Ons nuwe aandboekvoorlesing “Skaakmat in Elf” begin Donderdag
Die volgende opwindende hoofstuk in RSG se gewilde laataanboekvoorlesings begin op Donderdag 16 Mei, net ná nege-uur in die aand.
Luisteraars kan uitsien na Skaakmat in Elf, die historiese fiksieroman deur Etienne Labuschagne, voorgelees deur die bekende stemkunstenaar Allan Dyssel en onder regie van Johny Klein. Hierdie voorlesing word aangebied in samewerking met Naledi.
Skaakmat in Elf is ’n aangrypende verhaal wat sy oorsprong vind in die nasleep van die grusame slagting van die Israeliese Olimpiese span tydens die 1972 Somerspele in München. Hierdie gebeurtenis het gelei tot Mossad se geheime Operasie Wraak van God, waarin agente op verskeie lede van die Swart September-groep jag gemaak het.
Die roman fokus op twee vroulike Mossadagente – Sylvia Rafael en Heather Teacher – wat Ali Hassan Salameh, die meesterbrein agter die aanval, probeer uitskakel. Een slaag, die ander nie, maar beide konfronteer gevolge wat hulle lewens onherroeplik verander.
Wat hierdie verhaal besonders maak, is die feit dat die werklike Sylvia Rafael, wat oorspronklik uit Graaff-Reinet afkomstig was, as inspirasie gedien het. Haar lewe en nalatenskap, asook ’n toevallige skaaktema, geskoei op Bobby Fischer se ikoniese oorwinning in elf skuiwe teen Boris Spassky in 1972, vorm die raamwerk van die roman.
Die roman het sy ontstaan te danke aan ’n skrywerskursus in Lesbos onder leiding van Marita van der Vyver en Frederik de Jager, waar elke deelnemer verwag is om met ’n manuskrip op te daag. Hierdie kursus het die katalisator geword vir Labuschagne se kreatiewe verwerking van ’n ware verhaal, gevoed deur onderhoude en deeglike navorsing.
Oor die outeur:
Etienne Labuschagne, gebore in 1961 in Durban, het vir meer as drie dekades ‘n invloedryke regsloopbaan in Pretoria gevoer en is in 2024 as regter van die Hooggeregshof in Gauteng aangestel. Behalwe sy loopbaan in die regte, is hy ook ‘n passievolle kunstenaar en skrywer van die internasionaal gepubliseerde kinderboek Bedtime Stories for Clever Kids (2024).
Moenie hierdie meesterlike voorlesing misloop nie, elke aand net ná nege op RSG, vanaf 16 Mei 2025.