Prof Geyer ontvang hoogste fisika-eerbewys


Prof Hendrik Geyer

Prof. Hendrik Geyer wat al jare op Hoe verklaar jy dit? vrae beantwoord, is onlangs met die hoogste eer in fisika vereer.

De Beers Goue Medalje van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Fisika is op 8 Julie 2022 aan prof. Hendrik Geyer, emeritus-professor in Teoretiese Fisika aan die Universiteit van Stellenbosch, toegeken.  Die De Beers Goue Medalje word beskou as die hoogste eerbewys wat ‘n fisikus in Suid-Afrika kan ontvang.

Ons wens Prof Geyer mamens die span van Hoe verklaar jy dit? en RSG geluk met hierdie welverdiende toekenning.

Meer oor Prof Geyer (https://www.litnet.co.za/author/hendrik-geyer/)

Hendrik Geyer is emeritus-professor in Teoretiese Fisika aan die Universiteit Stellenbosch en was tot  2018 Direkteur van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS).

Ná voltooiing van sy voorgraadse studie aan die Universiteit Stellenbosch en ’n MSc aan die Randse Afrikaanse Universiteit begin sy navorsingsloopbaan in 1978 by die Raad op Atoomkrag as lid van Pelindaba se Teoretiesefisikagroep. Hier ontwikkel hy in samewerking met Fritz Hahne ’n mikroskopiese beskrywing van kollektiewe opwekkings in atoomkerne wat berus op ’n wiskundige afbeelding van pare nukleone op bosone wat as fundamentele boustene vir ’n verskeidenheid kerntoestande optree. Op grond van hierdie werk ontvang hy in 1981 ’n PhD van die Universiteit Stellenbosch met Chris Engelbrecht as studieleier, waarna hy as ná-doktorale genoot by die State University of New York se kernteoriegroep in Stony Brook aansluit.

Hendrik Geyer is die outeur van meer as 90 navorsingsartikels en gepubliseerde konferensiebydraes, redakteur van twee boeke en gasredakteur van ’n internasionele konferensiebundel. Sy navorsing fokus tans op die kwantum-veeldeeltjieprobleem en ’n uitbreiding van kwantummeganika wat niehermitiese operatore as beskrywers van fisiese groothede toelaat. Hy was ook al nagraadse studieleier vir onderwerpe so uiteenlopend soos kwantum-inligting, die analise van seismisiteit in myne en ’n beskouing van die samehang tussen kwantumteorie en kompleksiteit vanuit ’n filosofiese oogpunt.

Die totstandkoming van die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika (NITheP) (versprei oor die kampusse van die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van KwaZulu-Natal en die Witwatersrand) in 2008 was die kulminasie van ’n lang gekoesterde ideaal wat Hendrik Geyer oor ’n aantal jaar nagestreef het. Dit het skakeling en organisasie op voetsoolvlak geverg, asook die werwing van wye internasionale steun. Op besluitnemingsvlak het dit noue skakeling en onderhandeling met die vorige en huidige direkteurs-generaal en senior personeel van die Departement Wetenskap en Tegnologie en lede van die Nasionale Navorsingstigting  (NNS) se hoofbestuur behels. Hy het van 2006 tot 2008 as NITheP se tussentydse direkteur en koördineerder opgetree. As beskermheer en hooftoekenninghouer van die jaarlikse Chris Engelbrecht Somerskool in Teoretiese Fisika het hy die voorreg gehad om met talle wêreldleiers in teoretiese fisika te skakel wat lesings by hierdie skool aangebied het, insluitend vyf wat later ontvangers van die Nobelprys geword het.

Hy is ’n verkose Genoot van die Royal Society of South Africa en lid van beide die Academy of Science of South Africa en die American Physical Society. Hy het op talle beoordelingspanele gedien, onder meer as sameroeper van die NNS se evalueringspaneel vir Fisika. Hy het by twee geleenthede as ontvanger van ’n Alexander von Humboldt-genootskap ’n jaar lank in Duitsland navorsing gedoen. Hy was ook twee keer die ontvanger van die Universiteit Stellenbosch se Rektorstoekenning vir uitmuntende navorsing.

As rubriekskrywer vir “Wetenskap vandag” in Die Burger en paneellid van RSG se Hoe verklaar jy dit? is hy al langer as ’n dekade betrokke by die popularisering van die wetenskap. Hy was agt jaar lank verbonde aan die redaksie van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Fisika, eers as assistentredakteur en van 1990 tot 1994 as mederedakteur.

Hendrik se wortels lê in die Oos-Kaapse platteland. Hy is getroud met Jane Herholdt en hulle het twee dogters, Jani en Marisa.