Luister weer: Diva, in die wáre sin van die woord


‘n Profieldokumentêr oor Emma Renzi, deur Ina Strydom

Die HAT verklaar “diva” soos volg:  Afkomstig uit die Italiaans, ‘n beroemde sangeres/aktrise; suksesvolle vrouekunstenaar; primadonna. (Lg is ook uit Italiaans en beteken “eerste sangeres van ‘n opera”)

 

Diva is ook die Latyn vir godin.

Emma Renzi as Aïda

Emma Renzi het in April vanjaar 97 geword. Sy is in Heidelberg gebore, en het ná matriek aan die operaskool van die Universiteit van Kaapstad studeer.  Daarna is sy na Londen, waar sy opleiding gekry het by die Opera Studio.

Ná tien jaar en talle optredes, verhuis sy na Sisilië in Italië vir opleiding wat uiteindelik haar stem tot sy volle reg sou laat kom.  Renzi bestempel dié tyd as die wonderlikste tyd van haar lewe.  Maar haar wyse leermeester moedig haar aan om verder te gaan, na Rome of na Milaan waar sy ‘n loopbaan sou kon bou.  En so verhuis sy na Milaan.

Emma Renzi as Tosca saam met Giuseppe Campora in Johannesburg in 1963.

Sy was die eerste Suid-Afrikaner wat in die heiligdom van opera, die La Scala Operahuis gesing het toe sy in 1967 sy haar debuut daar gemaak as Abigaille in Verdi se Nabucco.

In kostuum

Daarna sou sy in al die belangrike operahuise in Italië sing, maar ook in onder ander Zurich, Mexicostad, Buenos Aires, Barcelona en Lissabon.  Tussendeur het sy gereeld vir ‘n tydperk teruggekeer na Suid-Afrika.

 

In haar jonger dae

Renzi het onder meer opgetree by die opening van die destydse Nico Malan-teater (vandag Kunstekaap); die Stadskouburg in Johannesburg (die Civic) en die Staatsteater in Pretoria.  In 1979 terwyl sy groot aansien in Europa en elders geniet het, het sy besluit om dié internasionale loopbaan vaarwel toe te roep en na Suid-Afrika terug te keer.

Sy sluit haar by die Universiteit van die Witwatersrand se Operaskool aan, en daarna onderrig sy die sangkuns by die destydse Pretoria Technikon (Tshwane Universiteit van Tegnologie).  Ná haar aftrede, en tot vandag toe nog, gee sy privaat sanglesse by haar huis in Johannesburg.

Emma Renzi op haar 90ste verjaarsdag

Om terug te keer na die benaming diva: Emma Renzi is by uitstek beroemde sangeres en eerste sangeres van ‘n opera met rolle soos Tosca, Turandot, Aïda, Lady Macbeth, Abigaille en Santuzza op haar kerfstok.

Maar sy is ook statig en elegant en wellewend; in haar jonger dae ‘n ywerige tuinier, en iemand wat haar eie baie deftige klere gemaak het. Daarbenewens is sy tot vandag toe nog ‘n ywerige ondersteuner van Springbokrugby!  Emma Renzi is ook ‘n diva van die gees.

 

Lees meer oor Emma Renzi: https://af.wikipedia.org/wiki/Emma_Renzi