Pap en Kaviaar: Luister weer na dié drama


RSG saai weer ‘n komiese drama uit geskryf deur Isabel Martinson – ‘Pap en Kaviaar. Dit was die openingsdrama in RSG se Eerste Radioteater-seisoen van 2021 asook die afskop van die jaarlikse “seisoen van wenners”.

Die klugtige drama was die wenner van die merieteprys in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2020 toe sowat 380 inskrywings vir die kompetisie ontvang is.

Die regisseur is Mari Snyman en die spelers is Elma Potgieter, Karen Wessels, Anton Schmidt, David Louw, Heidi Mollentze en Anton Dekker.

Die storie

Die Bennets – Koba en Loek – is plaasmense. Hulle kom ontmoet hulle aanstaande skoonmense in die stad – Leana en Marius Fitzwilliam.

Stella, hulle dogter, is van plan om met Gerber Fitzwilliam te trou. Loek en Koba is plat-op-die-aarde mense. Loek steek sy hartseer weg deur ‘n moedswillige hardekoewjawel te wees.

Tydens die besoek spat die vonke. ‘n Hoogdrawende, snobistiese Leana Fitzwilliam word ontmasker. En Loek Bennet vind vrede met die grootste selfverwyt van sy lewe.

Isabel Martinson, Radioteater Pap en Kaviaar

Die skrywer

Die 34-jarige skrywer Isabel Martinson woon op die Hoëveld en het geen letterkundige agtergrond nie. Sy sê mense fassineer haar en Pap en kaviaar was haar vyfde “probeerslag” vir RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie.

Karen Wessels (Stella) en Heidi Mollentze in die rol van Koba.