Donderdagaand: 30 Jaar van Demokrasie – Roelf se rol


Roelf Meyer

Op 2 Februarie kondig die destydse president FW De Klerk aan dat hy Nelson Mandela ná 27 jaar uit die tronk gaan vrylaat en politieke organisasies soos die ANC, PAC en Azapo ontban.

Onderhandelings tussen die NP, ANC en ander politieke partye het kort daarna begin oor die pad voorentoe vir ‘n nuwe Suid–Afrika.

Nadat die onderhandelings laat in 1991 gestaak is, is dit in 1992 hervat met Cyril Ramaphosa as die ANC se hoof-onderhandelaar en Roelf Meyer in dieselfde pos by die NP regering.

Meyer en Ramaphosa moes hul politieke partye se mandaat gedurende onderhandelings op die tafel plaas.

Meyer en Ramaphosa het gedurende die onderhandelings ‘n goeie vriendskap ontwikkel en het baie kere privaat ontmoet om oplossing vir die land se probleme te vind en die baan te weg vir ‘n demokratiese Suid-Afrika.

Tydens die CODESA-onderhandelings is ooreengekom dat ‘n nuwe grondwet aanvaar moet word waar alle landsburgers as gelyk gesien word. Die datum vir die eerste demokratiese verkiesing is bepaal en daar is besluit op ‘n regering van nasionale eenheid.

In die dokumentêr 30 jaar van Demokrasie: Roelf se rol vertel Roelf Meyer oor die proses om Suid-Afrika van ‘n apartheidstaat na demokrasie te neem en hoe naby die land aan ‘n burgeroorlog was. Hy vertel ook van die impak wat beide FW De Klerk en Nelson Mandela op hom gehad het.

Ons hoor ook van Roelf se voormalige kollegas en opponente oor die rol wat hy destyds in die onderhandelings gespeel het.

Roelf gee ook sy mening oor waar Suid-Afrika vandag as land is,  kyk terug na die onderhandelings, die eerste demokratiese verkiesing, die regering van nasionale eenheid en wat die land die afgelope 30 jaar vermag het, maar analiseer ook foute wat begaan is.

Die dokumentêr 30 jaar van demokrasie: Roelf se rol word Donderdag 21 Maart om 20:00 op RSG uitgesaai.