Alhoebekker spog met twee splinternuwe insetsels


Blydskapsnavorser Johannes de Villiers

Woensdag 10 Augustus om 09:30 het die skrywer, meditasie en joga-instrukteur, Johannes S. de Villiers afgeskop met sy interessante praaitjie oor blydskap, ons noem dit Die Blydskapsnavorser. Johannes is die skrywer van drie boeke getiteld Blydskap, Meer as jou seerkry, en Kalmte in die Malle Gejaag.

Luister na een van Johannes se insetsels:

Skrywer en digter, Danie Marais

Maar, dis beslis nie al wat jy in jou dagboek kan aanteken nie – Donderdag 25 Augustus om 10:30 sluit die skrywer en digter, Danie Marais ook vir die volgende paar weke by Alhoebekker aan.

In Liedjies met lang asems sal gekyk word na interessante stories agter groot musiektreffers. Maak seker dat jy nie hierdie insetsels misloop nie.

Luister na ‘n klankuittreksel van die eerste uitsending van Liedjies met lang asems deur skrywer en digter Danie Marais wat Donderdae om 10:30 in Alhoebekker uitgesaai word.

 

Meer oor die Blydskapsnavorser en die program
Johannes de Villiers is ’n skrywer en meditasie-instrukteur van Bloemfontein. Hy het reeds drie boeke oor mindfulness en emosionele welstand geskryf: Kalmte in die Malle Gejaag, Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n Vreugdevolle Lewe, en Meer as jou Seerkry. Hy dien ook op die redaksie van Huisgenoot. Johannes is in Suid-Afrika, maar ook in Mianmar en die VSA opgelei as meditasie-instrukteur en gesels graag met mense oor die jongste navorsing (en ou wysheid) oor hoe mens blydskap kan aanleer.

Onderwerpe gaan insluit:

  • Is daar ’n verband tussen gewig en blydskap? Sal jy gelukkiger wees as jy gewig verloor?
  • Wie is die gelukkigste – ouer mense of jonges? En hoekom?
  • Sal ‘n trouring jou gelukkig maak? Watter impak het huwelike en verhoudings op mense se geluk?
  • Wat kan jy koop wat jou gelukkig sal maak?
  • Is daar regtig iets soos ‘n krisis van die middeljare? Wat is die Einde van die Geskiedenis-illusie?
  • Impak van jou selfoon en sosiale media op jou blydskap. Praktiese wenke vir digitale verslawing.
  • Hoeveel geld het jy nodig om gelukkig te wees?
  • Wie is die gelukkigste man wat nog ooit geleef het en hoekom? Breinnavorsers het dalk ’n antwoord.