Luister weer: Beurtkrag – ‘n Donker Suid-Afrika


2023 is by verre Suid-Afrika se slegste beurtkragjaar ooit. In die afgelope 16 jaar, vandat beurtkrag die eerste keer in 2007 toegepas is, steier Eskom van die een krisis na die volgende.

Dít terwyl die regering ‘n mandaat het om voldoende opwekkingskapasiteit aan die land te voorsien. Maar, waar en wanneer en hoekom het die regering gefaal om uitvoering te gee aan hierdie plig? Wat is die moontlike oplossings?

Wat is die emosies wat beurtkrag – soos wat ons dit daagliks beleef – by jou ontketen? Dit is so deel van ons lewens, dat ons só verheug is op die dae wanneer dit nié toegepas word nie: so asof ons reeds soveel vrede daarmee gemaak het dat die teenkant – wanneer dit nié toegepas word nie – soos ‘n voorreg voel, in plaas daarvan dat die voorreg dié moet wees dat daar juis voldoende beskikbaarheid opwekkingskapasiteit behoort te wees wat in ons daaglikse behoeftes sou kon voorsien.

Maar, ons het nie ‘n keuse nie. Ons moet aanpas en plan maak juis omdat beurtkrag deel is van ons daaglikse bestaan.

“I’m going to tell the country there will never, never, never be loadshedding again. Thank you very much for that, thank you.” Só het oud-president Jacob Zuma in 2016 gesê.

Sewe jaar later, steier Suid-Afrika onder die ergste beurtkrag ooit.

“Suid-Afrika het nog nooit so baie ure en so groot hoeveelheid eenhede wat gesny is in terme van elektrisiteitsopwekking gehad as in 2023 nie. So, hierdie is by verre ons slegste jaar wat beurtkrag betref ooit,” sê die onafhanklike energiekenner, Corneels Schabort.

Indirek, kan die voorsiening van elektrisiteit sekerlik beskou word as ‘n reg wat elke Suid-Afrikaner verdien. Die regering het ‘n mandaat om genoeg beskikbare elektrisiteit te voorsien.

Waar en wanneer en hoekom het die Suid-Afrikaanse regering gefaal om uitvoering te gee tot hierdie plig?

In die dokumentêr, Beurtkrag: ‘n Donker Suid-Afrika trek die RSG nuus- en aktualiteits-vervaardiger en -aanbieder, Esté de Klerk die lyne bymekaar van hoe Suid-Afrika in hierdie situasie beland het waarin ons onsself op die oomblik bevind.

Aan die hand van argiefmateriaal en onderhoude met kenners, ondersoek Esté watter besluite wanneer geneem is en hoe dit daartoe bygedra het dat die regering aan die einde van 2007 die eerste moes begin om beurtkrag toe te pas en wat het in die 18 jaar daarna gebeur tot waar beurtkrag in 2023 byna elke dag toegepas moet word? En, wat hou die toekoms in?

Beurtkrag: ‘n Donker Suid-Afrika word op Donderdag om 20:00 uitgesaai.