Veilige somer: Raad teen bloublasies, skerpioensteke, giftige plante…


Somer, son en see… en ook ‘n paar dinge wat mens liefs wil vermy soos slangbyte, skerpioensteke en bloublasies. Marí Hudson gesels met ‘n toksikoloog oor die noodbehandeling waar jy gif of ‘n toksiese stof inkry.

Het jy geweet dat die gebruik van slangteengif – as dit nie 100% reg toegedien word teen die regte slanggif nie – jou dood kan veroorsaak? Of dat jy nie ‘n kind wat paraffien of motbolle gesluk het, moet laat braak nie? Of dat om op ‘n bloublasiebrand te piepie, nie juis help nie. Of dat 20 500mg Panado-pille genoeg is om sowat 48 uur later permanente lewerskade te veroorsaak en tot die dood te lei?

Dít is enkele van die interessante feite wat aan die lig kom in Gesondheid op RSG. Marí Hudson gesels met Carine Marks, toksikoloog en direkteur van die Tygerbergse Gifinligtingsentrum.

Dié sentrum het nuwe gifinligtingskaarte saamgestel in al elf landstale. Klik hier om die Afrikaanse weergawe van die gifinligtingskaart af te laai.

In die program kyk ons na slangbyt, paraffienvergiftinging, Twostep-‘rot’gif, giftige plante, skerpioensteke, motbol-vergiftiging, spinnekopbyte, parasetamol- en ysterpilvergiftiging en bloublasie-behandeling.

Die landwye vergifting-hulplyn: 0861 555 777.

Hier is enkele interessante feite

Oor bloublasies
Krap die angels af met ‘n kredietkaart of iets soortgelyk. Spoel af met seewater – gewone water sal die brand vererger. En klim later in ‘n warm bad wat die pyn sal laat bedaar.

Die bloublasie se tentakels brand jou as die klein angels aan jou vel raak. Krap die angels af met ‘n plat ding soos ‘n kredietkaart, spoel af met seewater en klim dan in ‘n warm bad. Gewone water sal die brandaksie aktiveer.

Die bloublasie se tentakels brand jou as die klein angels aan jou vel raak. Krap die angels af met ‘n plat ding soos ‘n kredietkaart, spoel af met seewater en klim dan in ‘n warm bad. Gewone water sal die brandaksie aktiveer.

Oor slange en slangbyte
Vergeet van die slangteengif. As jy nie die regte teengif teen die regte slang gebruik nie, kan die teengif jou doodmaak. Bel die hulplynnommer, hou die pasiënt so stil as moontlik sodat die gif nie versprei nie, en kom by jou naaste hospitaal uit. Laat hulle weet jy is oppad.
Geen toerniket, geen uitsuig van slanggif nie – dit help niks.
10% van slange in SA is giftig.
Neurotoksies = Kaapse kobra en mamba – respitoriese nood, kan nie sluk, oë val toe
Sitotoksies = pofadder, gaboenadder, Mosambiekse spoegkobra – gee weefselskade
Hemotoksies = boomslang – gee bloeding inwendig
Sitotoksies en neurotoksies = bergadder

Die boomslang se gif is hemotoksies. Maar gelukkig is die boomslang redelik vriendelik en byt hy nie sommer vir die lekker nie.

Die boomslang se gif is hemotoksies. Maar gelukkig is die boomslang redelik vriendelik en byt hy nie sommer vir die lekker nie.

Die Kaapse Kobra kan geel of bruin wees en sy gif is neurotoksies wat baie gou tot asemhalingsprobleme kan lei.

Die Kaapse Kobra kan geel of bruin wees en sy gif is neurotoksies wat baie gou tot asemhalingsprobleme kan lei.

Die pofadder se gif is sitotoksies wat beteken die weefsel begin dood te gaan.

Die pofadder se gif is sitotoksies wat beteken die weefsel begin dood te gaan.

Oor skerpioensteke
Dis die klein skerpioen met die klein voelers en groter stert, wat meer giftig is. As die knypers groot is, is die skerpioen waarskynlik nie so giftig nie. Kom so vinnig moontlik by die naaste hospitaal.

Parabuthus granulatus is die giftige een.

Screen Shot 2016-09-07 at 11.53.59 AM

As jou kind paraffien gesluk het
Moenie die kind laat braak nie. Dit kan longaantasting veroorsaak. Kom so gou moontlik by ‘n hospitaal uit.

As jou kind motbolle ingekry het
Moenie die kind laat braak nie. Moenie die kind melk laat drink nie. Dit sal die naftaleengif se werking versterk. Gee eerder bietjie water. Kom by ‘n hospitaal uit.

Two step ‘rotgif’
chumbinho_proibido_1Een teelepel is genoeg om ‘n volwassene dood te maak. Dit lyk soos swart suiker of swart peper. Dit is ‘n karbamaat en werk soos ‘n organofosfaat – baie vinnig na inname is daar braking, diarree, sweet, spoeg by mond en ook sekresies op longe wat asemhalingsprobleme veroorsaak. Kry dieselfde simptome in honde as honde vergiftig word.

Gewone rotgif veroosaak bloeding. Jy moet omtrent ‘n hele boks eet, en dit veroorsaak geleidelik simptome en nie onmiddellik nie.

As dit ernstig is, kan die pasiënt tot ses maande lank Vitamien K inspuitings benodig om bloedings te keer.

As baie pille gesluk is
Die meeste navrae is oor parasetamol oordosering. Sowat 10g parasetamol is genoeg om ‘n volwassene dood te maak. Dit is 20 500mg pille binne 24 uur. Dié doserings veroorsaak sowat 48 uur later lewerskade, wat permanente lewerskade kan wees en dan tot die dood lei. Dit lyk dus aanvanklik of die persoon okei is, maar dan twee dae later, tree die lewerskade in en daar kan min gedoen word om die persoon se lewe te red.

Te veel aspiriene en te veel ysterpille is ook lewensgevaarlik. ‘n Hoë dosis ysterbevattende vitamiene kan tot bloedstollings probleme lei.

Giftige plante
Jy moet baie eet voordat dit jou siek gaan maak. Dit kan brand – soos bv olifantsoorblare wat gekou word – maar sal nie noodwendig doodmaak nie. Die syringabessie word heel uitgeskei.

Spinnekopbyte
As jy nie die spinnekop gesien het nie, kan jy nie sê dis ‘n spinnekop-byt nie. Jy gaan nie gate in jou lyf val ná ‘n byt deur ‘n viooltjiespinnekop, wat sitotoksies is, nie.
‘n Knopiespinnekop se byt is neurotoksies.

Hier is nog inligting oor die Gif-inlingskaarte

Gifinligting in 11 tale beskikbaar gestel

Was jy al ooit in ʼn situasie waar iemand aan gifstowwe blootgestel is en jy geen idee gehad het wat om te doen nie?

Handige inligtingskaarte met riglyne oor die onmiddellike behandeling in geval van vergiftiging is nou in al 11 amptelike tale van Suid-Afrika beskikbaar. Die Tygerberg-gifinligtingsentrum (TGIS) van die Universiteit Stellenbosch (SU) het dié kaarte ontwikkel en bied dit gratis aan die publiek as aflaaibare lêers op sy webwerf.

Die groot aantal mense in Suid Afrika wat sterf nadat hulle per ongeluk vergiftig is, is ʼn belangrike openbare gesondheidsprobleem, veral in landelike gebiede waar onmiddellike toegang tot gesondheidsorgfasiliteite nie altyd moontlik is nie. Na raming is daar ongeveer ʼn halfmiljoen mense in Suid-Afrika wat jaarliks aan toevallige of doelbewuste vergiftiging blootgestel word.

“Maar baie vergiftigings kan verhinder word en lewens gered word as mense oor die basiese inligting beskik oor vroeë behandeling voor opname in die hospitaal,” sê me Carine Marks, ʼn spesialis in gifinligting en die Direkteur van die TGIS.

“Dit neem slegs ʼn minuut of twee om te leer hoe om vergiftiging te verhinder en wat om te doen indien dit gebeur. Deur die inligting beskikbaar te stel in al 11 tale, wil ons seker maak dat die toepaslike inligting in ʼn persoon se taalvoorkeur beskikbaar is,” sê Marks.

Die kaarte sluit inligting in oor vergiftiging met insekdoders, gevalle waar medikasie in oordosisse geneem word en biologiese gifstowwe met verwysing na giftige diere en plante.

Die TGIS bied ʼn inligtingsdiens aan gesondheidspesialiste en die algemene publiek oor hoe om vergiftiging te hanteer. Die sentrum is by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op die Tygerberg-kampus in Kaapstad geleë.

24-uur-hulplyn

Lede van die publiek kan ook die Wes-Kaapse Gifinligtingshulplyn, wat ʼn diens aan Suid-Afrika en haar buurlande lewer, by 0861 555 777 kontak. Dié 24-uur diens word aangebied deur spesialiste by die Tygeberg-gifinligtingsentrum en die Rooi Kruis-kinderhospitaal se Gifinligtingsentrum.

Laai ʼn gifinligtingskaart in die taal van jou keuse af by: www.sun.ac.za/poisoncentre.

Kontakbesonderhede vir die Tygerberg-gifinligtingsentrum:

24-uur-noodnommer: 0861 555 777
E-pos: toxicology@sun.ac.za
Webwerf: www.sun.ac.za/poisoncentre