Watse liedjie is dit? Shazam dit!


RSG, wat is die titel van daai liedjie wat ek sopas op lug gehoor het? Shazam dit!, skryf Fritz Klaaste en verduidelik hoe dit werk.

In ons dolle moderne wêreld speel musiek deurgaans ‘n baie belangrike rol. Soms hoor jy “daai liedjie” so skrams en het jy nie die kans om die titel neer te skryf nie, of jy bestuur, of hoor ‘n gunstelingliedjie in ‘n restaurant of in ‘n rolprent, hoe nou gemaak? Die antwoord is makliker as wat jy dink – SHAZAM dit! Maar wat is Shazam?

Dis ‘n selfoontoepassing
En is gratis beskikbaar op die web, vir iOS (operational system), iPadOS, macOS, Apple Watch, Android, Wear OS en ook as ‘n Chrome webtoepassing vir jou rekenaar of skootrekenaar. Die aflaai van die toepassing is gratis en jy betaal slegs vir die data verbruik om die liedjie op te spoor binne enkele oomblikke. Indien jy wel ‘n liedjie opspoor en dit wil aflaai of aankoop, sal jy vir die spesifieke transaksie betaal. Volgens die statistieke groep statista.com het gebruikers die toepassing 30 miljard keer gebruik om liedjies te soek September 2016, teen ongeveer 20miljoen keer per dag. Volgens Statista is daar vandag nie minder nie as 225 miljoen maandelikse gebruikers.

Behalwe liedjie-identifisering, bied die toepassing die volgende toegevoegde dienste:

  • Jy kan saamsing met gesinchroniseerde liriek terwyl jy luister.
  • Jy kan skakel met jou gunsteling musiektoepassing soos Apple Music en Spotify en die liedjies tot jou eie speellyste byvoeg.
  • Skakeling tot musiekvideos van Apple Music en YouTube.
  • Jy kan sien waarna mense in jou eie stad en land luister op trefferslyste.
  • Jy kry aanbevelings van ander liedjies volgens jou luisterpatrone.
  • Jy kan jou liedjies publiseer op sosiale media soos Snapchat, Facebook, Twitter, Instagram, en ander more.
  • Auto Shazam kan ook deurlopend “luister” sonder dat jy ‘n vinger lig.

Shazam is nie die enigste liedjie identifiseringstoepassing nie
Andere is Music ID, SoundHound, MusixMatch, Genius, BeatFind, Soly en Google Now Playing. Die tegnologie ontwikkel by die dag en jy kan selfs nou liedjies in flieks…televisie reekse en advertensies ook opsoek.

Hoe werk die toepassing?
Shazam is in kort ‘n toepassing wat liedjies identifiseer met ‘n uiters gesofistikeerde proses van die spektrogram van ‘n liedjie. Elke liedjie het sy eie unieke spektrogram wat vergelyk kan word met ‘n vingerafdruk of ‘n hond se neusafdruk. Dis heeltemaal uniek tot die liedjie en hierdie is die groot geheim agter die suksesvolle liedjie identifiseringsproses. Jou selfoon “luister” na ‘n paar sekondes van die liedjie, neem ‘n spektogram van die enkele sekondes, en vergelyk dit met die ander 15 miljard spektrogramme in Shazam se databasis. Sodra die opgeneemde spektogram van jou liedjie pas met wat reeds in die databasis is, word die informasie na jou teruggevoer. Die terugvoer sluit in die title, kunstenaar, album, diskografie en biografie, asook die ander inligting bo genoem.

Shazam is ‘n baie interresante naam
Die woord Shazam kom eintlik uit ‘n strokiesprentjieboek, Whiz Comics #2 uit die jaar 1939, en geskep deur strokiesprentkunstenaar C. C. Beck en skrywer Bill Parker. Dit beskryf iets soortgelyks as sim salabim, of kul jou hier….kul jou daar…en siedaar. In die strokiesverhaal is die hoofkarakter Billy Batson, en Shazam sy gunsteling woord. Shazam is ‘n akroniem vir die gode waarmee die karakter sy bonatuurlike kragte deel. S, die wysheid van Salomo; H, die krag van Hercules; A, die uithouvermoë van Atlas; Z, die krag van Zeus; A, die heldhaftigheid van die Trojan oorlogheld Achilles; en M, die spoed van Mercury.