Luister weer na ons Paasfees-programme
RSG se luisteraars word vanjaar op Goeie Vrydag bederf met onder andere Die Paasfees Oratorio asook ‘n Paasdrama deur Helena Hugo, poësie en luistergenot deur die akteur en aanbieder Nic de Jager.
Op Vrydag 18 April sal die Monitor-span om 06:00 op hul pos wees, gevolg deur Binnekamer met Lizelle de Bruin waarna Magdaleen Kruger ‘n spesiale Paasweergawe van Loof die Here sal aanbied.
Net na 10:00 se nuusbulletin kan luisteraars by Sophia van Taak aansluit vir ‘n Vers en klank wat aan Goeie Vrydag gewy is. Die verse is van onder andere Sheila Cussons, Isak de Villiers, Ernst van Heerden en W.E.G. Louw. Daar is ook uittreksels uit wyle Hans du Plessis en Bernard Odendaal se Paasspel, Kruis van Liefde.
JJ Roberts volg net daarna om 10:30 met ‘n spesiale voorlesing waarin die Paasverhaal deur die oë van ‘n Romeinse slaaf beskryf word.
Die kruisiging van Jesus op Goeie Vrydag, word in die Bybel deur baie skrywers beskryf. Maar hoe beskryf Johannes in sy evangelie vir Jesus? Flip Loots gesels met prof. Chris de Wet hieroor.
Net na 11:00 gesels Lizelle de Bruin met dr. Andries Cilliers in Deur die donker dieptes oor die Kruisgebeure deur die lens van Psalm 23. Sluit by hulle aan vir ‘n reis gevul met troos en sekerheid – van die kruis na die kroon.
Lizelle de Bruin en dr. Andries Cilliers neem jou op ‘n reis deur die dal van doodskaduwee, maar ook op ‘n reis van troos en sekerheid, en ‘n reis van die Kruis na die Kroon.
Nic se goed kom 12:00 aan die beurt.
‘n Spesiale Paasdrama, Die leë graf, uit die pen van Helena Hugo om 14:00. In die Paastyd herleef ons opnuut die kruisdood van Jesus, maar ook Sy opstanding. Vir Nikodemus gaan dit gepaard met ‘n geloofstryd. Kan hy sy posisie in die Sanhedrin prysgee om Jesus openlik te bely, of skuif hy vir die res van sy lewe onder die dekmantel van die nag?
Terrance April, aanbieder van Musiek BonBons, is die samesteller van Die Paasfees Oratoria wat om 15:05 uitgesaai word.
Jacqui January skuif om 16:05 agter die mikrofoon in vir ‘n spesiale program van Dis gospel.
Om 18:10 kan luisteraars Paasboodskappe of stemnota’s na die ateljee stuur wat op lug gedeel sal word.
Vanaf 19:00 volg die gewone Vrydagaandprogram met Kompas om 19:30, Haidee Muller se Oppiradio om 20:00 en Reggie Philander se Skud dit vanaf 21:20. Daar sal ook volledige nuusbulletins en weervoorspellings wees met Jaco de Waal as gasheer.
Vir meer inligting besoek rsg.co.za