Luister weer: Tik op die platteland


Tik/Metamfetamien kristalle

Goedkoop, maklik om te vervaardig, toeganklik, hoogsverslawend en destruktief.

Tik- oftewel metamfetamien-afhanklikheid verwoes ons klein dorpies in Suid-Afrika.

Donderdagaand 31 Augustus om 20:00 op RSG kan jy luister na ‘n dokumentêr deur Martelize Brink Tik op die Platteland.

Die persepsie dat dwelms meer beskikbaar is in “Sodom en Gomorra”, die groot stede van die wêreld, is ‘n mite.

Tik het ons plattelandse dorpies geïnfiltreer en is besig om verwoesting te saai.

Die dokumentêr Tik op die Platteland het reeds ‘n dekade gelede vorm begin aanneem na ‘n besoek aan een van ons klein kusdorpies. Tydens die besoek het gemeenskapslede reeds hul misnoë met die gebruik van dié dwelm uitgespreek waar tik begin het om stelselmatig hul gemeenskap te verwoes.

Hierdie dorpe is ook by tye in afgeleë gebiede, ver weg van dienste soos sielkundiges, psigiatriese susters en dokters om die probleem aan te spreek. Wat doen owerhede om die handel in metamfetamien of te wel tik te stop?

Watter gemeenskapsorganisasies op die verskillende dorpe probeer ingryp? Wat is die impak van dié dwelmhandel en verslawing op die klein dorpies se ekonomieë?

Dit is ‘n groep vroue wat deur FAMSA in die Karoo opgelei is as bystandwerkers om mense wat aan dwelms verslaaf is, te help.

Dr. Hannelie Shone het haar PhD gefokus op die uitdagings van maatskaplike werkers wat op die platteland dienste lewer aan volwassenes wat aan tik verslaaf is. Dr. Shone is tans in diens van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, Wes-Kaap as maatskaplike werk toesighouer op Oudtshoorn.

Volgens Krige affekteer die effek van tik nie net die verslaafde individu of hul familie-lede nie, maar is daar ook ‘n geweldig negatiewe impak op maatskaplike werkers. Dr. Shone bied die raamwerk vir hierdie dokumentêr.

Elisabe Berry van FAMSA lei “bystandswerkers” op wat hierdie probleme in die gemeenskap aanspreek. Volgens Elisabe werk sy met ouers waar al hul volwasse kinders aan tik verslaaf is. Berry meen dit steel nie net hul aardse besittings nie, dit steel ALLES van dié gesinne.

Ander kenners en gaste in die dokumentêr Tik op die Platteland sluit in

  • Lilly Booysen van die CAB nasorggroep, voorsitter van die LDAC (local drug action committee),
  • Phillip Seroux, Patrick Blaauw, voorsitter van die gemeenskap,
  • gesinne wat geraak word,
  • gemeenskapslede en persone wat self met hierdie verslawing geworstel het.

Tik op die Platteland, ‘n dokumentêr deur Martelize Brink Donderdagaand 31 Augustus om 20:00 op RSG.