SA stuur af op ramp in gesondheidsdienste weens reuse en groeiende tekort aan verpleegkundiges


Suid-Afrika se staatsgesondheidsdiente kan binne agt jaar ineenstort omdat die land afstuur op ‘n tekort aan meer as 60 000 verpleegkundiges teen 2030.

Die tekort aan verpleegkundiges is reeds so groot dat meer as 10 000 poste in staatshospitale nie gevul kan word nie. Suid-Afrika lei sowat 3100 nuwe verpleegkundiges per jaar op, maar baie meer tree jaarliks af. Ons boer teen minus 27% per jaar agteruit wat verpleegkundiges betref terwyl die bevolking groei. Die gaping tussen aanvraag en aanbod raak jaarliks dramaties groter.

Reeds teen 2017 was ons verpleegkundige:bevolkings ratio 1.3:1000 teen die wêreld gemiddelde (nie Eerste Wêreld gemiddelde nie!) van 3.7:1000. Ons lei hopeloos te min verpleegkundiges op.

Saam met dié situasie, was daar reeds in 2017 meer as 30000 doktersposte in staatshospitale vakant. Vakante poste sluit nie poste in wat gevries word as dit langer as ‘n jaar vakant is nie. Meer as een-derde van alle doktersposte op alle vlakke in staatshospitale is vakant of gevries en selfs al word al die poste gevul, is dit steeds ‘n onbevredigende en swak ratio van dokter tot pasiënt en skaars op ontwikkelende lande se standaarde. Die opleiding van SA dokters in Kuba is geensins die oplossing nie. Ook nie die invoer van Kubaanse dokters nie.

Dié syfers is saamgestel uit die HASA verslag, die WGO en verskeie ander studies en ondersoeke, onder meer deur die Kolleges van Geneeskunde.

Binne 8 jaar sal ons na ons eie bejaarde ouers moet omsien. Staatshospitale sal baie sale moet sluit want daar moet ‘n sekere minimum aantal geregistreerde verpleegkundiges per bed wees wat in gebruik is. Stel jou voor: staatshospitale met baie hospitaalbeddens, maar leë hospitaalbeddens. Teaters wat toe staan. Tieners wat by dosyne inkom om te kraam, maar geen verpleegkundiges om te help nie. Siek pasiënte wat by staatshospitale en -klinieke opdaag, en nog langer ure in toue moet wag. Die private hospitale wat al meer van versorgers gebruik maak vir take wat verpleegkundiges moet doen. Al meer verpleegkundiges wat van ander lande soos Indië en Kuba ingevoer word.

Ons kyk na dié skokkende syfers en ook na die opleiding van versorgers en verpleegkundiges.

Waarop moet ’n versorger van bejaardes bedag wees? Wat kan skeef loop? Is versorgers goed opgelei? Waar staan ons met verpleegopleiding as daar meer as 10 000 vakante verpleegposte by staatshospitale is?

Mari Hudson gesels met Dr Annamarie Bruwer, ’n spesialis in verpleeg- en kwaliteitsbestuur, oor dié kwessies.