18 Aug: Aan die Klok


Suid-Afrikaners stap verby hierdie strukture sonder kennis van die ware geskiedenis en rol wat dit in die destydse Kaap Kolonie en slawe se lewens gespeel het. Martelize Brink verken die slaweklok geskiedenis van Suid-Afrika.

Die klokke is wydversprei deur die Wes-Kaap en te vinde op meeste ouer plase in die streek. Slaweklokke is in die destydse Kaap Kolonie opgerig om die daaglikse roetine en lewens van slawe te reguleer en as tydhouer vir die omgewing. Slaweklokke is ook as ‘n noodsein gebruik om gevaar en byvoorbeeld brande aan te kondig. Slaweklokke is nie uniek tot Suid-Afrika nie, maar is ook op slaweplantasies regoor die Amerikas te sien.

Martelize besoek die oudste wynplaas in Suid-Afrika, Groot Constantia, Het Gesticht Museum in die Paarl en die Kaap van Goeie Hoop Kasteel waar die land se oudste slaweklok te vinde is. Dié kloktoring is in 1684 gebou en die oorspronklike klok wat 300 kilogram weeg, is in Amsterdam in 1697 vervaardig. Die klok kan tot 10 kilometer ver gehoor word. Die pilare en argitektuur van die slaweklokke van Suid-Afrika is ook kenmerkend van die Kaap-Hollandse argitektoniese styl.

Slaweklokke is ook gebruik om opstande te organiseer soos opgeteken in die geskiedenis van Kuba.

Die verkenning van dié belangrike geskiedenis van Suid-Afrika word verweef met die verskeie spookstories en mitologie wat oor die jare van generasie tot generasie oorvertel is.

Aan die klok is Donderdagaand 18 Augustus om 20:00 uitgesaai en is deur Martelize Brink saamgestel.

Luister hier na die dokumentêr:

 

Die Paarl Het Gesticht Museum 2

Gilfellan, Hoof uitvoerende beampte van die Kasteel Beheerraad

Kasteel van Goeie Hoop se slaweklok – die oudste slaweklok in SA