RSG en ATKV span kragte saam vir die 27ste Jaarlikse Radiodramaskryfkompetisie


RSG in samewerking met die ATKV bied vanjaar vir die 27ste keer die RSG radiodramaskryfkompetisie aan. Buiten ʼn  handleiding en ʼn slypskool, sal skrywers ook mentorskap ontvang.

Die prysgeld is vanjaar R115 000.  Die algehele wenner ontvang R50 000, die naaswenner R25 000 en die drama wat die derde plek beklee kry R15 000.  Die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal ook R15 000 ontvang.  ‘n Bykomende merieteprys van R10 000 word toegeken aan ‘n drama wat deur die beoordelaars gekies word uit die finaliste wat nie vir die vier topposisies kwalifiseer nie.

Buiten die prysgeld word die wendramas ook in 2024 op RSG uitgesaai.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Donderdag 31 Augustus 2023.  Inskrywings kan per e-pos gestuur word na radiodrama@rsg.co.za.

Radio is intiem. Ons luister radio wanneer ons bestuur, op die rusbank sit, of wanneer ons stap. Dis ʼn gesprek tussen die luisteraar en die omroeper. Net so vertel ‘n radiodrama aan elke luisteraar ʼn storie. Die karakters leef in die luisteraars se verbeelding en so word ʼn splinternuwe wêreld in hul gedagtes geskep.

RSG is opgewonde om hierdie jaar die gesogte kompetisie saam met die ATKV aan te bied. Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur van die ATKV sê dat radiodramas die woordkuns tot binne-in luisteraars se huise neem. Omdat die ATKV weet hoe ’n groot rol radio steeds in baie Afrikaanssprekendes se lewens speel, is dit vir die ATKV ’n voorreg om op hierdie manier by te dra tot die uitbou en bewaring van ons pragtige taal.

Daar is geen voorgeskrewe tema nie. Inskrywings  moet nuwe en oorspronklike radiodramas wees. Geen verwerkings van bestaande materiaal of verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

Die volle spektrum van Afrikaans se variëteite kan gebruik word.  Slegs een inskrywing per persoon word toegelaat.  Die duur van die dramas moet tussen 40 en 50 minute wees – ‘n maksimum van 45 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is.  ‘n Maksimum van sewe karakters word toegelaat.  Die kompetisie sluit 31 Augustus 2023.

‘n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Daar is ook ‘n spesiale blad met skryfwenke vir nuweling-skrywers, asook diegene wat graag aan hulle skryftalent wil skaaf.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen tien en twintig tekste gekies wat dan met die hulp van ‘n mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan daarna hulle tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Volgens Estel de Beer, RSG se Senior Regisseur: Mandaat, is radiodramaskryfkompetisie een van die belangrikste hulpmiddels om nuwe skrywers en gevolglik nuwe stemme te ontdek. Die wye verskeidenhied inskrywings wat ontvang word verseker dat daar menigte onderwerpe is wat aangepreek word.

Besoek RSG se webblad by rsg.co.za vir besonderhede oor die kompetisie, en om die kompetisie se handleiding af te laai.