‘n Liefdesgeskiedenis – ons ‘nuwe’ middagvervolgverhaal uit die argief
‘n Liefdesgeskiedenis is ons volgende middagvervolgverhaal.
Luisteraars kan vanaf Maandag 4 Augustus, weeksdae om 14:45 inskakel vir ‘n verhaal vol romantiese intrige. Luister weeksdae om 14:45 in op RSG, of aanlyn by rsg.co.za, na ‘n Liefdesgeskiedenis deur Cor Nortjé (1938 – 2020), met regie deur Margot Luyt (1984 – 2021) en Joanie Combrink. Die episodes is ook na afloop van die uitsending op potgooi en Spotify beskikbaar
Dié argiefopname is ‘n juweel uit die ryk geskiedenis van radiovervolgverhale in Afrikaans. Dit is ook ‘n huldeblyk aan die groot geeste wat die weg gebaan het vir vervolgverhale om vandag nog te floreer.
Die regie van die 2008-opname is aanvanklik deur Margot Luyt behartig terwyl Joanie Combrink as regisseur opgelei is. Combrink het later die regie van die reeks oorgeneem. Luyt, wat vanaf 1978 by radio en televisie betrokke was, het ‘n groot rol gespeel in menige spelers en regisseurs se loopbane.
‘n Liefdesgeskiedenis is geskryf deur Cor Nortjé. Nortjé het diep spore getrap in radio sowel as televisie. Hy was ook ‘n gerekende radiodramaskrywer. Erika Terblanche skryf in ‘n artikel op LitNet dat Nortjé vanaf 1968 tot 1972 Organiseerder: Afrikaanse radiodrama was. Sy skryfloopbaan het radio- en televisiewerk ingesluit, en hy het verskeie boeke op sy kerfstok gehad. Hy het ook Regte studeer en is in 1985 as prokureur toegelaat. Die vervolgverhaal, ‘n Liefdesgeskiedenis, is die eerste keer in 1979 op Radio Suid-Afrika uitgesaai.
Pieter van Zyl, een van die spelers in ‘n Liefdesgeskiedenis, onthou oor die eerste opnames in 2008: “Met die aanvang van die opnames het ek gesukkel om die regte aanslag te vind vir Louis Klopper Junior, die karakter wat ek vertolk het. Daar was ‘n effense gestremde, maar mooi en onskuldige kwaliteit aan hom. Margot Luyt, wat die regie van die eerste episodes behartig het, het vir my gesê daar is ‘n spesifieke gesigsuitdrukking wat hierdie karakter het. Ek herroep dit ná al die jare nog so goed toe sy deur die glasvenster van die regiekamer aan haar voorkop, tussen haar oë raak en sê : “Pieter, jy gaan hom hier kry”. Ek het onmiddellik verstaan wat sy bedoel.
By nabetragting was ek weereens verstom deur die allesomvattende kwaliteit van radiowerk – dat selfs ‘n fisieke kenmerk in die stem (en dus in luisteraars se verbeelding) gestalte kry.”
Die storie en karakters
Die storie handel oor ‘n skrywer, Louis Klopper, wat ná twaalf jaar weer terugkeer huis toe vir ‘n nuwe avontuur as draaiboekskrywer.
Geskei, ietwat vervreem van sy gesin en onseker oor wat op hom wag, pak Louis die nuwe avontuur aan. Een van sy bekende boeke word in ‘n televisiereeks verwerk. Dis juis op ‘n televisiestel waar Louis sy vele talente ten toon stel wat tot ‘n warrelwind romanse lei, met verreikende gevolge.
Soos dit enige storie betaam is daar genoeg drama, intrige en hartseer om hierdie verhaal waarlik ‘n Liefdesgeskiedenis te noem.
Die spelers
Nic de Jager kan as Louis Klopper gehoor word, Susanne Beyers speel Louis se eks, Thérèse.
Die rolverdeling bestaan verder uit
Leon Kruger (Jan Klopper),
Pieter van Zyl (Louis Junior),
Nina Swart (Liz Klopper),
Roeline Daneel (Wilma Louwrens),
Francois Toerien (Peet Steyn),
Pedro Kruger (Ben Loots),
Marko van der Colff (Schalk de Villiers),
Frieda van den Heever (Nita du Toit),
Deon van Zyl (Wimpie Louw),
Thérèse Hulme (Joan du Toit),
Johan Nel (Fritz du Toit),
Freidrich Smit (Roelf du Toit) en
Stephanie Badenhorst (Ans Nel).
Lees gerus verder oor: