Bekende violis bied musiekreeks op RSG aan


Zanta Hofmeyr

Een van die land se bekendste violiste, Zanta Hofmeyr is die aanbieder van ‘n musiekreeks wat Sondagoggende tussen 10:00 en 11:00 op RSG uitgesaai word.  Die reeks, Beroemde violiste van die 20ste eeu, het op 3 Oktober begin.

In die reeks van 13 episodes fokus sy onder meer op van die beroemdste vroeë 20ste eeuse komponiste, soos Fritz Kreisler en Yehudi Menuhin, op die verskillende skole soos die Russiese, Duitse en Frans-Belgiese skole, violiste wat ook komponiste is, beroemde konsertmeesters en filmmusiek vir vioolsolo’s.

Meer oor Zanta
Zanta se eerste konsertoptrede met orkes was op 14-jarige ouderdom in ‘n uitvoering van die Wieniawski Concerto in d mineur. Op 17-jarige ouderdom begin sy aan die Juilliard Skool vir Musiek in New York studeer. Na haar graduering het sy haar New-York-debuut in 1985 gemaak as die wenner van die Artists International-kompetisie in die ‘Weill Recital Hall’  (deel van Carnegie Hall).

Zanta het dieselfde jaar vanuit die VSA teruggekeer na Suid-Afrika en ‘n suksesvolle loopbaan as konsertviolis en vioolonderwyser gebou. Benewens jaarlikse optredes saam met pianiste tree sy ook gereeld as solis met verskeie orkeste in Suid-Afrika op.  Sy werk saam met ‘n verskeidenheid van kunstenaars. Saam met die pianis Malcolm Nay ontvang sy groot lof vir haar uitvoerings van die 10 vioolsonates van Beethoven, sonates van Brahms, Prokofiev en Grieg, Schubert en Schumann. In 2011 behaal sy saam met die pianis Elna van der Merwe groot sukses in ‘n konsert in die Teatro Manuelle in Valetta, Malta. In 2016 onderneem sy ‘n toer in Suid-Afrika en Amerika saam met die Bulgaarse pianis, Ilia Radoslavov met uitvoerings van die 10 Sonates van Beethoven vir klavier en viool. In 2019 voer sy ‘n volledige Schubert program saam met die pianis, Jan Hugo uit.

Sy gee deurgaans vioolles, hetsy privaat of by universiteite. Sy was verbonde aan die Universiteit van Noordwes, die Universiteit van die Witwatersrand en vanaf 2000 vir vyf jaar mede-professor by die Universiteit van Pretoria. Sedert 2006 is sy deeltyds betrokke by laasgenoemde twee universiteite. Sy het klas gegee by die Morekolodi skool in Ga-Rankuwa in 2000-2002 is tans beskermheer van die Thabang ka Mmino musiekprojek in Soweto.

Zanta het reeds verskeie toekennings ontvang, insluitend ‘n Fiësta toekenning in 2019 vir Viool Dialoog saam met Miro Chakaryan en Olive Sandilands, Rapport/City Press se ‘Woman of the Year’ in 2004, en in 2005 ‘n Afrikoon toekenning van die ATKV.  Sy het ook verskeie CD’s op haar kerfstok.

 

Beroemde violiste van die 20ste eeu, aangebied deur Zanta Hofmeyr, Sondagoggende 10:00 op RSG.