Skok-feite oor geweld teen vroue


In Suid-Afrika sterf vier vroue daagliks weens geweld deur ‘n lewensmaat. Dit is een vrou elke ses ure, en baie hoër as in ander lande wat met Suid-Afrika vergelyk kan word.

Geweldsterftes in Suid-Afrika is baie hoog en vergelykbaar met die sterftesyfers tydens oorloë. Die insidensie van interpersoonlike geweld as deel van dié syfer, is ook buitensporig hoog – 4 tot 10 keer hoër as in die meeste ander lande. Dit is die hoogste onder die bruin bevolking, en in sekere dele van die Kaapse Vlakte.

In Gesondheid op RSG gesels Marí Hudson met Prof Elmin Steyn, hoof van chirurgie van die Universiteit van Stellenbosch se Geneeskunde Fakulteit en die Tygerberg Hospitaal. As traumachirurg word sy en haar span té dikwels gekonfronteer met traumabeserings wat vroue opdoen weens interpersoonlike geweld.