Wat het jy in jou hand?


Lizelle de Bruin

In al die jare wat ek Sondag-joernaal en nou ook Binnekamer aanbied is stories van hoop, dié waarop luisteraars die meeste reageer. In ons land en omstandighede het mense nie net hoop nodig nie maar ook motivering om self die eerste tree te gee.

Die program “Wat het jy in jou hand” (Sondae om 19:00) het in my gedagtes gegroei aan die hand van die Weduwee van Sarfat waarvan ons in 1 Konings 17:8 – 24 in die Bybel lees.

Sy het niks gehad behalwe hoop en drome nie maar wat sy nie in haar desperate omstandighede geweet het nie was dat God betrokke was. God het reeds besluit sy sal deel sal wees van iets groter as haar omstandighede.

Daar is vandag in die moderne lewe nog heelwat van hierdie stories waar mense  kop optel, kyk wat hulle in die hand het en iets daarmee doen. Ek noem hulle graag Engele – gestuurdes –  wat ander mense se omstandighede op die hart dra.

Die 13 episodes van die reeks vertel die stories van gewone mense wat met niks in die hand nie, wel ‘n groot verskil in mense se lewe kon maak. Dis eintlik stories van barmhartigheid maar nie die gewone :”ek gee en jy ontvang” barmhartigheid nie. Dis ‘n nuwe manier van vorentoe gaan en entrepreneur wees met die kommoditeit van skouer aan die wiel sit.

Ons kuier gemaklik saam met al die rolspelers en gaan haal die storie heel aan die begin by daardie eerste gedagte waar die saadjies uitbroei en vra dan ook ‘n teoloog om aan die einde van die program in kort saam te vat om die belangrike punte van die gesprek uit te lig en saam te vat.

Dis gesprekke wat jou aan die hart raak en om soos een luisteraar dit gestel het “Dis die soort aanbieding wat tot ryke seën lei en terselfdertyd sal dit die pawiljoensitters lus maak om speelveld toe te beweeg om te speel en ‘n verskil in die samelewing te maak. Christenwees is lank nie meer ‘n Sondagsaak in die kerkgebou nie! Dis ‘n dag vir dag aksieplan.”

Sondae @ 19:00 (Geloofsreeks)
Wat het jy in jou hand

1 Jan – 26 Mrt

(13 episodes)

Vervaardiger: Wordwise

Aanbieder: Lizelle de Bruin en verskeie gaste

Luister na die eerste episodes in die reeks

Lizelle de Bruin gesels met Stefanie Henderson van Ma’s vir Wellington. Hulle het ‘n kleuterskool in die buitewyke van Wellington vir kinders tussen drie en sewe jaar oud, ‘n driedag oppasdiens en aktiwiteite vir gestremdes in die gemeenskap. Hulle doen ook Bybelstudie saam met die ma’s van die kleuters in die kleuterskool.

ECHO is ‘n geloofsgemeenskap wat omgee vir jongmense in nood. Daar is tans 13 huise en weeklikse programme by elf skole. ECHO Jeugontwikkeling het in 2001 tot stand gekom en is ‘n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy. Daar is Echo-gemeenskappe in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad. Die Echo Plaasprojek is net buite Frankfort in die Vrystaat.

Math Moms skep ‘n veilige ruimte waar kinders wiskunde kan leer. Hulle lei werklose mammas en pappas op om kinders te help met huiswerk. Hulle vergesel ook hierdie mammas op ‘n reis van selfontdekking, waarin hulle hulle eie gawes en sterkpunte leer ken sodat hulle die volgende stap in die toekoms kan neem.