Nuwe ‘ou’ musiekreeks op Sondae is oor musiekblyspele


Luister van 1 Oktober Sondae om 10:00 na ‘n musiekreeks oor musiekblyspele en die wêreld van glans, dans, skitter en fantasie.

Bettie Kemp vertel die stories van musiekblyspele soos Oklahoma, Brigadoon, The King and I en My Fair Lady in ’n reeks wat spesiaal vir radio vervaardig is.

Kom leer meer van die romantiese vertonings tussen die twee wêreldoorloë, die goeie 50’s en 60’s van Broadway en nog vele meer in die reeks Die Musiekblyspel op Sondae om 10:00 vanaf 1 Oktober.

Die bekoring wat ‘n musiekblyspel in ’n stampvol teater bring, kan moeilik in woorde beskryf word. Die liedjies wat nog oor en oor in jou kop maal ná ’n vertoning en die skouspelagtige tonele wat soete herinneringe bring, sê Bettie Kemp.

Die pad wat ’n blyspel stap van teks tot gala-aand is ’n ingewikkelde proses waaraan net die beste kunstenaars aan kan deel hê. Dikwels is die gehoor stomverbaas oor hoe ’n voorwerp skielik lewendig kan word voor hulle oë en hoe die hoofspeler opgepik word met toue en bo-oor die hele gehoor vlieg. Dis pure fantasie.

Die musiekblyspel het ons lank voor televisie of films op verbeeldingsvlugte geneem. Dit het as’t ware die toets van tyd deurstaan. Die stories van die klassieke musiekblyspele is dikwels ’n verhaal van vasbyt en deursettingsvermoë om uiteindelik so ’n groot produksie op die planke te bring.