Afrikaanse radio word 85 jr oud: Ons maak reg vir groot feesvieringe in Oktober


In Oktober vanjaar vier RSG die 85 Jaar van Afrikaanse Radio met ‘n aanloklike spyskaart vol feesvieringe, wat ‘n luisterryke, regstreekse konsert sal insluit.

Op 27 Oktober 1937 is “die Afrikaanse Diens van die SAUK” gebore en het later onder andere as Radio Suid-Afrika bekend gestaan. Deur die jare het die stasie van krag tot krag gegaan en is lankal nie meer tot die lugweë beperk nie.

Luisteraars kan nou van regoor die wêreld inskakel via RSG se webblad, terwyl bykans al die stasie se programaanbod as potgooie beskikbaar is. Radio is soveel meer as ‘n getroue metgesel, ‘n betroubare nuusbron, asook verskaffer van vermaak en musiek.

Die 85ste verjaardag sal gevier word deur onder andere ‘n reis deur die gewildste programme, omroepers, geskiedkundige en sportgebeure en selfs die heel grootste treffers van die afgelope bykans nege dekades. En luisteraars sal genooi word om hul herinneringe, staaltjies en musiek te deel.

Kom deel in die nostalgie as ons weer gaan luister na “Flink uit die Vere”, die kommentator Gerhard “Spiekeries” Viviers, “Vrypostige Mikrofoon” en die deuntjies van 1937 tot nou.

Maak seker jy is deel van die feesvieringe deur RSG se webtuiste dop te hou, sosiale media en natuurlik ingeskakel te bly via jou draadloos, potgooie, Openview kanaal 615, DSTV Audiokanaal 813 en die SABC News mobiele toepassing.