Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Rampfonds


Die Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Rampfonds, is ‘n inisiatief van beide die NG Kerk in Noord-Kaapland en Agri Noord-Kaap. Die hele Suid Afrika weet al dat die Noord-Kaap en omliggende streke die afgelope paar jaar geteister is deur ‘n verskeidenheid natuurrampe, veral die uitmergelende droogte, sprinkaanplae en verwoestende veldbrande en nou onlangs die ongekende verwoestende haelstorm tussen Britstown en Strydenburg. Hierdie rampe het veral en is steeds besig om ons voltydse boere en kleiner landelike gemeenskappe te knou.

Die gebied wat ter sprake is, is geweldig groot en sluit die ou Noord-Kaap Provinsie en die nuwe Noord-Kaap provinsie in. Dit sluit dus landboegebiede wat in die huidige Noordwes Provinsie vanaf Mafikeng, oor Stella en Vryburg tot teen Botswanna val tesame met die huidige Noord-Kaap, in.

Die Kerk in Noord-Kaapland tesame met Agri Noord-Kaap organiseer vanjaar weer ’n Camino wat as fondsinsameling vir hierdie Rampfonds dien. Die Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Camino skop Aprilmaand af met ’n Victoria-Wes Camino vanaf 6-12 April 2024. Enige iemand kan hande vat en betrokke raak deur in te skryf en die 139 km Camino saam te stap en as Ambassadeur in ons op te tree. Inskrywings kan gedoen word op die webwerf van Tankwa Camino by https://www.tankwacamino.com/caritas-red-n-plaas-camino

Virtuele Stap

Verder nooi ons Kerke, Skole, Besighede, Aftreeoorde, Sportklubs, individue en soveel meer uit om deel te wees van die Virtuele Stappers gemeenskap. Stap saam, of jy nou in Brakpan, Kaapstad of Duitsland bly. Almal is welkom om saam te stap, of selfs met ’n fiets of rolstoel te ry – op jou plaas, om jou Kerk, skool of sommer net in  die straat af. Enige persoon kan deel raak van hierdie inisiatief om sodoende fondse in te samel vir rampe in die Noord-Kaap. Daar gaan vanjaar ’n groep fietsryers die Cape Town Cycle Tour, meer bekend as die Argus, as Ambassadeurs vir die Rampfonds ry. Enige persoon kan gedurende die jaar enige geleentheid waaraan hulle gaan deelneem, gebruik om as Ambassadeur vir die Rampfonds op te tree. Virtuele stappers en Ambassadeurs kan registreer by https://rednplaas.org.za Tree op as ’n Ambassadeur en vra vriende en familie om jou te borg vir elke kilometer wat jy stap, draf, roei of fietsry. So kan jy saam ’n verskil maak.

 Hoekom kan jy met vrymoedigheid betrokke raak by hierdie projek?

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Noord-Kaapland het in samewerking met Agri Noord-Kaap, sedert 2019 ‘n bewese rekord van hulpverlening in hierdie streek. Sowat R13.1 miljoen is ingesamel en R13.1 miljoen is versprei vir humanitêre en pastorale verligting aan die droogtegeteisterde gemeenskappe in die Noord-Kaap. Geen fondse is teruggehou vir administratiewe fooie nie. Daar is seker gemaak dat elke sent wat ingekom het, uitbetaal is. Die grootste deel van die finansiele hulp was aangewend om boere te help deur hul kinders se toekoms te verseker deurdat die leerders se skoolfondse en studiegeld betaal is. As organisasies het ons die fokus verbreed om juis ook voorsiening te maak vir boere en gemeenskappe wat deur verskeie natuurrampe getref word en nie net droogte nie.

Waarom betrokke raak by Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Rampfonds?

Die Red-‘n-plaas, Red-‘n-Gemeenskap Rampfonds is ’n inisiatief gebore uit die nood van ons wêreld om gemeenskappe en boere in die Noord-Kaapland gebied te ondersteun deur die verskeidenheid van rampe wat ons gebied jaarliks tref. Hierdie rampe het ’n groot impak op voedselsekerheid in Suid-Afrika.  Die huidige regeringsbeleid is ongelukkig dat min of geen hulp deur die fiskus aan hierdie rampgeteisterde gebiede verleen word nie. Soos met verskillende vlakke van ons samelewing, aanvaar gewone Suid-Afrikaners verantwoordelikheid om vir mekaar om te gee tot voordeel van almal.

Daarom nooi ons almal uit:  Maak ’n verskil deur ’n tree te gee!

Gaan lees gerus meer oor die projek by https://rednplaas.org.za en besluit daar hoe jy wil betrokke wees. Al die nodige kontakbesonderhede van die organiseerders is ook op die webblad beskikbaar.

Ds. Deon van der Berg (NGK Stella) en Mev. Janine Byleveld (AgriNK)