Luister van vanaand na voorlesing van ‘Die uurwerk kantel’ op RSG


 

Marié Heese

Die nuwe aandboekvoorlesing op RSG is die klassieke roman, Die uurwerk kantel, deur Marié Heese.  Die roman het die eerste keer in 1976 verskyn en het sedertdien talle herdrukke beleef.  Die titel van die roman is ontleen aan die gedig, Suiwer Wiskunde, deur NP van Wyk Louw.

Kortliks die storie:  Die bejaarde Maria du Preez, gebore Celliers, kyk terug op haar lewe.  Die dinge wat met haar gebeur het en wat sy beleef het; die mense wat haar pad gekruis het, en groot politieke gebeure soos die Anglo-Boereoorlog, die Groot Griep van 1918, twee Wêreldoorloë en die politieke stryd rondom 1948. Die storie strek oor vier geslagte – vanaf haar kinderdae op ‘n wynplaas, haar studentelewe, huwelik en gesinslewe.  Maar ook oor afskeid en verlies, en bowenal liefde.  Die skrywer, Andre P Brink het oor Die uurwerk kantel gesê “In sy kern is dit ‘n psalm aan die lewe self…”.

Die leser is Susanne Beyers, en die regisseur is Joanie Combrinck.  Susanne en Joanie het ‘n verwerking van die roman vantevore as verhoogproduksie opgevoer.

Voorlesings begin op Maandagaand, 10 Januarie, net na die 19:00 nuus.

Lees hier meer oor Marié Heese:
https://www.litnet.co.za/mari-heese-1942/