SONA 2024: wat jy moet weet


Die mees onlangse openingsrede was sowat ‘n uur en veertig minute lank waarin President Cyril Ramaphosa meestal verwys het na die suksesse wat behaal is en die verdere sukssesse wat verwag kan word onder sy regering. Hier is sy staatsrede in ‘n neutedop:

  1. NGV gaan ingestel word: Ramaphosa het belowe Nasionale Gesondhiedsversekeirng (NGV) gaan geleidelik in werking gestel word. NGV sal gratis gesondheidsorg vir alle Suid-Afrikaners verskaf.
  2. Noodtoelae gaan verleng word: Die noodtoelae, wat tydens die covid-19-pandemie ingestel is, gaan verleng word as die volgende stap na inkomstesteun vir werkloosheid. Die toelae is tans R350 per maand en nege miljoen mense ontvang dit.
  3. Einde van beurtkrag is binne bereik want die werk van die nasionale-energiekris-komitee is besig om vrugte te dra.
  4. ‘n Reaksiefonds vir klimaatsverandering is gestig om die gevolge van aardverhitting te hanteer.
  5. Die stryd teen staatskaping duur Voort. Meer as 200 mense word al vervolg en nog baie ander word ondersoek. Bates ter waarde van R14 miljard is bevries wat met staatskaping verband hou
  6. Pogings duur voort om die logistiekkrisis by hawens en die spoornetwerk op te los.
  7. Hervorming van visumstelsel om die agterstand met die toestaan van visums van buitelanders wat in Suid-Afrika wil kom werk te verlig.
  8. Stryd teen misdaad bly ‘n prioritetit

Steun aan munisipaliteite duur voort.

Agtergrondinligting oor SONAS

Die eerste week van Februarie is gewoonlik tyd vir die jaarlikse staatsrede wanneer president Cyril Ramaphosa sy politieke, ekonomiese en maatskaplike vooruitsigte vir die land uiteensit.

Wanneer daar ‘n algemene verkiesing plaasvind, word twee toesprake gelewer: een om die laaste sitting van die uitgaande parlement aan te dui en die ander een na die verkiesing wanneer die nuwe president en parlement bekend gemaak word.

In Februarie 2010 is die staatsrede vir die eerste keer in die aand aangebied om meer Suid-Afrikaners die geleentheid te gun om die verrigtinge dop te hou en na die president se toespraak te luister. As ‘n gevolg van dié verandering het televisiekykergetalle met ongeveer vyf miljoen kykers toegeneem.

Die staatsrede, wat as deel van die jaarlikse opening van die parlement gelewer word, is ‘n toespraak wat deur die president gelewer word by ‘n gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRvP) van die parlement. Die sitting word deur die president byeengeroep en die speaker van die NV en die voorsitter van die NRvP tree as voorsitter op. Dit is een van die seldsame geleenthede waartydens die drie vertakkings van die staat, naamlik die Uitvoerende Gesag (verteenwoordig deur die President, Vise-president en Ministers); die Regbank (verteenwoordig deur die land se Hoofregter en die Regterpresidente); en die Wetgewende Gesag (verteenwoordig deur die Lede van die Parlement (LP’s)) saam op een plek vergader.

Die staatsrede word in drie fases verdeel

Die eerste is openbare deelname wanneer die Burgerlike Erewag die president en sy gaste verwelkom wanneer hulle op die rooi tapyt loop.
Dit word gevolg deur ‘n staatseremonie wat ‘n 21-geweersaluut en ‘n verbyvlug deur die lugmag insluit.
Ten slotte volg die langverwagte toespraak deur die president.

Lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) beman die roete wat die president na die parlement neem. Die Militêre Erewag neem ook aan die seremonie deel en die militêre orkes speel die Suid-Afrikaanse volkslied. Die 21-geweersaluut word afgevuur ter ere van die Hoof van die Staat, die nasionale vlag, die Hoof van ‘n buitelandse Staat, ‘n lid van ‘n heersende koninklike familie en ‘n voormalige Staatshoof.

In sy toespraak werp die president lig op die prestasies en uitdagings van die afgelope jaar en sit die komende jaar in hooftrekke uiteen. Die toespraak dek politieke, ekonomiese en maatskaplike aangeleenthede en besin oor die algemene toestand in Suid-Afrika. Die Staatsrede is ‘n belangrike manier om verantwoording aan die Parlement en die Suid-Afrikaanse publiek te doen oor wat die afgelope jaar plaasgevind het en om die publiek betrokke te kry by die politieke agenda van die komende jaar.

Dis ook ’n geleentheid waartydens gehoop word dat die president ’n besliste reaksie moet gee – en ’n aksieplan moet deel – oor hoe hy en sy kabinet hoop om in die nuwe jaar die land se uitdagings die hoof te bied. Toegegee, dit is geen geringe taak nie, nie met die verskriklike agteruitgang en totale ineenstorting van infrastruktuur weens gebrekkige instandhouding nie. ’n Lang lys beloftes is waarskynlik die meeste waarop Suid-Afrikaners kan hoop wanneer ‘n staatsrede gelewer word.