David Kramer stel KaapKreools op video bekend


Met Suid-Afrikansers nou in ’n staat van inperking as gevolg van die Covid-19-viruspandemie, is verskeie feeste en vertonings uitgestel, onder meer David Kramer se KaapKreools – ’n musiekproduksie vervaardig deur die Cape Town Music Academy (CTMA), wat op 27 April in die Kunstekaap by die Suidoosterfees sou debuteer. Maar die KaapKreools-vervaardigers en -geselskap het besluit die vertoning moet voortgaan te midde die krisis!

Om Kapenaars onder korona-huisarres se gemoedere in dié uitdagende tyd te lig, het hulle ’n aanlyn video-weergawe van een van die produksie se liedjies, “Welcome to Cape Town” gemaak. Kramer het die lirieke ’n bly-by-die-huis boodskap gegee en saam met die CTMA ’n heupswaai-musiekvideo geskep, waarin KaapKreools-musikante en ’n groep van Kaapstad se bekendste en gewildste kunstenaars verskyn.

David Kramer

Kramer is opgewonde oor dié initiatief: “Ek en wyle Taliep Petersen het ‘Welcome to Cape Town’ geskryf. Die idee was om besoekers aan te moedig om na Kaapstad te kom en om die Kaapse gees te geniet. Maar vandag, as gevolg van Covid-19, het ons geen besoekers nie en die strate is leeg – die totaal teenoorgestelde beelde as was wat die liedjie gevier het. Dit het my die idee gegee om die lirieke te herskryf en so ons huidige situasie te beskryf. Ek hoop dit sal bietjie vreugde en humor bring in hierdie vreemde tye.”

Schalk Joubert

Die #TsekCorona!-video is geheel en al op selfone verfilm. Benewens die KaapKreools-musikante, spog die video met van Kaapstad se bekendste kunstenaars, wat saam met lede van die Kaapse publiek ook hulle video’s ingestuur het om te wys hoe hulle in en om hul huise pret het deur in isolasie te dans. Die ander kunstenaars is Emo Adams, Loukmaan Adams, David Kramer, Donveno Prins, Camillo Lombard, Schalk Joubert en Tim Rankin.

Loukmaan Adams