Luister weer: ‘n Dokumentêr oor uitbranding


As ‘n man knak word op 1 Februarie 2024 om 20:00 op RSG uitgesaai.

In dié dokumentêr As ‘n Man Knak ondersoek Elsje van Jaarsveld die verskynsel, uitbranding, wat al hoe meer in ons samelewing voorkom.

Elsje van Jaarsveld met sielkundige Du Toit Genis en lewensafrigter dr. Jan Niemand.

Hierdie program bring ‘n verskeidenheid stemme na vore, insluitend dié van sielkundiges, lewensafrigters, maatskaplike beraders en individue wat uit persoonlike ervaring praat.

Jacques Botes

‘n Aangrypende persoonlike getuienis kom van Jacques Botes, ‘n maatskaplike berader wat nie net daagliks berading doen vir mense wat hiermee worstel nie, maar ook self ‘n seisoen van uitbranding ná die Covid-pandemie beleef het. Sy eerlike verhaal illustreer die alomteenwoordige aard van hierdie uitdagende werklikheid.

Die dokumentêr bevat ook insigte van akademici en kundiges wat ‘n wetenskaplike perspektief bied.

Mode-ontwerper Thomas Thomson by die bruid Chantelle Scheepetrs wat sy uitrusting dra.

Profesionele persone, van ingenieurs tot mode-ontwerpers, deel hulle eie ervaring, wat wys dat hierdie probleem nie tot ‘n spesifieke beroepsgroep beperk is nie, maar ‘n universele uitdaging in verskeie lewensterreine.

As ‘n Man Knak bied ‘n indiepte verkenning na uitbranding en dien as ‘n belangrike bydrae tot bewusmaking van hierdie toenemende probleem in ons samelewing. Die program is ‘n roepstem vir empatie en ondersteuning vir diegene wat met uitbranding worstel, en dit moedig ook ‘n gesprek aan oor hoe ons as samelewing hiermee kan omgaan.