Luister weer: Lucy is weg


Lucy en Este

In die dokumentêr Lucy is weg skyn Este de Klerk  ‘n lig op die besondere verhouding wat ons het met ons troeteldiere, en hoe moeilik dit soms is om ‘n besluit te neem ter wille van hulle lewenskwaliteit.

Ook – hoe moeilik dit is om van hulle afskeid te neem, maar veral watter besondere lewenslesse ons by hulle leer.

 

Este vertel:
Dis byna ‘n jaar sedert die vrolike gallop van Lucy se lyfie in my huis stil geraak het; die geklik-klak van haar naels op die teëlvloere. Ek het haar dikwels altyd eers gehoor voordat ek haar gesien het.

Daar het nie ‘n dag in die afgelope tien maande verby gegaan dat ek nie aan haar dink nie; dat ek haar nie intens mis nie.

Die sielskonneksie wat ek met my vierpotige Lucykind gehad het, was besonders en ek ervaar haar afwesigheid in my lewe en my lewenspasie net so intens soos wat ek die afsterwe van ‘n naaste geliefde sou ervaar – juis omdat ek my lewensruimte vir langer as ‘n dekade met haar gedeel het en sy so deel was van my alledaagse bestaan.

Lucy en Este.

Vir my het my wêreld vir ‘n wyle gaan stilstaan. My vertroueling was weg. ‘n Stuk van my hart was uitgeruk.

Die Amerikaanse sielkundige, Julie Axelrod, wys daarop dat die verlies aan ‘n geliefde troeteldier juis so pynlik is omdat troeteldier-eienaars nie net nóg ‘n troeteldier verloor nie: dit is die verlies aan onvoorwaardelike liefde, ‘n getroue lewensmaat wat troos en sekuriteit bring en omdat diere afhanklik is van ons, iemand na wie ons moet omsien. Axelrod is van mening dat die dood van ‘n troeteldier dikwels dieselfde trauma meebring as die dood van ‘n nabye familielid.

Die traumatoloog, dr. Tessa van Wijk, beskryf die band wat tussen ‘n troeteldier en ‘n eienaar bestaan as ‘n sielskonneksie wat nie werklik in woorde uitgedruk kan word nie juis omdat daardie band net tussen siele gevoel kan word. Diere is rein van hart en het onvoorwaardelik lief.

Die intensiteit van die dood van ‘n geliefde troeteldier word nie deur ieder en elk in die samelewing verstaan nie. Dit is asof nie almal in die samelewing die dood van ‘n troeteldier met dieselfde simpatie en respek bejeën as die dood van ‘n geliefde nie. En, juis om hierdie rede gun troeteldiereienaars hulleself dikwels nie die nodige ruimte om oor hul diere te rou nie.

As ‘n troeteldier oud of siek is, is dit onafwendbaar dat tyd besig is om aan te stap. Dit bly egter een van die moeilikste besluite om te neem.

Lucy was geruime tyd siek, en ek het geweet ek gaan ‘n besluit ter wille van haar lewenskwaliteit moet neem, maar hoe bepaal ‘n mens wanneer die tyd reg is?

Ek sou myself nooit volkome kon voorberei op die seer wat ná Lucy se dood sou volg nie, en die trauma is presies dieselfde as om ‘n nabye familielid te verloor.

Video: Lucy was mal oor diereprogramme en Downtown Abby

Eleanor Momberg vertel van haar sielsband met Wally, Jessie en Lulu wat aldrie in een jaar dood is. “Elke keer wat ek ‘n hond verloor, verloor ek ook ‘n stukkie van my hart. Met elke nuwe hond wat in my lewe instap daarna, kry ek ‘n nuwe geskenk wat bygevoeg word tot my hart. As ek lank genoeg lewe en al daardie stukke van my hart kan saamgevoeg word, dan gaan my hart net soos dié van ‘n hond wees: vrygewig, liefdevol, rein en vol lewe.”

Elsabé de Jager deel haar besondere verhaal van hoe Sam, Josef en Toffie elkeen op ‘n spesifieke tyd in haar lewe ingestap en elkeen ‘n spesiale rol gespeel het. “Elkeen van hierdie kinders het my onvoorwaardelik laat bly glo in liefde, dankbaarheid, lojaliteit, blydskap en vergifnis.”

En dan deel Deon Smit, ‘n blinde persoon sy verhaal van Rosa, Sheena, Shadow, Jippy en Chuck, sy gidshonde oor die afgelope vier dekades. “Omdat ek, as blinde persoon so afhanklik is van my gidshond, is daardie hond soos ‘n verlengstuk van my en met elkeen se afsterwe verloor jy so klein deeltjie van jouself,” sê Deon. “Drie van my gidshonde het kanker gekry, en een het pankreasprobleme gehad en om te ervaar hoe hulle steeds so gewillig is om om te werk, maar nie meer kan nie, is hartverskeurend. Hulle verteenwoordig alles wat lojaal en opreg is.”

Vir my was Lucy my Ware Noord.

 

Lucy het in grendeltyd saam met Este opnames gemaak.

Opnametyd onder die duvet

Sy was by as daar opgeneem en geredigeer word.