RSG sit glinster en glans in jou matriekafskeid


Naas jou troudag is jou matriekafskeid een van die grootste glinstergeleenthede van jou leeftyd. Dit is ‘n sprokiesaand wat nog lank onthou gaan word.

In 2023 het RSG die drome van die matriekleerders Alistacia Arendse en Athluano Stevens bewaarheid met ‘n rok en pak wat ontwerp en gemaak is deur 7de Laan se klerekasafdeling. ‘n Spesialisfotograaf het dié aand vir ewig op film vasgevang en RSG se Fran-Rico Lucas was daar om verdere glans aan dié geleentheid te verleen. Vanjaar wil RSG weer twee jongmense se matriekafskeid-aande ‘n onvergeetlike een maak!

In 2024 bied RSG weer hierdie projek in samewerking met die Elizabeth Galloway Academy of Fashion aan. “Dit is die deelnemers se stories wat ons so aangegryp het, dat ons nie anders kon as om die projek weer te loods nie” sê Amoré Swanepoel, RSG se Bemarkingsbestuurder.

Verlede jaar het David Muller Photography ook by dié projek aangesluit, nadat hy Athluano en Alistacia se stories op lug gehoor het. Hy en Fran-Rico Lucas van RSG se Intune en Jazz op RSG, het die pad aangedurf Worcester en Robertson toe om hierdie twee spesiale mense se dag te dokumenteer.

Die Elizabeth Galloway Academy of Fashion gaan hierdie jaar saam met die twee wenners werk om hulle droompak en -rok te ontwerp en te maak.

Volgens Fiona Abdo, direkteur van akademie by Elizabeth Galloway, is “Elizabeth Galloway Academy of Fashion gestig om Elizabeth (die stigter) se doelwit van jong vroue oplei en sodoende te bemagtig, te verwesenlik. Die etos van die Akademie is om die Suid-Afrikaanse jeug deur mode op te voed, ondersteuning aan hulle te bied en sodoende hulle sukses in dié bedryf te verseker. Mode is so ‘n wonderlike manier om jouself te kan uitdruk, daarom het ons begrip vir hoe belangrik ‘n matriekafskeiddans in die lewens van ons leerders is. Dit skep vir hulle ‘n geleentheid om hulself deur mode en stilering te kan uitdruk. Die Elizabeth Galloway-span is bevoorreg en opgewonde om saam met RSG en die kompetisiewenners te kan werk om hul droom te verwesenlik.”

Die wenners word Donderdag 20 Junie aangekondig. Ná die aankondiging begin die opwindende proses om idees uit te ruil, die ontwerpe saam te stel en natuurlik die vervaardiging van die uitrustings. Die Studio47 House of Fashion Fabrics in Somerset-Wes sal die materiaal voorsien.

Jy kan vanaf  27 Mei tot en met 9 Junie, die persoon van jou keuse benoem deur ‘n e-pos te stuur met die volgende inligting:

  • Sluit die persoon wie jy wil benoem se naam en van in
  • Die datum waarop die matriekafskeid plaasvind
  • Die geslag van die benoemde persoon (sodat ons weet of ‘n pak of rok vereis word)
  • ‘n Verklaring dat die benoemde persoon toestemming gegee het dat jy hulle storie met ons mag deel, asook hul inligting
  • Skryf ‘n motivering oor hoekom jy glo dat hierdie idividue verdien om te wen
  • Stuur ‘n e-pos met al die bostaande inligting na info@rsg.co.za
  • Jy kan nie jouself benoem nie en die individue wat benoem is se matriekafskeid moet tussen 1 Augustus en 31 Desember 2024 plaasvind.
  • Die sluitingsdatum is Sondag 9 Junie 2024

RSG se matriekafskeidsprojek word ook Maandag 27 Mei op Expresso op S3 bekend gestel.

Vir meer besonderhede gaan na  www.rsg.co.za of besoek RSG se sosiale media-platforms.

RSG se tweede matriekafskeidsprojek skop af!

Verlede jaar was dit die eerste keer wat RSG ‘n matriekafskeidsprojek gehad het. Ons het honderde inskrywings gekry, en op die ou end is Allistacia Arendse in haar droomrok matriekafskeid toe, en Athluano Stevens in ‘n deftige pak na sy matriekafskeid toe. Vandag skop vanjaar se projek af in samewerking met die Elizabeth Galloway Academy of Fashion. Ons praat hieroor met Fiona Abdo, akademiese direkteur van die Elizabeth Galloway-akademie, en Amoré Swanepoel, RSG se bemarkingsbestuurder.