Luister saans na ‘VLUG’ deur Wilna Adriaanse


Op 7 Maart kan luisteraars net na 21:10 inskakel vir ‘n splinternuwe laataandboekvoorlesing.

VLUG, geskryf deur Wilna Adriaanse, word voorgelees deur Joanie Combrink. Die regie is behartig deur Sophia van Taak.

Ons neem jou op reis na die DRK, waar die hoofkarakter, Milla Roux by ’n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees werk.

Spoedig begin die skermutselings tussen regeringstroepe en rebelle-organisasies van die hele Kongo ’n gevaargebied maak, en kort voor lank is ook die rehabilitasiesentrum in die kruisvuur vasgevang. Saam met drie klein sjimpansee-wesies slaan ’n gewonde Milla op die vlug, vergesel van die enigmatiese Graham Saunders van die organisasie Dokters sonder grense.

Meer oor VLUG

Milla Roux is ’n veearts wat werk by ’n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees in die DRK. Spoedig begin die skermutselings tussen regeringstroepe en rebelle-organisasies van die hele Kongo ’n gevaargebied maak, en kort voor lank is ook die rehabilitasiesentrum in die kruisvuur vasgevang. Saam met drie klein sjimpansee-wesies slaan ’n gewonde Milla op die vlug, vergesel van die enigmatiese Graham Saunders van die organisasie Dokters sonder grense.

Wilna Adriaanse deel haar inspirasie vir VLUG

Meer oor Wilna Adriaanse

Wilna Adriaanse

Wilna Adriaanse is op 19 Maart 1958 in die Kalahari gebore. Sy het op Worcester grootgeword en matrikuleer in 1976 aan Hoërskool Worcester. Sy verwerf daarna ’n BA en BA honneursgraad in Ontwikkelingsadministrasie aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is in 1981 met Deon Adriaanse getroud. Hulle het vir drie en ’n half jaar in Giyani (Limpopo) gewoon voordat hulle weer in 1985 hulself in die Kaap gevestig het. Sy verdeel tans haar tyd tussen Botswana en die Boland.

Haar eerste boek, Die wingerd sal weer bot, verskyn in 2000 by Lapa-uitgewers onder die skrywersnaam Wilmine Burger. Haar bekendste boeke is Rebecca (2004), Met ander woorde (2006), Die boek van Ester (2008), Vier seisoene kind (2010) en Dubbelspel (2014). Sy het haar MA-graad in skeppende skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad voltooi, en daaruit spruit haar roman ‘n Klein lewe (2012). Sy verdeel tans haar tyd tussen Botswana en die Boland.
https://www.nb.co.za/af/authors?authorId=393

Het jy geweet?

Sy het om middernag op 31 Desember 1999 (in die Switserse Alpe) besluit om skryf haar Nuwejaarsvoorneme te maak. Sy het in 2000 begin skryf en haar eerste boek het in 2001 verskyn.

Bekronings
ATKV-Prys vir ‘n liefdesroman (2011) – Vier seisoene kind

Boeke steeds in druk

Dubbelspel (2014)
‘n Klein lewe (2012)
Wilna Adriaanse Omnibus 3, (2011)
Wilna Adriaanse Omnibus 2, (2010)
Vier seisoene kind, (2010)
Rebecca, (2010) (heruitgawe)
Die boek van Ester, (2008)
Met ander woorde, (heruitgawe) (2006)

Lys van publikasies

As Wilna Adriaanse:

Prosa
2001 ’n Ongewone belegging, Jasmyn
2002 Alleenvlug, Jasmyn
2003 Die reuk van verlange, Jasmyn
2004 Serenade vir ’n nagtegaal, Jasmyn
2004 Rebecca, Tafelberg
2005 Hande wat heel, Hartklop
2006 Met ander woorde, Tafelberg
2008 Die boek van Ester, Tafelberg
2010 Vier seisoene kind, Tafelberg
2012 ‘n Klein lewe, Tafelberg
2014 Dubbelspel

As Wilmine Burger:

2001 Die wingerd sal weer bot, Lapa
2002 ’n Heildronk op die liefde, Lapa
2002 Liefde is ’n kleur, Lapa
2004 Brug van woorde, Lapa

Uittreksels uit resensies

“Dit is ’n lekkerlees-boek van waarde. Goeie chick-lit soos ons dit in Afrikaans nodig het. Ideaal vir ’n Saterdagmiddag op die rusbank, voete in die lug en ’n glas wyn in die linkerhand.” – Ronel Nel oor Die boek van Ester, Beeld (2008)