Rymklets Sonder Grense 2 begin op 6 Julie


Frazer Barry

Die Rymklets Sonder Grense musiek dokumentêr wat verlede jaar vir die eerste keer op RSG uitgesaai is, is terug met ’n tweede seisoen.

Die program sal vanaf 6 Julie tot 7 Sept vir tien weke op die luggolwe wees.

Frazer Barry is die aanbieder wat die wêreld van die rymkletskunstenaar ondersoek. Volgens Frazer is die storie van die rymkletskunstenaar net so belangrik soos die musiek en is dit goed vir die groei van ons taal om te verseker dat daardie stories vertel en gedokumenteer word.

In seisoen een is daar gefokus op die geskiedenis van Afrikaans Rymklets musiek en hoe dit in die vroeë vorms beoefen was. Daar is onderhoude met verskeie rolspelers gevoer met die aandag op die binnewerking van die Rymkletsmusiek kultuur. Die onderhoude het die grootste deel van die dokumentêr beslaan met die musiek wat sowat 40% van die program opgemaak het.

In seisoen twee gaan daar meer kort en bondige onderhoude wees en meer musiek gaan gespeel word. Daar gaan ook onderhoude gevoer word met spesieke rymkletsers vanuit Nederland, Namibië, Noord-Wes Provinsie, Noord-Kaap, Oos-Kaap, Suid-Kaap, Boland, Kaapse voorstede, Sentraal Karoo en die Klein Karoo.

Bryson van Klerksdorp

Die luisteraars gaan ook kennis maak met organisasies wat op verskeie maniere Afrikaans Rymklets as ’n kunsvorm gebruik om jongmense te bemagtig en te genees. Organisasies wat deur Rymkletsmusiek gemeenskapsontwikkeling doen.

Daar gaan dus korter onderhoude met rymkletskunstenaars wees met baie meer musiek en meer kunstenaars wat hul storie kan deel. Seisoen twee gaan ook fokus op die nuwe generasie van Afrikaans Rymklets en hoe hulle die musiek en kultuur verder ontwikkel.

Ons hoop dat die program mense sal opvoed oor die agtergrond van die kunsvorm en dat luisteraars ook die mense wat dit beoefen kan leer ken. Afrikaanse rymkletsmusiek se aanhang is besig om te groei en dit is wonderlik om dit te sien.

Dit is ook goed om te weet dat daar jongmanne en vroue is wat hard werk om die kunsvorm verder te beoefen en ontwikkel. Hoe ons ookal na Afrikaans Rymklets kyk, die feit is,dat dit hier is om te bly en dat ons nog baie daarvan in die toekoms gaan hoor.