Wenke wat werk


Die program ‘Intussen met Eloise’ het in Julie 2023 afgeskop met ‘n splinternuwe insetsel, getiteld ‘Wenke Wat Werk’.

Elke Woensdag tussen 09:00 tot 12:00 stuur luisteraars, toegewyd en sonder huiwering hulle wenke, wat dan tydens die program uitgesaai word. Dit sorg vir groot pret en vermaak.

Van die gewildste wenke wat die span al ontvang het , is onder meer ‘n teesakkie wat in elke skoen geplaas word om slegte reuke uit skoene te kry, boerseep vir die verwydering van bloed kolle uit klere en ‘Doom’ om die gom van plakkers van glas af te verwyder.

Wenke Wat Werk’ is tans so gewild dat wenke selfs op ander weeksdae gedeel word.

Die driemanskap, Eloise, Veronique en Mari

Eloise, Mari en Veronique deel ook hulle eie wenke in dié uitgawe van die RSG-nuusbrief.

Eloise het die raad ontvang dat sy ‘geheime kouse’ moet dra om te verhoed dat haar sykouse leer. Eloise het die luisteraar se raad gevolg en volgens haar werk dié wenk beslis.

Mari het op haar beurt die wenk gedeel om verlore juweliersware op te spoor wat moontlik op die grond geval het, Mari sê dat jy ‘n ou-sykous oor die deel van ‘n stofsuier moet trek wat gebruik word om stof op te suig. Jy sal dan al die oorbelle en wat dit ookal is wat op die grond beland het, teen die sykous gewaar.

Veronique deel weer haar wenk om sakkies onder jou oë minder prominent te laat vertoon. Sy sê sy het iewers gelees dat modelle Preparation H, wat natuurlik aambei-salf is, onder hulle oë aanwend om pofferigheid te verminder. Sy het dit probeer en sweer daarby!

 

.