COVID-19 in wêreld: Virgin Atlantic bankrot


Die jongste nuus en syfers oor COVID-19 in die wêreld

Lees hier alles oor die globale syfers, in watter lande die syfers steeds styg, watter lande die siekte onder beheer begin kry, en die stappe wat in verskillende lande geneem word om COVID-19 hok te slaan. Lees ook die jongste navorsing om ‘n entstof te vind. Ons bring jou die nuus soos dit ontvou.

17 Aug 2020
Die wêreldsyfer staan op byna 22 miljoen, en die herstelsyfer op meer as 14 miljoen. Die aantal steftes is 774 442 – minder as die sterftesyfer van 1,1 miljoen weens Asiese griep in 1957 en die sowat 2,5 miljoen sterftes weens Hong Kong griep in 1968 te middel van ‘n kleiner wêreldbevolking. In 1957 en 1968 het geen inperkings gegeld nie.

7 Aug 2020

5 Aug 2020

Virgin Atlantic het in Amerika aansoek gedoen om bankrot verklaar te word te midde van die coronavirus-pandemie se vernietigende impak op die wêreldwye lugvaartbedryf. Die lugdiens wat in Brittanje gebaseer is, soek beskerming onder hoofstuk 15 van die Amerikaanse bankrotskapkode wat ‘n buitelandse skuldenaar toelaat om sy bates in die land te beskerm. Dit is die tweede lugdiens onder die Virgin-vaandel wat vanjaar handdoek ingooi. Virgin Australia is in April onder administrasie geplaas.

Die goudprys het vir die eerste keer tot bokant tweeduisend dollar per ons gestyg met handelaars wat ‘n veilige hawe vir hul beleggings soek te midde van kommer oor die coronavirus-pandemie en toenemende spanning tussen Washington en Beijing. Die goudprys het reeds met meer as 30 persent sedert die begin van die jaar verstewig.

Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Antonio Gueterres het gewaarsku dat die wêreld deur ‘n ramp in die gesig gestaar word weens die sluiting van skole as gevolg van die coronaviruspandemie. Hy sê dit moet ‘n prioriteit wees om leerlinge terug in die skool te kry. Die VN het sy beleid oor onderwys in die lig van die pandemie uiteen gesit. ‘n Dringende beroep word op lande gedoen om skole en onderwysinstellings te heropen sodra die plaaslike oordrag van die virus onder beheer is. Teen die middel van Julie was skole in meer as 160 lande gesluit wat sowat ‘n miljard leerlinge raak.

 

20 Julie 2020

Meer as die helfte van die COVID+ mense in die wêreld, het reeds herstel.

13 Julie 2020

‘n Paneel van die Verenigde Nasies – bestaande uit internasionale gesondheidskenners – sê die coronaviruspandemie kan aanleiding gee tot ‘n 20-persent afname in gesondheids- en maatskaplike dienslewering aan ván die wêreld se kwesbaarste groepe. Daar is tans meer as 12-komma-9-miljoen bevestigde Covid-19 gevalle wêreldwyd, met nagenoeg 570-duisend sterftes. Die paneel sê voor die coronavirusuitbreking was daar reeds kommer oor die gesondheidstelsels van arm lande, maar die pandemie het die situasie nou vererger. Die paneel voorspel dat daar ‘n bykomende 400-duisend sterftes onder kinders, jonger as vyf jaar sal wees, terwyl moedersterftes met meer as 24-duisend kan styg.

8 Julie 2020

29 Junie 2020

Die lande met die meeste gediagnoseerde gevalle

Bevestigde sterftes wêreldwyd weens die coronavius het die halfmiljoen-kerf verbygesteek. Meer as 10 miljoen mense het die virus onder lede. Amerika is die land wat die ergste geraak word, met meer as 125-duisend sterftes en meer as twee-komma-vyf miljoen bevestigde gevalle. Sedert die ontstaan van die virus laat verlede jaar in China, het dit versprei na Suid-Asië en Afrika, waar die hoogtepunt teen die einde van Julie verwag word. Europese lande glo hulle het die situasie onder beheer, maar in die Amerika’s versprei die coronavirus soos ‘n veldbrand. Brasilië se dodetal staan op meer as 57-duisend. Die sterftesyfer is relatief laag in Rusland en Indië, maar sal na verwagting verder styg weens die hoë infeksiesyfer in dié lande.

Die VSA en Brasilië het tans verreweg die meeste totale gediagnoseerde COVID-gevalle. Rusland en Indië volg dan. Suid-Afrika is tans nommer 18 op die lys, maar sal na verwagting binne die volgende 4 weke opskuif.

26 Junie 2020

25 Junie 2020

23 Junie 2020

19 Junie 2020

15 Junie 2020

12 Junie 2020

 

7 Junie 2020

Die Lancet het die artikel wat die malariamiddel hidrochlorokwien as middel teen Covid-19 afskiet, teruggetrek.

27 Mei 2020

26 Mei 2020

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die toets van ‘n malariamiddel teen die coronavirus opgeskort. Dit volg na ‘n studie wat bepaal dat meer mense weens hidroksiechlorokwien sterf as diegene wat dit nie geneem het nie. Die medikasie word gewoonlik gebruik in die stryd teen malaria, maar daar is diegene wat glo dat Covid-19 hiermee behandel kan word. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vroeër aangekondig dat hy die middel as ‘n voorsorg neem. Die WGO sê egter daar is geen bewyse is dat dit enige voordele vir coronaviruspasiënte inhou nie. Die toetse word opgeskort totdat daar bepaal kan word of die middel veilig is om te gebruik.

25 Mei 2020

Die Franse minister van Gesondeheid, Olivier Véran, het opdrag gegee dat die gebruik van die malaria-teenmiddel hidroksiechlorokwien, in die behandeling van pasiënte met Covid-19 hersien moet word. Volgens die Lancet mediese tydskryf kan die middel die risiko van dood verhoog onder mense wat die infeksie opgedoen het. Die Amerikaanse president, Donald Trump, is een van die voorstaanders van die middel in die behandeling van Covid-19. Die Franse regering het die beperkte gebruik vir Covid-19 pasiënte toegelaat ondanks die feit dat dit doeltreffendheid van die middel nog nie bevestig is nie. Véran het die navorsing as onrusbarend beskryf.

22 Mei 2020
Brasilië is die sesde land wat ‘n dodetal van meer as 20-000 weens die coronavirus bereik het, na bykans 1-200 sterftes in die afgelope 24 uur. In dieselfde tydperk is meer as 18-500 nuwe infeksies ook aangemeld, wat die totale getal bevestigde gevalle in Brasilië op meer as 310-000 te staan bring. Net Amerika en Rusland het meer bevestigde gevalle. Kenners waarsku egter dat die werklike getal infeksies waarskynlik baie hoër is. Hulle verwag ook dat die land se uitbreking eers oor ‘n paar weke sy hoogtepunt sal bereik. Die Brasiliaanse president, Jair Bolsonaro het al herhaaldelik die erns van die coronaviruspandemie afgemaak, en ‘n beroep op staatsgoewerneurs gedoen om inperkingsregulasies op te hef.

Die getal kabinetsministers in Suid-Soedan wat positief vir Covid-19 getoets het, het tot tien gestyg. Die land het vroeër vandeesweek bevestig dat die eerste adjunkpresident, Riek Machar en sy vrou, die Minister van Verdediging, Angelina Teny albei die coronavirus opgedoen het. Die Minister van Inligting, Michael Makuei sê alle lede van die land se hoëvlak taakspan oor die coronavirus – buiten die minister van gesondheid- het positief vir Covid-19 getoets en is in self-isolasie. Tientalle lyfwagte en personeellede van die ministers het ook die virus opgedoen.

20 Mei 2020

19 Mei 2020
Die getal bevestigde gevalle van Covid-19 in Indië het die 100-000 kerf verbygesteek, ten spyte van streng inperkingsregulasies wat al vir weke lank geld. Die Ministerie van Gesondheid sê 101-139 mense het tot dusver positief vir Covid-19 getoets, en 3-163 mense is dood. Nuwe gevalle het die afgelope week gemiddeld met meer as vierduisend per dag gestyg. Die land se inperkingstyd is vroeër tot einde Mei verleng, hoewel regulasies reeds verslap word.

Die boonste blok syfers toon hoe die aantal gevalle met ‘n uitkoms al nader beweeg aan die aantal aktiewe gevalle. Die grafieke toon dat hoewel die kurwe platter word vir totale gevalle en sterftes, dit nog lank nie reguit lyne is nie.

18 Mei 2020

14 Mei 2020

13 Mei

Brasilië se aantal bevestigde coronavirusgevalle het dié van Duitsland verbygesteek. Brasilië het nou meer as 177-duisend gevalle teenoor Duitsland se 170-duisend. Europa het intussen begin om inperkings op te hef. Die Brasiliaanse president, Jair Bolsonaro het dit ook duidelik gestel dat hy wil hê dat skoonheids- en haarsalonne weer oopmaak, selfs al word sy land een van die brandpunte van die pandemie. Die aantal coronagevalle sal na verwagting oor die volgende paar weke skerp styg.

 

  • Brittanje het die subsidiëring van salarisse van werknemers wat weens die coronaviruspandemie afgelê is, tot die einde van Oktober verleng. Die land se minister van finansies, Rishi Sunak, sê die regering sal tot die einde van Julie 80 persent van die salarisse betaal. Hy sê werkgewers word volgens die hulpskema gevra om van Augustus tot Oktober ‘n groter bydrae te lewer. Sewe en ‘n half miljoen mense in Brittanje het tydelik hul werk verloor en bykans ‘n miljoen ondernemings is ondersteun wat andersins permanent hul deure sou moes sluit.

  • Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê die coronavirusuitbreking in sommige lande is baie ernstig omdat hulle nie betyds gereageer het op waarskuwings nie. Die WGO sê hy het in Januarie begin waarsku en sedert Februarie lande aangeraai om mense te toets en onder kwarantyn te plaas. ‘n Woordvoerder sê omdat van die lande in die Amerikas en in Europa nie die skade van nuwe aansteeklike siektes in die geheue kan roep nie, is die omvang van die uitbrekings in dié lande erger. Die woordvoerder sê daarenteen het Afrikalande ervaring van nuwe aansteeklike siektes en dít kan die rede wees waarom die aantal gevalle van die coronavirus nie so vinnig en so skerp styg nie.

 

11 Mei 2020
Die Chinese stad Wuhan, wat oorspronklik die episentrum van die coronavirus uitbraak was, het ‘n aantal nuwe gevalle van die gevreesde siekte bevestig. Dit is die hoogste getal in die stad sedert Covid-19 tot ‘n pandemie verklaar is. Die stad het sy grense sowat ‘n maand gelede oopgestel en geen nuwe gevalle is vir etlike dae aangemeld nie. Daar is egter nou 5 nuwe bevestigde gevalle wat die hoogste getal is sedert 11 Maart. In China is daar die afgelope 24 uur 17 nuwe gevalle aangeteken waarvan sewe by buitelandse reisigers bevestig is.

Die Britse eerste minister sê die inperking weens die coronavirus gaan voort, maar maatreëls gaan verslap word. Die Britse ekonomie het weens die inperking bykans sewe weke gelede tot ‘n stilstand gekom. Van die verslappings wat aangekondig is, sluit in dat mense wat nie van die huis af kan werk nie, aangemoedig word om terug te keer na hul werkplek. Hulle word egter aangeraai om openbare vervoer te vermy. Van Woensdag sal Britte ook toegelaat word om sonder enige beperking buite te oefen solank sosiale distansiëring plaasvind. Laerskole en winkels sal in Junie kan heropen en die gasvryheidsbedryf ‘n maand later. Brittanje het sowat 220-000 bevestigde coronavirusgevalle, met meer as 31-000 sterftes.

8 Mei 2020
Brasilië het meer as 600 nuwe sterftes weens die coronavirus aangemeld, te midde van ‘n toenemende politieke geskil oor inperkingsmaatreëls. Meer as negeduisend mense in Brasilië is reeds weens Covid-19 dood, en die land het meer as 135-000 bevestigde gevalle. Die land se Minister van Ekonomie, Paulo Guedes het egter gewaarsku dat die land se ekonomie binne omtrent 30 dae weens inperkingsmaatreëls in duie kan stort. Hy sê die maatreëls kan lei tot voedseltekorte en sosiale wanorde. Die Brasiliaanse president, Jair Bolsonaro is al sedert die begin van die uitbreking in konflik met verskeie goewerneuers wat inperkingsmaatreëls in hulle state ingestel het, en sê die stryd teen die virus behoort nie meer skade te doen as die virus self nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie in Afrika voorspel dat lande op die vasteland binne vier tot ses weke die piek van covid-19-infeksies sal bereik vanaf die punt wat oordraging in gemeenskappe plaasvind. Die WGO sê volgens sy berekeninge moet dit gemiddeld minder as twee maande duur voordat lande hul grootste getal daaglikse infeksies aanteken. Die Suid-Afrikaanse regering beraam egter dat die land eers die piek eers tussen Julie en September sal bereik. Meer as 51-000 positiewe gevalle van die coronavirus is al op die vasteland aangemeld en meer as 2-000 mense is aan die infeksie dood.

Die Bank van Engeland sê Brittanje kan die ergste ekonomiese inkrimping in 300 jaar beleef weens die coronaviruspandemie. Die Bank sê die ekonomie kan in die drie maande tot Junie met 25 persent inkrimp, terwyl werkloosheid tot meer as nege persent van die werksmag kan toeneem. Die sentrale bank sê die vorige inkrimping van die omvang was in die 1700’s toe die land deur rampe en oorloë geteister is. Die Bank voorspel egter dat ekonomiese groei aanstaande jaar weer met 15 persent kan styg.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê hy skaar hom ten volle agter Suid-Afrika se besluit om die gebruik van tabakprodukte tydens die inperking te verbied. Die verbod op tabakprodukte sedert die inperking het reeds wye kritiek ontlok. Die WGO sê hy fokus nie op die gebruik van tabakprodukte in sy stryd teen covid-19 nie, maar die organisasie steun die vermindering van risiko deur produkte te verbied wat mense se respiratoriese gesondheid kan aantas.

7 Mei 2020
Die voorsitter van die regering se adviespaneel oor Covid-19, professor Salim Abdool Karim, sê daar is nie genoeg bewyse vir Madagaskar se bewering dat hy ‘n geneesmiddel vir die siekte ontwikkel het nie. Die owerhede in Madagaskar beweer dat ‘n kruiemiddel van die Artemisia-plant vir die voorkoming en genesing van die coronavirus gebruik kan word. Afrika-lande waaronder, Tanzanië, Liberië en Ekwatoriaal-Guinee het reeds die tonikum bestel. Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku egter dat geen wetenskaplike toetse op die middel gedoen is nie. Karim het Madagaskar versoek om die middel vir wetenskaplike toetse beskikbaar te stel.

Brasilië het ‘n buitengewoon hoë Covid 19 sterftesyfer aangemeld. 615 mense is die afgelope 24 uur in die land weens die siekte dood. Dit is die hoogste dodetal in ‘n enkele dag in die suidelike halfrond. Die president, Jair Bolsonaro, het tot op hede die erns van die pandemie afgemaak en mense aangemoedig om aan te hou werk. Brasilië het nou meer as 120000 gevalle en sowat 500 sterftes. Die syfer styg steeds ondanks die min toetse wat gedoen word. Wetenskaplikes glo dat die ware syfer aansienlik hoër is. Dit is van vandag af verpligtend vir die inwoners van Sao Paulo om maskers in die openbaar te dra.

6 Mei 2020
Die diamantbedryf in die Belgiese stad Antwerpen tel weer kop op ná die inperkingstyd van sowat twee maande. Makelaars, slypers en handelaars het weer begin terugkeer na die Diamantkwartier nadat die bedryf tot stilstand gekom het toe die inperking op 18 Maart ingestel is. Sowat 600 handelaars en 90 persent van die slypers was vir dié tyd sonder werk. Die bedryf kan sy werksaamhede hervat nadat twee van die grootste goudraffineerders in Switserland weer met produksie begin het.

4 Mei 2020:

Die WGO het Swede se aanslag tot vrywillige sosiale afstand en maskerdra geloof as ‘n model vir die wêreld. Swede het nie met wetgewing regulasies ingestel nie, maar het landsburgers gevra om vrywilliglik sekere beskermingsmaatreëls in te stel. Geen skole, restaurante of enige ander bedrywighede is gesluit of verbode verklaar nie. Omdat die landsburgers saamgewerk het, kon die regering fokus op die risikogebiede en -groepe.

https://www.intellectualtakeout.org/who-declares-swedens-covid-response-a-model-for-the-world/

Lande met meer hersteldes as aktiewe siekes, en wat dus oppad is om die stryd teen COVID-19 te wen, sluit in:
Spanje, Duitsland, Turkye, Iran, China, Switserland, Ierland, Israel, Oostenryk, Suid-Korea, Denemarke, Australië, Maleisië, Finland, Luxemborg, Thailand, Griekeland, Uzbekistan, Kroasië, Azerbajan, Ysland, Nieu Zeeland en Lituanië.

Nigerië het sy inperkingsregulasies in die stede Abuja en Lagos verslap in ‘n poging om die ontwrigting van Afrika se grootste ekonomie, te verminder. Die land het meer as tweeduisend-500 gevalle van die coronavirus met 87 sterftes. Die nuwe reëls beteken dat winkels en markte tot drie-uur sake sal kan doen, maar die verbod op godsdienssaamstrekke en ander byeenkomste bly van krag. ‘n Aandklokreël sal ook geld. President Muhammadu Buhari, het onderneem om meer te doen om lewens te spaar en nie burgers se inkomste verder te benadeel nie.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, sê hy glo dat sy land voor die einde van die jaar ‘n entstof teen die coronavirus gereed sal hê. Wetenskaplikes regoor die wêreld poog om so gou as moontlik ‘n entstof te ontwikkel, maar meeste kenners sê ‘n entstof sal eers in 2021 gereed wees vir massaverspreiding.Trump het gepraat tydens ‘n uitsending om sy veldtog vir herverkiesing van stapel te stuur. In Amerika het meer as een-komma-een-miljoen mense die virus opgedoen waarvan 67-duisend mense gesterf het. Wêreldwyd is daar meer as drie-komma-vyf-miljoen bevestigde gevalle met sowat 247-duisend sterftes.

 

1 Mei 2020:
Die Johns Hopkins-universiteit in Amerika sê meer as ‘n miljoen mense wêreldwyd het reeds van die coronavirus herstel. Die getal bevestigde gevalle staan op meer as 3,2 miljoen. Sowat 233-000 mense is tot dusver weens die virus dood.

30 April 2020:
‘n Tronkbewaarder is dood en ‘n aantal mense is beseer na onrus waartydens ‘n tronk aan die brand gesteek is in Freetown in Sierra Leone. Die onrus was volgens berigte ‘n poging om uit die tronk te ontsnap nadat ‘n gevangene simptome van die coronavirus begin toon het. Die tronk het kapasiteit vir sowat 300 gevangenes, maar huisves tans meer as duisend gevangenes. Sierra Leone het 104 bevestigde gevalle van Covid-19, met vier sterftes.

27 April 2020:
Switserland begin van vandag af sy coronavirus inperkingsmaatreëls te verslap. Die land het meer as duisend-600 Covid-19 verwante sterftes en sowat 30-duisend bevestigde gevalle. In ‘n stap om Switserse burgers meer beweegruimte te gee mag tuindienssentrums en haarkappers van vandag af oopmaak. Skole en winkels wat nie kos verkoop nie sal op 11 Mei oopmaak gevolg deur museums en biblioteke op 8 Junie. Die regering sê egter indien daar weer ‘n styging in die getal Covid-19 gevalle is, kan inperkingsmaatreëls weer ingestel word. Die verbod op groepe mense van meer as vyf geld steeds, en mense mag nog nie terugkeer werk toe nie. Daar is nog geen aanduiding van wanneer restaurante en kroeë weer sal oopmaak nie.

24 April 2020:
Die Amerikaanse president, Donald Trump, is skerp deur die mediese gemeenskap gekritiseer nadat hy voorgestel het dat navorsers moet bepaal of die coronavirus behandel kan word deur ontsmettingsmiddels in die liggaam in te spuit, of die liggaam met ultraviolet-lig te bestraal. Dit het gevolg nadat amptenare in Trump se regering gesê het dat sonlig, hitte en ontsmettingsmiddels die virus op oppervlaktes kan doodmaak. Dokters waarsku egter dat dit onverantwoordelik en gevaarlik sal wees om ontsmettingsmiddels of enige tipe skoonmaakmiddel in die liggaam in te spuit of in te neem.

22 April 2020:

Die sekretarisgeneraal van die Verenigde Nasies, Antonio Guterres sê te midde van die impak van die coronaviruspandemie moet die wêreld nie van die omgewingskrisis vergeet nie. Guterres het gepraat op die 50ste herdenking van Aardedag. Hy sê die coronavirus is die grootste uitdaging wat die wêreld sedert die Tweede Wêreldoorlog moes hanteer, maar dat die skerp afname in biodiversiteit en klimaatsverandering ‘n groter krisis tot gevolg kan hê. Volgens Guterres moet daar opgetree word om die planeet teen beide die coronavirus én die bedreiging van klimaatsontwrigting te beskerm.

21 April 2020:
President Donald Trump sê hy gaan ‘n uitvoerende bevel onderteken om tydelik alle immigrasie na Amerika op te skort weens die coronavirus. Trump het in ‘n tweet verwys na ‘n aanval deur die onsigbare vyand — sy term vir die coronavirus — en die belangrikheid om Amerikaners se werkgeleenthede te beskerm. Dit is nog nie duidelik of die president in staat sal wees om die bevel deur te voer nie. Meer as 782-duisend mense in Amerika het die virus onder lede en meer as 41-duisend sterftes is bevestig.

Die getal mense wat positief getoets het vir die coronavirus in Italië, het vir die eerste keer effens gedaal sedert die virus in die land uitgebreek het. Die staat van inperking in Italië duur tot 3 Mei, hoewel sommige sakeondernemings weer sake doen. Meer as 24000 mense in die land het weens Covid-19 gesterf. Italië het naas Amerika en Spanje, die meeste infeksies.

Die lande waar COVID-19 aan die afneem is, en grootliks onder beheer is, is China (waar tans net 1003 aktiewe gevalle is en 921 van dié pasiënte het die siekte net lig of matig) en Suid-Korea.

Die lande waar dit lyk of die siekte ‘n draaipunt bereik het, is Italië, Duitsland, Iran, Switserland, Ierland, Oostenryk en Israel.

Die lande waar die siekte moontlik ‘n draaipunt nader, is Spanje en Frankryk.

Die lande met die meeste gevalle en waar COVID-19 steeds toeneem, is die VSA, Engeland, Turkye, Rusland, België, Brasilië, Kanada, Nederland, Portugal, Indië, Peru, Swede, Japan, Chile, Saudi Arabië, Ekwador en Pole.

Die VSA is bo-aan die lys van lande met die meeste COVID-19 gevalle.

Interessantheidshalwe:

Die siekte staan bekend as COVID-19 (Corona Virus Disease 2019), en die virus staan bekend as SARS-CoV-2 (Serious Acute Respiratory Syndrome Corona virus 2), omdat die virus ernstige longonsteking veroorsaak en volgens alle aanduidings naby verwant is aan die SARS-CoV-1 van 2002/2003.
Lees meer: https://www.who.int/emergencies/diseases/novel-coronavirus-2019/technical-guidance/naming-the-coronavirus-disease-(covid-2019)-and-the-virus-that-causes-it

20 April 2020: Duisende mense het in Tel Aviv in Israel betoog teen die eerste minister, Benjamin Netanyahu, en voortgesette koalisiegesprekke. Hulle het te midde van die betoging streng coronavirus beperkingsmaatreëls nagekom deur gesigmaskers te dra en twee meter van mekaar af te staan. Netanyhu word verbind met drie korrupsie sake, maar ontken dat hy enige oortreding begaan het. Hy onderhandel ook ‘n magsdelingsooreenkoms met sy mededinger, Benny Gantz, om ‘n koalisieregering te vorm wat ‘n politieke dooiepunt sal beïndig na drie onbesliste verkiesings die afgelope jaar. Inwoners beskuldig ook die regering daarvan dat hy die coronaviruspandemie swak hanteer. Israel het meer as 13-duisend bevestigde coronavirus-gevalle met 172 sterftes.

17 April 2020: China se ekonomie het in die eerste kwartaal van die jaar vir die eerste keer in drie dekades gekrimp te midde van die coronaviruspandemie. Die wêreld se tweede grootste ekonomie het met ses-komma-agt persent gekrimp, volgens amptelike data wat vandag vrygestel is. China se ekonomie het einde Januarie tot stilstand gekom toe fabrieke en sake-ondernemings gesluit is te midde van grootskaalse kwarantyn om die verspreiding van die virus te stuit.

Amerika gaan moontlik die geld wat hy aanvanklik vir die Wêreldgesondheidsorganisasie begroot het, na ander hulporganisasies kanaliseer. Die president, Donald Trump, het in sy jongste nuuskonferensie laat blyk dat hy dié stap oorweeg. Trump het opnuut teen die WGO uitgevaar, maar ook gewys op Amerika se hulp aan ander lande soos sy MIV/Vigs-program in Afrika, bekend as PEPFAR, en gesê die wêreld besef nie hoeveel geld Amerika vir sulke programme aanwend nie. Hy het gesê wat by die Verenigde Nasies in die WGO gebeur het, is ‘n skande.

Só styg COVID-19 steeds daagliks in die wêreld.

Motorvervaardigers in Duitsland, insluitend Volkswagen en Mercedes Benz gaan aanstaande week produksie hervat. Die land het inperkingsmaatreëls weens die coronavirus begin verslap.Winkels en skole sal van 4 Mei af gedeeltelik heropen. Volgens die Duitse kanselier, Angela Merkel, het Duitsland gemiddelde sukses behaal in die stryd teen die virus. Die vervaardiging van motors is nooit verbied nie, maar produksie het tot ‘n stilstand gekom toe die beweging van mense ingeperk is. Werk in Volkswagenfabrieke in Suid-Afrika, Argentinië, Brasilië en Meksiko sal eers in Mei hervat word.

 

 

15 April 2020:
Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, sê dit is nie gepas vir Amerika om midde in die Covid-19 pandemie te besluit om sy befondsing aan die Wêreldgesondheidsorganisasie te staak nie. President Donald Trump beskuldig die WGO van wanbestuur en sê hy het die uitbreking en verspreiding van die coronavirus in China stilgehou en moet daarom aanspreeklik gehou word. Guterres sê dit is nou ‘n tyd vir eenheid en dat die internasionale gemeenskap moet saamwerk om die virus en die gevolge daarvan te stuit. Amerika is die WGO se grootste enkele finansierder, en het verlede jaar 400 miljoen dollar, of net minder as 15 persent, tot sy begroting bygedra.

Die polisie in Europa het ‘n oorgrensbedrogspul ontbloot waarin gepoog is om gesondheidsowerhede uit miljoene rand te kul met die verkoop van gesigmaskers wat nie bestaan nie. Die Europese polisieagentskap, Europol, sê die aankopers het namens die Duitse gesondheidsowerhede opgetree. Die swendelaars het vals webwerwe gebruik om die bedrog te pleeg. Die geld is egter teruggevind voordat dit na bankrekeninge in Nigerië oorgeplaas is.

14 April 2020:

Die Internasionale Monetêre Fonds het aangekondig dat hy onmiddellike skuldverligting aan 25 lidlande gaan voorsien. Die geld sal uit sy uit sy Trust vir Rampvoorkoming en -verligting kom. Die IMF se bestuurshoof, Kristalina Georgieva, sê die hulp sal die lande in staat stel om hul aandag op die bekamping van die coronapandemie te bepaal. Georgieva sê die IMF-raad het reeds die eerste groep lande goedgekeur wat toelaes sal ontvang om hul skuld vir ses maande te diens. Sy sê die ramptrust het sowat 500-miljoen dollar beskikbaar, wat onlangse skenkings van Britanje, China en Japan insluit.

Rusland het sy grootste toename in Covid-19-gevalle tot nog toe aangemeld. Dié land se noodbestuursentrum sê die coronavirus is by nóg twee-duisend-vyf-honderd mense gediagnoseer, van wie meer as die helfte in Moskou is. Inperkingsregulasies in die stad is reeds verskerp. Die munisipale owerheid het ook digitale permitte ingestel vir inwoners wat iewers heen wil ry, hetsy met hul eie of openbare vervoer. In ander dele van Rusland het die owerheid egter inperkingsregulasies verslap vir sekere bedrywe soos vir haarkappers.

Die Amerikaanse president het skerp gereageer op kritiek oor die manier waarop hy die corona-uitbreking hanteer het. Meer as 23-duisend Amerikaners is weens die virus dood. Trump het op ‘n mediakonferensie in die Withuis joernaliste geroskam wat daarop gesinspeel het dat hy nie vir die pandemie voorberei het nie. Die Trump-administrasie het intussen aangedui dat inperkingsregulasies van 1 Mei af verslap gaan word. Huidige regulasies om restourante en nie-noodsaaklike reise, asook byeenkomste van meer as tien mense te vermy, verstryk op 30 April.

11 April:

10 April: Die aantal gevalle in New York alleen is op 161000 meer as in enige ander land buiten die VSA.
Die VSA se totaal staan op meer as 468000, byna een-derde van die wêreldtotaal.

9 April: Die getalle staan nou op meer as 1,5 miljoen gevalle, meer as 88000 sterftes en meer as 332000 hersteldes.

8 April: COVID-19 neem steeds toe. die totale aantal gevalle en sterftes het die afgelope 9 dae verdubbel tot meer as 1,4 miljoen, met meer as 82 000 sterftes. Maar dubbeld meer mense het ook herstel en die aantal hersteldes staan op meer as 300 000.

30 Maart 2020:
Daar was sedert die uitbreking van die coronaviruspandemie ‘n merkbare verbetering in die lugkwaliteit in Europese stede waar daar ‘n staat van inperking geld. Lugfoto’s deur die Europese ruimteagentskap toon dat die stede Brussel, Parys, Madrid, Milan en Frankfurt het almal wesentlike laer stikstofvlakke aangemeld sedert inperkingsmaatreëls afgekondig is.

Suid-Korea is die jongste Asiese land wat beperkings plaas op mense wat die land binnekom te midde van kommer oor ‘n nuwe vlaag coronavirusinfeksies van die buiteland. Van 1 April af, sal alle mense wat die land binnekom, verplig word om vir 14 dae in kwarantyn te gaan. Suid-Korea was grootliks suksesvol om die oorspronklike uitbreking van die virus te beperk, maar sê meer as die helfte van die nuwe gevalle, op ‘n daaglikse basis, is afkomstig van ander lande. Suid-Korea het meer as negeduisend-500 Covid-19 gevalle, met die dodetal wat reeds 150 verbygesteek het.

29 Maart 2020:

Die Amerikaanse farmaseutiese maatskappy Abbott Laboratories het ‘n nuwe coronavirustoets ontwikkel wat binne vyf minute ‘n positiewe resultaat kan bevestig. ‘n Negatiewe resultaat word ná 13 minute bevestig. Abbott is van plan om die toets-toestel teen volgende week te versprei en sal sowat 50 duisend eenhede per dag vervaardig.

Lees meer: Só werk die virus –  Wat die virus doen, hoe dit aansteek en die voorsorgmaatreëls wat jy kan tref.

Die lys van lande waar COVID-19 die vinnigste toeneem

Die aantal nuwe gevalle neem die vinnigste toe in Spanje, gevolg deur Iran, die VK, België, Nederland, Portugal, die VSA en Switserland. (Sien tabel).

Die dodetal weens die corona-uitbreking in Italië het tot meer as 10000 gestyg. Volgens amptenare is 890 mense die afgelope 24 uur weens die virus dood. Dit is die tweede hoogste daaglikse syfer sedert die pandemie in Februarie uitgebreek het.

Die aantal mense wat die coronavirus regoor die wêreld opgedoen het het tot bykans 650000 gestyg. Die dodetal staan op meer as 30000. Meer as 2000 mense het weens COVID 19 reeds in Amerika gesterf, waar sowat 122000 gevalle aangemeld is. Dit is die hoogste syfer ter wêreld. President Donald Trump het dit oorweeg om New York, New Jersey en die staat Connecticut in afsondering te plaas in ‘n poging om die verspreiding van die virus te keer. Hy het egter afgesien van die plan nadat hy met die goewerneurs van die drie state en die Withuis se corona-taakspan onderhandel het.

28 Maart 2020: Byna 600 000 gevalle wêreldwyd.

Van die byna 600 000, is slegs sowat 82 000 in China.

Die VSA het nou die meeste gevalle, gevolg deur Italië.

Die gevalle in Duitsland is vinnig aan die toeneem, maar die sterftekoers bly steeds laag en baie laer as in Italië. Kyk na vandag se tabel hieronder.

 

Die lande met die meeste gevalle van COVID-19. Italië, Spanje en Switserland het die hoogste COVID-koerse, wat beteken dat ‘n groter persentasie van dié bevolkingsgroepe siek word. Italië en Spanje het die hoogste sterftekoers. meer as 60 keer meer mense sterf in dié twee lande vergelyking met hul bevolkings as in in China.

Kyk hoe die getalle in China, Italië, die VSA en Suid-Korea  toeneem/afneem

China: Die boonste grafiek toon hoe daar elke dag minder en minder nuwe gevalle van COVID-19 is. Die skielike onlangse piek is nadat mense van die buiteland in China aangekom het en weer van die buiteland die virus die land ingebring het. Die onderste grafiek toon duidelik dat die aantal mense wat steeds siek is, aanhoudend afneem.

Italië: Die boontste grafiek toon dat die aantal nuwe gevalle per dag net nie wil begin daal nie, en die onderste grafiek toon dat die aantal mense wat steeds siek is, steeds toeneem.

VSA: Die boonste grafiek toon hoe die aantal nuwe gevalle per dag vinnig toeneem, en die onderste grafiek toon dat die aantal siekes ook steeds toeneem.

Suid-Korea. Dié land word naas die groot sukses van Taiwan, ook as ‘n model voorgehou oor hoe om die pandemie vinnig onder beheer te bring. Die aantal nuwe gevalle neem af en bly laag, en die aantal siekes neem af.

Kyk hoe briljant het Taiwan die verspreiding van die virus gekeer. Die eerste geval is op 20 Januarie aangemeld, en sedertdien was daar slegs 267 gevalle en 2 sterftes.

27 Maart 2020: Die VSA het nou meer gevalle as China.

26 Maart 2020: Wêreldwyd staan die aantal gevalle op meer as 515000, met meer as 23000 sterftes.

Die President van Botswana, Mokgweetsi Masisi, het sy burgers gewaarsku om ook voorbereidings te tref vir ‘n inperkingstydperk. Masisi is self in afsondering vir veertien dae ná ‘n besoek aan Namibië. Drie gevalle van Covid-19 is tot dusver in Namibië aangemeld. Die regering van Botswana glo dat daar ‘n geringe kans vir oordrag is, maar is bekommerd oor die min toetse wat tot dusver gedoen is. Masisi sê die inperkingstydperk is op aanbeveling van mediese kenners. Hy sê beperkings op burgers se bewegings sal die regering in staat stel om moontlike gevalle op te spoor en te behandel.

Die lande met die meeste gevalle van COVID-19

Iran het ‘n interstedelike reisverbod ingestel te midde van vrese dat ‘n tweede vlaag van coronavirus-infeksies die land kan tref. Iran is die Midde-Oosterse land wat die ergste deur die pandemie geraak word. Mense wat vir die Irannese Nuwejaarsvakansie gereis het, moet onmiddellik na hul stede terugkeer. Die sluiting van universiteite en skole, asook die verbod op byeenkomste, is verleng.

Brittanje sê Prins Charles het nie op voorregte aangedring om vir die Coronavirus getoets te word toe hy simptome begin toon het nie.

Só lyk die steeds stygende grafieke op 26 Maart 2020.

Clarence House sê hy het positief getoets vir Covid-19, maar dat hy verder goeie gesondheid geniet. Hy en sy vrou, Camilla Parker-Bowles, is tans in afsondering in Skotland. Daar was kritiek toe dit bekend geword het dat die troonopvolger getoets is terwyl mediese werkers nie getoets is nie.

25 Maart 2020: Wêreldwyd staan die aantal gevalle op meer as 435 000, met byna 20 000 sterftes.

Leiers van die Groep van 20 groot nywerheidslande gaan môre ‘n virtuele beraad hou in reaksie op die wêreldwye coronaviruspandemie wat in baie lande steeds toeneem. Nieu-Seeland is die jongste land wat ‘n noodtoestand afgekondig het.
Wêreldwyd is daar nou meer as 420-000 bevestigde gevalle, met meer as 18-000 sterftes.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku intussen dat Amerika die volgende brandpunt van die pandemie gaan wees waar daar ‘n skerp toename is van die siekte. In die deelstaat New York is daar meer as 25-600 gevalle en 210 sterftes. Die totale bevestigde gevalle in Amerika is nou meer as 55-duisend, met nagenoeg 800 sterftes. New York se strate is feitlik verlate, hoewel die kurwe van die uitbreking steeds styg.

18 Maart 2020: SA = 116 gevalle.

Die lande met die meeste aktiewe gevalle op 18 Maart 2020. Bron: https://www.worldometers.info/coronavirus/

17 Maart 2020: Die Covid-19 pandemie is steeds besig om vinnig uit te brei, veral in Europese lande.

Die aantal bevestigde gevalle het sedert 2 Maart van sowat 90 000 binne 15 dae verdubbel. Dit het 22 dae geneem om van 45000 tot 90 000 te verdubbel.

In Suid-Afrika staan die getal bevestigde gevalle op 64, terwyl dit ook in al meer lande in Afrika voorkom.

In China het meer as 68 000 van die net meer as 80 000 siek mense reeds herstel en is slegs 21 nuwe gevalle die afgelope 24 uur aangemeld, terwyl Italië, Spanje, Duitsland, Frankryk, Switserland, Engeland, België, Nederland, Oostenryk en die Skandinawiese lande en ook die VSA nou die meeste nuwe gevalle aanmeld. Die virus het nou ook die Karibiese eilande bereik.

Die gevalle buite China op 5 Maart 2020 tot die wêreldtotaal op sowat 90000 gestaan het

Die gevalle buite China op 16 Maart, toe die totale aantal gevalle in die wêreld dubbeld so hoog geword (byna 180000) het as op 5 Maart se 90000.

China se department van buitelandse sake het burgers aangeraai om nie na lande te reis wat ‘n hoë risiko vir die coronavirus het nie. Chinese word gewaarsku teen reise na onder meer Europa, Amerika en Iran. China het ook maatreëls verskerp om te verhoed dat nuwe infeksies die land binnekom.

Byna netsoveel mense het al herstel van COVID-19 as wat tans siek is. Sowat 8% van die afgehandelde gevalle het gesterf, en tans is sowat 7% van dié wat steeds aktief siek is, kritiek siek. Die twee grafieke toon dat die aantal nuwe siekes en nuwe sterftes steedd daagliks vinning toeneem. In China het die meeste mense reeds herstel en is die aantal nuwe gevalle en sterftes duidelik aan die afneem.

Nog 368 mense is in Italië dood weens die coronavirus, die hoogste syfer vir ‘n enkele dag. In Lombardy, die gebied wat die ergste geraak word, het 252 mense gesterf. Intussen het Duitsland tydelik beheer by grensposte na Frankryk, Switserland en Oostenryk aangekondig. Dit tree vandag in werking. Ander lande van die Europese Unie het ook drastiese maatreëls in werking ingestel. In Oostenryk word byeenkomste van meer as 5 mense van vandag verbied. Skole in Nederland is tot Maandag 6 April, gesluit. Dit volg op streng maatreëls wat Frankryk en Spanje Saterdag ingestel het.

13 Maart 2020: Kenia het alle massa-byeenkomste opgeskort nadat ‘n persoon wat vanaf Amerika via Londen gereis het, positief getoets het vir die Coronavirus. Daar is meer meer as honderd bevestigde gevalle in Afrika waaronder Egipte, Algerië en Kameroen. In Suid-Afrika is sestien gevalle aangemeld.

Die situasie op 13 Maart 2020 volgens die WGO. https://experience.arcgis.com/experience/685d0ace521648f8a5beeeee1b9125cd. Vergelyk dié grafiek met die soortgelyke grafieke na onder in die artikel.

Die VSA se reisverbod na en van lande geld vir verskeie lande. Besoek die webwerf vir ‘n interessante uiteensettiing van COVID-19 inligting: https://www.bbc.com/news/world-51235105

12 Maart: Amerika het hom daartoe verbind om sowat agt miljoen rand aan die Suid-Afrikaanse regering beskikbaar te stel om te help met die hantering van die COVID-19 pandemie. Amerika het intussen ‘n reisverbod van 30 dae vanaf Europa ingestel, nadat meer as duisend Amerikaners positief vir die siekte getoets het.

Die Minister van Gesondheid, Zweli Mkhize sal vandag met die provinsiale werkkomitee in Limpopo vergader om hulle op hoogte te bring van die proses om 122 Suid-Afrikaners uit die Chinese stad Wuhan na Suid-Afrika terug te bring. Sewe van die Suid-Afrikaners is van Limpopo afkomstig.

11 Maart: Is daar meer as een stam van die virus wat COVID-19 veroorsaak? Lees: https://www.newscientist.com/article/2236544-coronavirus-are-there-two-strains-and-is-one-more-deadly/

‘n Britse junior minister van Gesondheid en parlementslid, Nadine Dorries, het positief getoets vir die coronavirus. Dorries is die eerste Britse parlementslid wat Covid-19 opgedoen het en is in self-afsondering by die huis.

10 Maart: Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het bevestig dat die getal Suid-Afrikaners wat die virus onderlede het, tot sewe gestyg het, nadat ‘n bykomende vier mense positief gediagnoseer is. Hulle was deel van die groep van tien wat Italië besoek het. Italië is die land in Europa wat die meeste gevalle van Covid-19 het.

Dit is duidelik dat volgens die aantal nuwe gevalle wat per dag aangemeld word, China besig is om die stryd te wen, dat die aantal nuwe gevalle in Iran en Suid-Korea ook aan die verstadig is, maar dat dit nog die geval in Italië, Spanje, Amerika en Frankryk is nie. Dit lyk of die kans op oorlewing die hoogste is in Duitsland.

Die Italiaanse eerste minister, Giuseppe Conte gaan vandag ‘n dekreet uitvaardig genaamd, “Ek bly tuis”.

5 Maart 2020: Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare siektes het die eerste geval van die Corona COVID-19 virus in Suid-Afrika bevestig. Die Minister van Gesondheid, Zweli Mkhize, het in ‘n verklaring bekendgemaak dat ‘n 38-jarige man die virus het. Hy en sy vrou het in Italië gereis. Hulle was deel van ‘n groep van tien mense wat op 1 Maart na Suid-Afrika teruggekeer het. (Lees meer: https://www.news24.com/SouthAfrica/News/breaking-sas-first-positive-case-of-covid-19-confirmed-20200305) en https://www.news24.com/SouthAfrica/News/live-coronavirus-in-south-africa-all-the-latest-news-and-updates-20200305

Die statistieke soos op 5 Maart 2020.

Vergelyk die kaart met die soortgelyke een onder.

4 Maart 2020: ‘n Groot aantal nuwe gevalle is in Iran, Suid-Korea, Duitsland, Spanje en Switserland aangemeld.

Die lande met die meeste gevalle op 5 Maart 2020.

Vergelyk die kaart met die soortgelyke een van die WGO onder.

3 Maart 2020: Al meer kongresse en byeenkomste in Europa en die Midde-Ooste word nou ook gekanselleer. COVID-19 is nou in 76 lande.

2 Maart 2020: Byna 90000 gevalle, meer as 3000 sterftes in 70 lande. Dit het sedert Vrydag, dus binne drie dae, na nóg 14 lande versprei. Van die nuwe lande is Portugal, Andorra, Skotland, Tseg Republiek, Armenië, die Dominikaanse Republiek, Ierland, Luxemburg, Katar, Ekwador, Mexiko, Monaco en Ysland.

Die beroemde Louvre-museum in Parys is vir ‘n tweede dag gesluit weens die personeel se vrese oor die coronavirus. Museums, toeristebestemmings en temaparke is nie ingesluit in die regering se verbod op groot byeenkomste wat Saterdag afgekondig is nie.

Twee dokters in Australië het die coronavirus opgedoen, wat die eerste gevalle is waar mense in die gemeenskap die siekte aan mekaar oordra.

Egipte en Nigerië het elk een bevestigde geval. Die adjunk-direkteur van die sentrum, Ahmed Ogwell, sê hulle werk nou saam met die owerhede in China om die verspreiding van die virus hok te slaan.

Net die lande in grys was op 2 Maart nog sonder COVID-19. Bron: https://www.bbc.com/news/world-51235105

28 Feb 2020: Die aantal gevalle staan op byna 84000, byna 3000 sterftes in 56 lande. Nuwe gevalle word die afgelope paar dae teen 4 – 6 nuwe lande per dag gediagnoseer.

In China is minstens 6 gesondheidspersoneellede dood en het 1716 COVID-19 opgedoen. (https://www.bbc.com/news/world-asia-china-51501005).

27 Feb 2020: Die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) het intussen bevestig dat daar vir die eerste keer meer nuwe gevalle van die coronavirus in lande, buite China, aangemeld word, as in China self.

Gesondheidsowerhede in China sê sowat 14 persent van pasiënte wat herstel het van die nuwe coronavirus, COVID-19, en uit die hospitaal ontslaan is, het weer positief getoets vir die virus. Dieselfde verskynsel is in Japan aangemeld nadat ‘n vrou in haar veertigs vir die tweede keer positief getoets het nadat sy ontslaan is.

Die eerste minister van Japan, Shinzo Abe, het gevra dat alle skole vir ‘n maand gesluit word. Dit geld vanaf Maandag tot aan die einde van Maart. Waarnemers sê die tydelike sluiting van skole is ‘n aanduiding van hoe ernstig die Japannese owerhede die Corona-bedreiging beskou.

Saoedi-Arabië het die besoek van buitelandse pelgrims aan Mekka en Medina as ‘n voorsorgmaatreël teen die verspreiding van die COVID-19 virus opgeskort. Die Saoedi ministerie van buitelandse sake sê hy gaan ook tydelik toegang weier aan toeriste van lande waar die virus ‘n bedreiging is.

Nog sportgeleenthede word deur die verspreiding van die coronavirus geraak. Die Ierse rugbyunie het sy Sesnasie-wedstryd teen Italië op 7 Maart in Dublin uitgestel op aanbeveling van die land se gesondheidsowerhede. Die Italiaanse gholfspelers, Edoardo Molinari and Lorenzo Gagli, is intussen in kwarantyn in Muscat nadat hulle moes onttrek uit die Oman Ope wat vandag begin. Gagli het vandeesweek griepsimptome getoon, en is saam met Molinari wat sy kamermaat was, as ‘n voorsorgmaatreël afgesonder. Daar is nog geen formele planne om die Tokio Olimpiese Spele uit te stel nie, maar die Internasionale Olimpiese Komitee sê hy hou ontwikkelings fyn dop.

14 Feb 2020: Die groot sprong in die aantal gevalle tussen 11 en 12 Feb kan verklaar word deur die verandering in die WGO se definisie van aangemelde gevalle (https://www.worldometers.info/coronavirus/how-to-interpret-feb-12-case-surge/) wat beteken dat almal wat siek was en herstel het en die sterfgevalle, en ook word mense met enige simptome nou ook beskou word as COVID-19 gevalle, al het die virustoets nog nie bevestig dat die gevalle wel positief is nie. Dié syfer van onbevestigde gevalle is 13332.

13 Feb 2020: Die Coronavirus wat verantwoordelik is vir die huidige uitbreking, staan nou amptelik as COVID-19 bekend.

CO = Corona
VI = Virus
D= Disease
2019 = die jaar waarin die virus geïdentifiseer is.

12 Feb 2020: Japan het bevestig dat nog 39 mense aanboord van ‘n passasierskip in die hawe van Yokohama, suid van Tokio, positief getoets het vir die coronavirus. Die boot verteenwoordig die groot enkele uitbreking van die virus buite China, met ‘n totaal van 175 bevestigde gevalle. Die res van die Diamond Princess se sowat tweeduisend-600 passasiers en meer as duisend bemanning bly in kwarantyn.

11 Feb 2020: China het verskeie senior amptenare uit hul poste verwyder oor hul hantering van die uitbreking van die coronavirus. Die dodetal wat vanoggend aangekondig is, staan op 1016. Meer as 42-duisend gevalle is reeds in China bevestig, met nog 319 in verskeie ander lande.

10 Feb 2020: Die hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie, Tedros Ghebreyesus, het gewaarsku dat die verspreiding van die coronavirus buite China kan toeneem. Hy sê mense word siek wat nog nooit in China was nie.

Die aantal mense wat weens die Coronavirus dood is, het intussen met 97 gestyg. Dit is die grootste styging in een dag. Die totale aantal sterftes in China staan nou op 908, met meer as 40 000 mense wat siek is. Minstens 180 000 mense word gemonitor.

Lees ook:

Tydlyn van die verspreiding van die Corona uitbreking https://www.aljazeera.com/news/2020/01/timeline-china-coronavirus-spread-200126061554884.html

en

https://www.aljazeera.com/news/2020/02/cloneofcloneofcloneof200215224437270-20021623180-200218231013395.html

Statistieke oor die huidige uitbreking: https://www.worldometers.info/coronavirus/

Lees meer oor die Corona-virus uitbreking: https://www.webmd.com/lung/news/20200124/coronavirus-2020-outbreak-latest-updates

Nuusflitse

3 Feb 2020: Die hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie, Tedros Adhanom Ghebreyesus, het lande wat probeer om die verspreiding van die coronavirus hok te slaan, gevra om nie onnodig maatreëls in te stel wat kan inmeng met internasionale handel en mense wat reis nie. Hy sê sy versoek is waarskynlik te laat aangesien verskeie lande reeds vlugte na China gekanselleer het.

Die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika, Lin Songtian, sê China is optimisties dat hy die verspreiding van die coronavirus na Afrikalande gaan bekamp. Die dodelike virus het reeds die lewens van meer as 360 mense geëis en sowat 17-duisend mense wêreldwyd is besmet. Daar is nog geen geval in Suid-Afrika aangemeld nie. Pandor sê die Suid-Afrikaanse regering verwelkom die skenking deur die privaatsektor.

Gesondheidspersoneel in Hong Kong het intussen met ‘n staking begin. Hulle eis dat die grens tussen Hongkong en die Chinese vasteland gesluit word om die verspreiding van die coronavirus te beperk. Die regering het so ver 10 van sy 13 grensposte gesluit. Gesondheidspersoneel sê die sluiting van die grens is die enigste manier om die gebied te beskerm. Die regering het tot dusver besoekers van die Chinese vasteland beperk, maar wil nie gehoor gee aan oproepe dat al die grensposte gesluit word nie.

29 Jan 2020: Die Duitse lugdiens, Lufthansa, het al sy eie vlugte en ook dié van Switserse en Oostenrykse lugdienste na en van China tot minstens 9 Februarie opgeskort weens kommer oor die coronavirus. Lufthansa sê vlugte na Hong Kong sal voortgesit word. Die amptelike dodetal in China staan op 132 en nuwe gevalle word dwarsoor die wêreld aangemeld.

Die eerste vliegtuig met buitelandse burgers wat uit die stad Wuhan in China ontruim is, het vroeër vandag in Tokio geland. Die 206 Japanese burgers het skanderings ondergaan voordat hulle toegelaat is om die vliegtuig te verlaat. Drie verdere gevalle van die coronavirus is in Duitsland bevestig en een in Japan. Die dodetal staan tans op 132.

Deur Marí Hudson