Aangrypende verse van ‘n man op vlug


Waldemar Schultz lees gedigte deur Magmoed Darwiesj, soos vertaal deur Bester Meyer. In 2009 verskyn Breyten Breytenbach se bundel oor Magmoed Darwiesj: oorblyfsel / voice over wat hierdie Palenstynse digter aan ‘n Afrikaanse en Engelse leserspubliek bekend stel. Sopas verskyn Bester Meyer se Die vlug van ‘n vreemdeling, vertalings van Darwiesj in Afrikaans met inleidende refleksies deur Breytenbach en ‘n nawoord deur Shahd Abusalama.

Meer as twintig digbundels en tien prosawerke verskyn uit hierdie krities bekroonde digter se pen en hy word beskou as die stem van sy mense en ‘n legende. Sy verse het wêreldwyd aanklank gevind by verskillende groeperinge en word deur sowel arbeiders as skoolkinders voorgedra. Die vlug van ‘n vreemdeling beslaan meer as 300 bladsye en vir die eerste keer kan die Afrikaanse leser die trefwydte en impak van die werk van hierdie belangrike digter in sy spreektaal ervaar. Dis uitgegee deur Naledi en ‘n kragtige stuk werk. In Joan Hambidge se woorde: “Bester Meyer se vertalings is aangrypend-mooi.”