Gwede se omstrede kragskepe oppad na die Baai


Die nuuswebwerf, Daily Maverick, berig die minister van vervoer het ‘n spesiale verordening uitgevaardig wat die omstrede Turkse kragskip-maatskappy, Karpowership, magtig om drie van sy skepe vir die volgende 20 jaar in die Koega-hawe naby Gqeberha, vas te meer.

Die nuus volg kort na president Cyril Ramaphosa verlede week in die parlement, sy steun aan die plan om kragskepe te gebruik, toegesê het.

Eskom se Jan Oberholzer meen ook die kragskepe is ‘n goeie korttermynoplossing, al reken hy ‘n 20 jaar kontrak is te lank. Karpowership het einde 2019 ‘n kontrak gekry van Energieminister Gwede Mantashe se departement, om 1,2 gigawatt elektrisiteit aan Suid-Afrika te voorsien.

Die skepe het egter nog nie begin krag lewer nie, weens talle hofsake oor onder meer omgewingskwessies en beweerde tenderomgerymdhede.

Is die kragskepe dalk nié die korttermynoplossing vir ‘n land wat vuisvoos is weens byna aanhoudende fase ses beurtkrag nie? Om hieroor te gesels sluit Hein Vosloo, voormalige senior Eskom-bestuurder, by ons aan.