Eerste in Afrika: hartritme-defek met nuwe tegnologie behandel


Die eerste geval in Afrika waar ’n pasiënt met revolusionêre nuwe tegnologie behandel is om ‘n hartritme-defek te herstel, is Maandag in die Kaapse Skiereiland gedoen.

Die nuwe tegnologie bekend as elektro-porasie is uiters nuut, maar baie opwindend en kan moontlik tot ’n omwenteling in die behandeling van nie net atriale fibrillasie nie, maar alle ander hartritme-defekte lei.

Die eerste pasiënt, mnr Robert Reynecke (59) van Proteavallei, het kort na die prosedure, gelimlag. Geen teken van die hartritme-defek is sigbaar nie en kon selfs nie eens met verskeie probeerslae in die teater weer opgewek word nie.

Marí Hudson was daar. Luister vandag om 11:30 na Gesondheid op RSG.

Mnr Reynecke se hartklop-ritme is nou normale sinus-ritme, het Dr Razeen Gopal, hartritme-spesialis van die Cape Town AF Center by die Panorama Mediclinic in die Kaapse Skiereiland gesê.

Kort ná die prosedure: Dr Razeen Gopal, (links) hartritmespesialis van die Cape Town AF Center binne-in Panorama-Mediclinic en prof Nico Reinsch van Essen in Duitsland by mnr Robert Reynecke (59) van Proteavallei, die eerste pasiënt in Afrika wat elektroporasie ondergaan het om sy atriale fibrillasie te herstel. Mnr Reynecke se atriale fibrillasie is gediagnoseer nadat hy met sy fiets geval het, ribbes gebreek het en toe by ‘n dokter moes uitkom. Hy het gereken sy periodieke vlae van moegheid was van ouderdom en onfiksheid, hoewel hy ‘n kranige fietsryer is. Hy sal nou kan fietsry sonder om bekommerd te wees dat het skielik ‘n vinnige en onrëlmatige hartklop ontwikkel.