RSG Realiteitsreeks vir tieners skop af


Na weke se soek, het RSG se baanbrekerrealiteitsreeks, KRAGKAMP, afgeskop.

Volg hierdie reeks vanaf Woensdag, 14 September 2022, weekliks om 19:30 en ontmoet eerstehands die verskillende deelnemers soos die Kompas-aanbieders Arehan Brand en Mar-li van der Merwe, hulle aan luisteraars bekend stel.

Die deelnemers in hierdie nuwe reeks vir jong mense is:
Claudia Stipp (17) van Hoërskool Jan van Riebeeck, Carla van Schalwyk (15) van Hoërskool Stellenbosch, Jaco Venter (15) van Hoërskool Durbanville, Melri Nel (17) van Pionier Skool vir Blindes, Lisa Maree (14) van Hoërskool Outeniqua, Solakha Noyi (15) van Hoërskool Wittedrift, Jody Lackay (15) van Hoërskool Wellington en Luané Terblanche (17) van Hoërskool Bethlehem Voortrekker.

Episode 1: RSG se nuwe tienerrealiteitsreeks, KRAGKAMP, skop af! Ontmoet die eerste vier deelnemers wat aan hierdie baanbrekerreeks gaan deelneem: Claudia Stipp (17) van Hoërskool Jan van Riebeeck, Carla van Schalwyk (15) van Hoërskool Stellenbosch, Jaco Venter (15) van HoërskoolDurbanville, en Melri Nel (17) van Pionier Skool vir Blindes

Episode 2 van RSG se tiener-realiteitsreeks, KRAGKAMP. Arehan Brand & Mar-li van der Merwe stel jou aan die volgende groep deelnemers bekend wat hul vaardighede en kragte wil slyp. Is die volgende tienerheld in hierdie groep? Hulle is Lisa Maree (14) van die Hoërskool Outeniqua, Solakha Noyi (15) aan die Hoërskool Wittedrift in Plettenbergbaai, Jody Lackay (15) aan die Hoërskool Wellington, en Luané Terblanche (17) van die Hoërskool Bethlehem Voortrekker.

 

Met die hulp van die voorste kenners in verskeie vaardighede, bemagtig die aanbieders en die eksperts, deelnemers om sterk te staan in alle fasette van hulle lewens, en om hul lewens te verander.

Die kort uitdagings is só ontwerp dat deelnemers nie net hulself beter sal leer ken nie, maar dan ook ontdek waar en hoe hulle kan verbeter. Deelnemers gaan uitdagings aanpak wat hul vaardighede verskerp in onder andere kook, kommunikasie, redenasievermoëns, bemarking, persoonlike finansies en vele meer!

Volgens Kobus Burger, RSG se waarnemende programbestuurder, is die doel van die reeks om deelnemers én luisteraars tuis te bemagtig met ‘n stel vaardighede wat hulle in alledaagse situasies – van werksoek tot konflikhantering – sal kan toepas. “Die deelnemers gaan hul eie uitdagings en tekortkominge met luisteraars deel en dan sal ‘n span kenners hul bystaan om te verseker dat hulle nie keer op keer in dieselfde slaggat beland nie. Ons glo dat hierdie nuutjie vir radio boonop hoogs vermaaklik en informatief gaan wees.”

Kan die bleeksiel in die kombuis floreer en kan die introverte hul monde uitspoel oor belangrike aktuele sake? Kom reis saam, sonder om ‘n tas te pak, en vind uit, elke Woensdagaand om 19:30 op RSG!

Volg ook al die opwinding op RSG se Instagram (rsg_100104fm) en by die hutsmerk #RSGKragkamp

KRAGKAMP – kom verander jou lewe!