROU, DIE LIED is ‘n lekker wynproe wat deur Van Loveren Wyne aangebied word met Johan Rademan wat die mooiste poësie voordra en Christo Snyman sing wonderlike luisterliedjies akoesties op net die ghitaar.

Hannelie Swart en Martelize Brink

Hannelie Swart bied elke dag SKILDER EN WYN OPPIWATER aan.  Dit is ‘n drie-ure sessie waar gaste hulle eie skildery verf.  Hannelie sê dis ‘n kunsterapiesessie waarin gaste die geleentheid het om hulle “self” te ontdek en net lekker te ontspan.  “Gaste wat SKILDER EN WYN wil bywoon, het geen kunstalent of kunsopleiding nodig nie,” sê Swart.  “Ons gaan ook nie vir almal een prentjie gee om te skilder nie.  Nee elke deelnemer gaan sy eie persoonlike en unieke kunswerk maak.” Alle kunsmateriaal soos doeke, verf en kwasse word ook voorsien.

Die Oppiwater Kunstefees bied ook die unieke ONTMOET DIE KUNSTENAARS waar gaste elke middag om 17:00 die verskillende kunstenaars kan ontmoet, lekker kan gesels en foto’s kan neem.

Valentynsdag op 14 Februarie, val ook gedurende die Oppiwater Kunstefees en daar word verskeie Valentynskonserte op hierdie spesiale dag van die liefde aangebied soos die volgende:

  • Valentynskonsert met Jak de Priester en Helene Bester
  • Valentynspartytjie met Die Broers
  • Any Dream Will Do – My Pad met Webber met André Schwartz
  • Valentynsdans met Henndie du Bruyn en die Kitaarkêrels

Die program

Die volledige program verskyn by www.oppiwater.co.za of mense kan deur die program blaai by: http://tinyurl.com/oppiprog  Feeskaartjies kan bespreek word by www.LTickets.co.za

Conrad Kock en sy marionette

Maandag, 12 Februarie 2024

  • Wegvaartpartytjie – Dek (Gratis)
  • Koos en Valiant
  • Nic Stevens Sing Bryan Adams
  • Conrad Koch & Chester Missing Live!

Amanda en André in Brel en Piaf

Dinsdag, 13 Februarie 2024

  • Brel en Piaf
  • Die Wyn, Die Vrou, Die Lied
  • Dinner for One/ Sopper vir Een
  • Groet die Grotman 2
  • Helene Bester Sing Nana Mouskouri
  • Huldeblyk aan Groep 2
  • Jak de Priester – Hartkamer
  • Ontmoet die Kunstenaars
  • Rolex met ‘n K
  • Routrip
  • Skilder en Wyn Oppiwater

Woensdag, 14 Februarie 2024 (Valentynsdag)

  • Louis Loock Sing Bekende Arias uit die Operas en Musiekblyspele
  • Valentynskonsert met Jak de Priester en Helene Bester
  • Tussen die Lang Grasse
  • Valentynspartytjie met Die Broers
  • Any Dream Will Do – My Pad met Webber met André Schwartz
  • Goue Oues met Alwyn Oberholster
  • Valentynsdans met Hennie du Bruyn en die Kitaarkêrels
  • Koos Kombuis
  • Skilder en Wyn Oppiwater
  • My Vrou se Man se Vrou
  • Ontmoet die Kunstenaars

Femme Fatale met Elsabe Zietsman

Donderdag, 15 Februarie 2024

  • Weer Stout op Versoek met Derrich Gardner
  • Christo en Kobus – Die Trein na Margate en ander treffers
  • Die Wyn, Die Vrou, Die Lied
  • Skilder en Wyn Oppiwater
  • Femme is Fatale met Elzabe Zietsman
  • Ontmoet die Kunstenaars
  • RSG Radiodrama met regisseur, Johan Rademan
  • State of the Heart met Amanda Strydom
  • Stiltetyd
  • Valiant Swart
  • Poespas met Neels Clasen

Vrydag, 16 Februarie 2024

  • Kitaarkonings
  • Bobby van Jaarsveld
  • Conrad Koch & Chester Missing Live!
  • Gé Sing – Hoor my Lied
  • Hans Steek die Rubicon Oor
  • In die Spore van Jesus
  • Ontmoet die Kunstenaars
  • Skilder en Wyn Oppiwater
  • Pieter Smith – Van Stukkie van der Merwe tot Willemiena van Gezina
  • 20 Vingers, 176 Note Extravaganza