Sondae op RSG – Midas of ‘n middagslapie?


RSG luisteraars sal vanaf Sondag 6 Julie moet kies – die musiekprogram Die Midas van Musiek of ‘n middagslapie?

Die vyfde reeks van die gewilde Die Midas van Musiek begin op Sondag 6 Julie om 14:00, met RSG se programbestuurder, Kobus Burger, wat weer agter die mikrofoon sal inskuif.

In hierdie splinternuwe reeks van dertien episodes sal die goue treffers van kunstenaars soos Tina Turner, Simply Red, Marilyn Monroe, Phil Collins, Sammy Davis Jr, die Bee Gees en vele ander gehoor word.

In die Griekse mitologie was Koning Midas geseën met ‘n besondere gawe – alles wat hy aangeraak het, het in goud verander.

Die maatstaf vir sukses in die popmusiekbedryf is dikwels goue status vir albumverkope. En tog is daar sangers, liedjieskrywers en selfs produksieleiers wat met die Midas-aanraking kon spog sonder dat hulle noodwendig daardie miljoene kortspelers of albums verkoop het.

Hierdie reeks stel nóg van hierdie Midas-musikante bekend en is ‘n voortsetting van die eerste, gewilde reeks wat in 2018 afgeskop het.

Volgens Kobus Burger sal daar suiwer nostalgie, verfrissende feite asook ‘n paar verrassings wees.

“Elke Midas-program is ’n ‘storie’ in die kleine. Dit verras my telkens as luisteraars my vir die stories, pleks van die meesleurende musiek en immergroen liedjies bedank,” sê Kobus.

“Die samestelling van Die Midas van Musiek is gewoonlik ‘n opwindende snuffeltog. Buiten die musiek – waarvan daar gewoonlik hopeloos te veel is om van te kies – is dit soos om vir ‘n paar dae in die voetspore van ‘n besonderse kunstenaar te loop en dan ietsie van daardie ontdekkingstog in klank te deel. Ek sien daarna uit om weer Sondae saam met die luisteraars te reis en hul luilekker middae met Midas se goud te omboor.”

Luister van Sondag 5 Julie, elke Sondagmiddag om 14:00, na Die Midas van Musiek met Kobus Burger.

WAT DIE LUISTERAARS Sê

 Weer eens volpunte vir jou! “Die Midas van Musiek” is elke keer skitterend. Dis elke kriesel navorsing en bloedsweet wat jy daarin sit deur en deur werd. Dankie! – Hettie Sieberhagen

 “Ai ek geniet jou programme so verskriklik, moet asseblief nooit ophou nie….en jy kan maar die herhalings oor en oor weer uitsaai.” – Retha le Roux, Boggomsbaai

“Ja, ’n WOW vir Kobus se Midas van Musiek. Ek geniet elke week. Vanoggend het trane van geluk oor pragtige herinneringe ook heerlik oor my wange gevloei. Baie dankie.” – Anoniem

“Wow. Dankie baie vir jou stunning navorsing en goeie musiek. Hou so aan. Duisend dankies.” – Lenette Viljoen

Baie dankie dat jy die afgelope paar maande my Sondagoggende so spesiaal gemaak het. Elke Midas-program was spesiaal op sy eie manier want elke kunstenaar was net eenvoudig uitsoekgehalte. Baie dankie vir jou harde werk om hierdie spesiale programme saam te stel. – Kleintjie Cilliers, Alberton

Beste program ooit. Ek geniet dit vreeslik baie – Marlene Oosthuizen 

Ek is verlief op jou kennis oor van musikante en mooi MUSIEK. Ek is baie lief vir MUSIEK en die ontspanne aanbieding is absoluut wonderbaar! Baie dankie vir programme wat ons kan neem om te  ontspan op ‘n musiekeiland! – Amelia de Lange, Tzaneen

Maak asseblief die “Die Midas van Musiek” en Kobus Burger ‘n  gereelde en baie dikwels deel van RSG se programme. Bravo!!! Dit was dié beste manier om vanoggend die dag te begin! – Adri Visagie 

 Baie dankie, Kobus, weer eens vir die woes lekker luisterprogram. – Rita de Clercq