25 Aug: Kilometers van Geskiedenis


Bybels in die argief

Diep onder die aarde net Noord van die kabbeling van die Eersterivier in Stellenbosch leef die stilte van woorde, opgeteken in dokumente so ver terug as 1665.

Dis eers wanneer die swaar staaldeur oopgesluit word en die voetstappe van die argivaris die stilte versteur dat die geskiedenis begin lewe kry. Lizelle de Bruin het saam met die Bestuurder van die Stellenbosch Kerkargief diep onder die grond gaan rondstap waar daar 5 km van geskiedenis opgesluit lê.

Daar is verskillende kerkargiewe in ons land, waarvan die een op Stellenbosch die grootste is. Argivalia van 7 van die NG Kerk se sinodes word hier bewaar, en ook die van die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Volkskerk van Afrika en die Congregational Kerk in Pniel. Die kluis word onder spesiale beheerde omstandighede gehou wat die temperatuur en humiditeit beheer. Belangrikste kerklike dokumente wat onder meer die werksaamhede van Sinodes, Ringe en Gemeentes, sowel as die versamelings van die onderskeie predikante insluit word hier gehou. Hierdie versamelings is vir navorsers van groot waarde.

In die dokumentêr, Kilometers van geskiedenis – so vernoem weens die 5 kilometer lopende rakspasie – gesels Lizelle de Bruin met verskeie navorsers oor hoe hulle die dokumente in die argief gebruik.  Dr Lisel Joubert, dosent in Kerkgeskiedenis aan die Kweekskool verduidelik die waarde van die argief vir haar studente en hoe hulle dit gebruik vir die skryf van biografieë. Prof Johan Fourie van die Departement Ekonomie aan die US verduidelik ook hoe hy die kerklike data vir ekonomiese navorsing gebruik. Die familienavorser, Aubrey Springveldt, gesels oor die waarde van doop- en trouregisters vir sy navorsing veral as dit kom by die vroeë tye se slawe en selfs van die inheemse volke wat in hierdie Kaapse Kerk registers aangeteken is.

Daar is egter nie net inligting oor mense nie maar ook oor kerkklokke en musiek. Kerkgeboue het die hart van die gemeenskappe gevorm. Die kerktoring was van ver af sigbaar en Prof Tobie de Wet het interessante vertellinge oor kerkklokke. Prof Erik Dippenaar het al navorsing oor kerkmusiek gedoen en hy vertel ook van die musiekstukke wat hy in ‘n privaatversameling opgespoor het.

September is Erfenismaand en dit is goed om te weet dat hierdie baie spesiale versameling van kerklike dokumente vir die nageslag bewaar word deur ‘n bekwame span argivarisse. Hulle passie om die geskiedenis lewend te hou maak van die Argief ‘n bron van kennis vir die kerk, die navorser en die gewone mens op straat. Socraties het gesê – An unaxamined life is not worth living en in hierdie besondere argief is daar vele verhale van deurleefde lewens wat ondersoek kan word.