18 Sept: Leefwêreld van die Gestremde vier 1250ste uitsending


Op 18 Sept vier Leefwêreld van die Gestremde dié program 1250ste ononderbroeke uitsending.

Die program vier sy 1,250ste uitsending! Jacqui January en Fanie du Toit gesels met Louise Jooste en Kobus Burger van RSG en vorige deelnemers oor van die hoogtepunte, en die bewusmaking wat deur die program gekweek word.

Fanie du Toit

“Ons is opreg dankbaar en trots dat RSG saam met die Suid Afrikaanse gemeenskap kon groei en steeds weekliks op talle ander wyses ‘n verskil maak in die leefwereld van mense met gestremdhede en/of diegene wat deur gestremdheid geraak word,” sê Fanie du Toit.

Die eerste jare

Net ná die nuwe bedeling in 1994 in werking getree het, het verskeie rolspelers in die veld van gestremdheid saam begin droom om deur middel van Afrikaanse radio ‘n groter bewustheid regdeur die SA samelewing aangaande mense met gestremdhede te skep. Die die daarstelling van die platform “Leefwêreld van die Gestremde” was dus ‘n manier om weekliks ‘n positiewe bydrae rakende gestremdheid aan die luisteraars deur te gee, meer spesifiek om groter respek vir die regte en waardigheid van mense met gestremdhede te help ontwikkel.

Diskriminasie teen mense met gestremdhede

Regstreekse diskriminasie teenoor mense met gestremdhede het tot gevolg dat ons in 2022 nog steeds saam hard moet werk om stereotipes, vooroordele en skadelike praktyke met betrekking tot mense met gestremdhede op alle terreine van die lewe positief te verander.

Die program “Leefwereld van die Gestremde” word dus so gestruktureer dat dit erkenning gee aan die vaardighede en vermoëns van mense met gestremdhede, asook hul bydraes tot die arbeidsmark en daagliks in die bree gemeenskap. Ons bied weekliks ‘n platform aan mense met gestremdhede om hulself te kan verteenwoordig. Ons poog ook om die rol van spesialiste/kundiges in die veld van gestremdheid, werkgewers, families van mense met gestremdhede aan die bree gemeenkap bekend te stel.

Dit is absoluut prysenswaardig dat RSG, as Nasionale Radio Stasie, destyds op so ‘n tasbare wyse die verantwoordelkheid aanvaar het, en na jare steeds volhoubaar ‘n bydrae lewer. Dit is nodig dat mense met gestremdhede in SA op ‘n wyse uitgebeeld word wat in ooreenstemming is met die Grondwet van ons pragtige land met sy ‘n diverse samelewing.

Ons sien uit na ‘n mooi toekoms waar alle mense, insluitend mense met gestremdhede, gelyke geleenthede sal ontvang.