“Derrich Se Jam”


Sondae gaan nie weer dieselfde wees nie. Daar is net die puikste, beste, mooiste en geliefste Jam oppad na jou toe net na 14:00.

Ek vergelyk “Derrich Se Jam” met ‘n varsgebakte suurdeegbrood wat stomend uit die oond kom, gesny is, bebotter word en dan be-“Jam” is met die kontrei se wenkonfyt. Ek gaan net die beste musiek speel uit my groot versameling wat ek in my 30 jaar plus in radio opgebou het. Daar is juwele deur kunstenaars wat in die skadu van een treffer op ‘n langspeelplaat moes lewe sonder erkenning vir die ander mooi liedjies op so plaat. Ek sal van dié immergroen verwerkings speel en somtyds sal dit sang wees, somtyds instumentale wysies wat die gedagtes op loop sal sit en selfs “covers” van bekende liedjies deur kunstenaars waarvan jy dit nooit sal verwag nie.

Daar is ‘n magdom musiek wat nie elke dag op RSG gehoor word nie en dis ons tyd om weer goeie musiek te luister en selfs die klankpuriste sal hulle tande kan slyp vir deesdae se digitale beskikbare vergete liedjies, alles in hoë definisie klank. Die kersie-op-die-koek sal aan die einde van elke “Derrich Se Jam” gespeel word en wat noukeurig uit die argiewe en wegsteekplekke gehaal word en as dit op plaat is, ontkrap en ontsuis word sodat ons dit weer kan luister (amper soos daai vergete botteljie marmelade wat op ‘n spensrak ontdek is en jou oorlede ouma nog geoes, gestoof en gebottel het met ‘n resep wat lank vergete is en nou op die warm brood ‘n landingstrook kry).

Ek sien verskriklik uit na elke sondagmiddag se uur saam met my gunsteling luisteraar wat maklik tevrede gehou word met net die beste musiek. “Derrich Se Jam” met die kersie-op-die-koek gaan jou meevoer in ‘n musiekreis vir jou siel. Sondae net na 14:00.