André, die ruggraat van ‘Op en Wakker’


Nog voordat hy soggens die ketel kan aanskakel, maak hy planne oor hoe hy en die Op en Wakker-span derduisende luisteraars se lewens vandag kan verryk. Dit is die mag van radio wat hy elke dag koester en met groot omsigtigheid hanteer.

André Kunz in die ateljee

 

“Radio en boeklees, is die laaste twee plekke waar grootmense steeds hulle verbeelding kan gebruik. Televisie, YouTube, Facebook, Instagram voorsien alles vir jou. Jy kry die beeld en klank. Jy hoef jou verbeelding baie weinig in te span. Met radio moet jy self die prentjies skep. Radio kan enigiemand na enige plek toe neem,” verduidelik André Kunz, Op en Wakker se regisseur.

André werk sewe dae ‘n week. Douvoordag swiep hy al sy toegangskaart by die SAUK se Radiopark. Dan lê ‘n lang dag voor om RSG se luisteraars ingelig te hou. Oor naweke beplan en organiseer hy die programme wat in die week voorlê.

RSG se nuwe ontbytprogram, Op en Wakker, het in April vanjaar die lig gesien. André en sy span moes nuwe inhoud genereer, luisteraarsbehoeftes bepaal, ’n nuwe verhouding met luisteraars skep en bowenal inligting aan die luisteraars voorsien. Mens hoor nie André in die program praat nie, daarvoor is hy te doenig agter die mengbank. Sy aansteeklike lag is wel soms hoorbaar tydens ’n spontane oomblik in ’n onderhoud.  “Ek kan nie nuuslees soos Gustav nie, ek kan nie lekker gesels soos Sue nie. My werk is om  seker te maak die vloei van die program verloop vlot en die omroepers is goed ondersteun.”

Die radiobedryf het toevallig oor sy pad gekom toe Tuks FM hom destyds genader het om die hele spektrum van radio te leer ken. Vir twee jaar was hy by Tuks FM betrokke, sonder betaling, terwyl hy musiek maak by geleenthede en later die hoof van lewensoriëntering by ’n skool word.

Vandaar het Highveld Stereo hom nader gehark. Hulle het ’n reuse-promosieveldtog van stapel gestuur waar luisteraars die sogenaamde “fugitive” op straat moes identifiseer om groot prysgeld los te slaan. André was die “fugitive” en het op verrassende maniere elke oggend met die aanbieders in die ateljee gesels om leidrade oor die “fugitive” se ligging vir die luisteraars te gee.

Ná die promosie op Highveld Stereo word hy die ontbytaanbieder by Tuks FM en word aangewys as die beste aanbieder van ‘n gemeenskaps/kampusradiostasie in Suid-Afrika gedurende 2008. Op grond hiervan bied OFM vir hom ’n werk aan en hy vertrek sak en pak Bloemfontein toe waar hy en sy gesin vir sewe jaar bly.

Tydens sy uitsaaiskof op OFM, tussen 01:00 en 04:00 soggens, het hy heelwat luisteraars geselskap gehou, maar om onderhoude te skeduleer, was ‘n uitdaging. Met ‘n baie innoverende plan voer hy toe byna ‘n onderhoud met Kurt Darren. Hy stel die vrae en redigeer Kurt se liedjies op so ‘n wyse dat Kurt die antwoorde sing. Kurt het daarvan te hore gekom en dit by sy vertonings gebruik. Dit het vir André ’n nuwe aanstelling as regisseur van OFM se ontbytprogram besorg. Hy beskou dit as sy groot deurbraak in die radiobedryf.

Só klink sy amper-onderhoud met Kurt Darren.

In 2017 ontvang hy weer ’n oproep. Hierdie keer van 5FM. Daar was heelwat programskuiwe en jong omroepers moes leiding kry. André was die perfekte kandidaat hiervoor en hy het gevoel dit is tyd vir ’n nuwe uitdaging. Vandag is André steeds by 5FM betrokke waar hy bemarkingsveldtogte vir kliënte ontwerp sodat hulle die bes moontlike opbrengs uit ‘n advertensieveldtog kan kry.

Oor die verloop van sy radioloopbaan het die bedryf voortdurend verander om by mense se mediagewoontes aan te pas. André is voorbereid op die verandering wat in die volgende paar jaar kan plaasvind. “In die ou dae was radio die plek waar mense musiek geluister het, deesdae kan jy enige plek musiek opspoor. Ons kan inhoud genereer wat luisteraars steeds interesseer. As jy goeie radio-inhoud met ’n verskeidenheid musiek waarvan die meeste van jou luisteraars hou, vervleg, dán het jy ’n wenresep,” sê André.

Gia, Leanne en André

André leef passievol in alle opsigte, ‘n liefdevolle pa en eggenoot vir sy vrou Leanne en dogtertjie Gia. Hulle geniet dikwels uitstapppies en het onlangs nog ‘n vierpoot in hulle lewe verwelkom. Elke nou en dan gaan skiet hy kleiduiwe op die skietbaan en het in 2019 Suid-Afrika by die wêreldkampioenskappe in Ierland verteenwoordig. Dit is sy afleiding.

Voorwaar ‘n man met tonne energie om RSG se luisteraars ingelig te hou, ‘n man met ywer om die mag van radio ten volle te ontgin en ‘n man met uitsonderlike kennis van radio wat internasionaal kan meeding. Dis RSG se André.