Israel en Hamas: Wat is die waarheid?


Sedert die onverwagse tereur-aanval van Hamas op Saterdag 7 Oktober 0p burgelike Israelis in die Gasa-strook is dié streek ‘n oorlogsone en dreig ‘n volskaalse oorlog tussen Israel en Palestina. Die Hamas-aanval in Gasa en op ander teikens in Israel is geloods op die 50ste herdenking van die Yom Kippoer oorlog tussen Israel en Egipte en Sirië.

Om die jongste standpunte te volg, om te probeer sin maak van die gebeure en om te probeer vasstel wat die volgende stappe kan wees, bring Op en Wakker ‘n reeks baie relevante onderhoude vir luisteraars.

In die jongste gesprek, vertel die Palestynse ambassadeur in Suid-Afrika, Hanan Jarrar, met die span van Op en Wakker.
Luister ook na onderhoude met Max Regev, raadgewer van die Israelse eerste minister, die Sioniste Fedrasie in SA en nóg gesprekke en onderhoude om perspektief in te win.

Palestynse ambassadeur oor oorlog in Israel en Palestina

Hanan Jarrar

Die dodetal in die bloedige oorlog tussen Hamas en Israel styg steeds. In Gaza, vanwaar Hamas duisende missiele op Israel afskiet, sê die Palestynse owerheid, is meer as 2 600 mense dood. Volgens die Israelse weermag staan die dodetal onder Israelse burgers op meer as 1 400. Die afgelope naweek het leiers van die streek met mekaar én met die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, Antony Blinken, vergader. Die ministers van buitelandse sake van Libanon en Iran het vergader, terwyl ‘n senior Hamas-leier in Katar met die Iranese minister van buitelandse sake vergader het.

Ons praat met die Palestynse ambassadeur in Suid-Afrika, Hanan Jarrar.

Raadgewer van Israel se eerste minister oor situasie ná aanvalle

Mark Regev

Dis presies ‘n week gelede wat Hamas ‘n verrassingsaanval op Israel geloods het. Duisende Israeli’s en Palestyne het intussen weens die aanvalle gesterf. Minstens 150 burgers van Israel en ander lande is deur Hamas gyselaar geneem en word in Gaza aangehou, terwyl Gaza onder hewige bombardering van Israel deurloop. Intussen het Israel watertoevoer, elektrisiteit en die lewering van voedselvoorraad aan Gaza gestaak, wat deur talle kenners as ‘n oortredeing van internasionale reg beskou word.

Ons praat hieroor met die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, se senior raadgewer, Mark Regev, uit Tel Aviv.

Israelse soldate in die Gasa-strook na die Hamas terreur-aanvalle

Anthoni van Nieuwkerk

President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrika se hulp aangebied om ‘n bemiddelingsrol te speel in die oorlog tussen Hamas en Israel. Sedert 1994 al skaar die regering hom aan die kant van die Palestyne. Voor 1994 was die Suid-Afrikaaanse regering aanvanklik eers pro-Nazi-Duitsland en later pro-Israel. Die ANC was self pro-Israel tot ongeveer 1967 met die uitbreek van die Ses-dae-oorlog.

Ons praat hieroor met professor Anthoni van Nieuwkerk, verbonde aan Unisa se Thabo Mbeki Afrika-skool vir openbare en internasionale aangeleenthede.

Sioniste Federasie in SA veroordeel Hamas-aanvalle

Duisende mense is dood of gewond in die bloedigste konflik in 50 jaar in Israel. Hamas het vroeg Saterdagoggend Israel vanuit die Gaza-strook aangeval. Israel se weermag is besig om meer as 300 000 reserviste te mobiliseer. Meer as 900 Israelse burgers en 600 Palestynse burgers is al dood in die gevegte. Talle vrae word gevra oor hoe dit moontlik is dat Israel se intelligensiedienste nie die aanval sien kom het nie. Baie wêreldleiers het die aanvalle veroordeel, en ‘n beroep gedoen vir die afskaling van die oorlog. Lande soos Iran, Katar en Saoedi-Arabië het gesê dis Israel se skuld dat hulle aangeval is, weens die jare lange onderdrukking van Palestyne. Dis ook die mening van die ANC en die EFF.

Rolene Marks

Ons praat hieroor met die woordvoerder van Sioniste Federasie in Suid-Afrika, Rolene Marks. Sy is tans in Israel.

Die konflik tussen Israel en Hamas

Die Palestynse millitante groep, Hamas, voer sedert Saterdagoggend dodelik aanvalle op Israel uit. Op sy beurt het die Israelse regering en weermag met erge teenaanvalle begin, en 300 000 van sy weermagreserviste opgeroep. Amerikaanse gevegskepe en vliegtuie is intussen ook ontplooi om nader aan Israel te wees. Boonop is daar vrese dat ander lande in die Midde-Ooste ook by die oorlog betrokke kan raak of groepe soos Hamas, en Hezbollah in Libanon, sal ondersteun. Lande soos Iran en Katar meen Israel is ‘n apartheidstaat en het Hamas se aanvalle oor homself gebring. Die Europese Unie, Amerika, Brittanje en ‘n aantal ander lande bestempel Hamas as ‘n terroristegroep.

Marthie Momberg

Ons praat hieroor met dr. Marthie Momberg, skrywer van 21 VOICES FROM ISRAEL AND SOUTH AFRICA. Marthie is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en die Nelson Mandela-universiteit.