Kan Suid-Afrika se water opdroog?


Die kwik styg, Episode 2 (13 April): DIE STAND EN VOLHOUBAARHEID VAN SUID-AFRIKA SE WATERSTELSEL

Hluhluwe Dam loop oor 20 Feb 2018. Einde van ‘n lang droogte! Sender: Johannes Meintjes.

Kan Suid-Afrika se water opdroog?

Herwinde water gaan Suid-Afrika se voorland word. Dis die mening van spesiale wateradviseur, André Roux. Ons land is die 30ste droogste met ‘n gemiddelde reënval wat 40% laer as dié van die res van die wêreld is en dié stand van sake word deur klimaatsverandering vererger.

Huise in Suid-Afrika gaan in die toekoms heelwat anders lyk. So sê spesiale wateradviseur vir die Wes-Kaapse regering, André Roux. Hy gesels Vrydagmiddag 13 April om kwart-voor-een op Die Kwik Styg oor die volhoubaarheid van ons land se waterstelsel en die aanpassings wat vereis sal word soos klimaatsverandering sy tol begin eis.

Roux verduidelik onder meer hoe stedelike beplanning sal verander soos daar toenemend van herwinde water gebruik gemaak sal moet word. Huise sal byvoorbeeld so ontwerp moet word om ‘n dubbelvoorsieningstelsel in sluit vir gesuiwerde rioolwater. Roux voeg by dat munisipale ordonansies sal moet verander en dat alle toekomstige bou-ontwikkelings hieraan sal moet voldoen.

Hy glo nie Suid-Afrika se water gaan opraak nie maar waarsku dat ons slegs ‘n volskaalse krisis kan vryspring deur water baie meer ekonomies te gebruik en alternatiewe bronne te ontgin. Die uiwerking van klimaatsverandering gaan volgens Roux van streek tot streek verskil maar hy en ander kenners verwag dat die Wes-Kaap die ergste geraak sal word.

Skakel Vrydagmiddag kwart-voor-een in op Die Kwik Styg wanneer Roux ook sy verwagtinge deel oor die noodsaaklike aanpassings wat die landbousektor sal moet maak om aardverwarming te kan oorleef.

Lizma van Zyl wil weet of Suid-Afrika se watervoorraad aan die opraak is.